LEUENS, MISLEIDING EN REGS-TEENSTRYDIGHEID:
ANC SE BRANDBESTRYDINGSPOEL-SAGA BEDREIG DEMOKRASIE
Uitgereik deur die FW de Klerk-stigting op 24/01/2024
In onlangse onthullings het Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, in die openbaar erken dat die party Parlement opsetlik mislei het oor die omstrede “brandbestrydingspoel” wat by oudpresident Jacob Zuma se Nkandla-woning gebou is. Hierdie erkenning onderstreep ‘n blatante magsmisbruik en minagting van die kieserspubliek deur hierdie politieke groepering, aangesien die ANC die besteding van openbare geld vir die bou van die “brandbestrydingspoel” geregverdig het as ‘n veiligheidsmaatreël, terwyl die Openbare Beskermer se bevindinge uitdruklik daarna verwys het as ‘n swembad. Die konstitusionele hof se uitspraak wat Zuma beveel het om die geld terug te betaal, wys ook spesifiek daarna as ‘n swembad. Mbabula se onthulling ontbloot ‘n wyer voorkoms van oneerlikheid op die hoogste vlakke van regering en dit vereis ‘n kritiese ondersoek vanuit verskillende perspektiewe.
Vanuit ’n grondwetlike perspektief werp die regerende party se onthulling ’n donker skadu oor die beginsels van aanspreeklikheid en deursigtigheid wat in Suid-Afrika se Grondwet verskans is. ’n Parlementêre komitee is saamgestel om die opgraderings aan Nkandla te ondersoek na aanleiding van die destydse Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, se Nkandla-verslag. Om vir die Parlement leuens te vertel is ‘n kriminele oortreding kragtens die Wet op die Bevoegdhede, Voorregte en Immuniteite van die Parlement en Provinsiale Wetgewers, 2004. Die Hooggeregshof-uitspraak in die S v Yengeni-saak stel dit soos volg, “As die Parlement mislei word, of indien individuele lede daardeur mislei word, hetsy uitdruklik of deur die weerhouding van inligting wat openbaar gemaak moet word, is dit vanselfsprekend dat hulle bedrieg is indien die bedoeling om te mislei aanwesig was in die gedagtes van die oortreder.” Dit beklemtoon die erns van die ANC se laakbare optrede om die President te beskerm toe Parlement vrae begin vra het. Die parlement het immers die taak om die uitvoerende gesag van die regering deur die Grondwet tot verantwoording te roep en toesig te hou oor dié se uitvoering van gesag.
Die erns van die erkenning dat die uitvoerende gesag die party vóór die land gekies het en vir die Parlement leuens vertel het, word meer verwarrend as dit oorweeg word teen die agtergrond van Tony Yengeni se vorige skuldigbevinding oor misleiding van die Parlement, wat die regsgevolge beklemtoon vir diegene wat probeer om die wetgewende liggaam te mislei.
Die grondwetlike implikasies van die ANC se optrede strek verder as net die regsgevolge. Dit troef die kern van Suid-Afrika se demokrasie – en daag die skeiding van magte tussen die verskillende takke van die regering uit en die Parlement se vermoë om die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep. Die ANC se uitlating ondermyn die publiek se vertroue in die demokratiese proses en laat vrae ontstaan oor die doeltreffendheid van demokratiese instellings om deursigtigheid en verantwoordbaarheid te verseker.
Ten slotte, die ANC se erkenning dat Parlement mislei was oor die Nkandla-“brandbestrydingspoel”, laat nie net die spreekwoordelike rooi ligte flikker nie, maar hou ook ‘n wesenlike gevaar vir in vir Suid-Afrika se demokratiese bedeling. Vir hierdie doel doen die Stigting ‘n beroep dat diegene wat die Parlement mislei het, tot verantwoording geroep word en regsaanspreeklik gehou word vir hul laakbare optrede.