Ondersteun die werk van die FW de Klerk-stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
KULTUURREGTE MOET PRAKTIESE BETEKENIS HÊ
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck en Mpone Komako namens die FW de Klerk Stigting op 01/10/2026
Inleiding
Kultuurregte klink dikwels abstrak, maar hul betekenis word duidelik en baie prakties wanneer ons sien hóé hierdie regte mense raak. Artikel 31 van die Grondwet beskerm mense wat aan kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe behoort. Dit gee hulle die reg om hul kultuur te geniet, hul godsdiens te beoefen, hul taal te gebruik en verenigings en ander organe van die burgerlike samelewing te vorm en in stand te hou.
Soos die FW de Klerk Stigting se Verslagkaart oor Kulturele-, Godsdiens- en Taalregte 2026 (“KGT-verslagkaart”) egter toon, vereis die beskerming van kultuurregte meer as bloot die erkenning daarvan in die Grondwet. Dit vereis ook praktiese maatreëls wat gemeenskappe in staat stel om hul kulturele lewe te handhaaf en daaraan deel te neem.
Ontwikkelings wat praktiese betekenis gee
Aan die begin van die jaar het die Departement van Binnelandse Sake die eerste Slim-ID wat ’n Khoi- of San-tradisionele naam erken, aan die 18-jarige !Khūboab Oedasoua Lawrence oorhandig. Lede van Khoi- en San-gemeenskappe het lank probleme ondervind om inheemse name te registreer weens die tegniese ortografieë en skryfstelsels wat met hierdie tale geassosieer word. !Khūboab was geen uitsondering nie, en sy naam is gedurende die eerste 18 jaar van sy lewe nie deur die Departement se stelsel aanvaar nie. Die Departement se stelsel is daarna opgegradeer om hierdie karakters op amptelike dokumente te akkommodeer. Die Stigting stem saam met die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad dat hierdie maatreël ’n praktiese en herstellende reaksie op historiese taalkundige marginalisering is.
Gebruiklike inisiasie bied een voorbeeld. Op 29 Julie 2026 het die Kabinet berig dat 47 ingewydes tydens die winterinisiasieseisoen gesterf het en dat 93 gehospitaliseer is. Daar is ook berig oor 161 strafregtelike ondersoeke, die sluiting van onwettige inisiasieskole en die redding van 181 ingewydes. Hierdie syfers toon die omvang van die veiligheidskwessies rondom sommige inisiasiepraktyke en die omvang van staatsingryping.
Vroeër vanjaar is 63 Khoi- en San-voorvaderlike menslike oorskot by die Kinderlê-monument in Steinkopf in die Noord-Kaap herbegrawe nadat dit uit museums in Europa gerepatrieer is. Die oorskot is gedurende die laat 19de en vroeë 20ste eeue uit grafte verwyder. Die repatriasieproses het kulturele leiding en toesig deur verteenwoordigers van Khoi- en San-kulturele groeperings ingesluit.
Daar is ook die Wetsontwerp op Tradisionele en Khoi-San-Leierskap wat tans voor die Parlement dien. Hierdie wetsontwerp maak voorsiening vir strukture wat onder meer ’n Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-Leiers insluit en bepaal rolle vir tradisionele en Khoi-San-rade. Dit is belangrik omdat die wetsontwerp die erkenning en funksionering van tradisionele en Khoi-San-gemeenskappe voor die Parlement geplaas het. Die oorweging daarvan is dus nie slegs relevant vir tradisionele leierskap nie, maar ook vir die wyse waarop gemeenskappe deelneem aan instellings wat met hul kulturele identiteit verbind is.
Laastens het die Konstitusionele Hof se uitspraak in Sustaining the Wild Coast NPC v Minister of Mineral Resources and Energy betrekking gehad op ’n eksplorasiereg vir olie en gas langs die Wildekus. Belangrik is dat die Hof bevestig het dat kulturele en geestelike belange relevant is wanneer die Staat besluite neem wat gemeenskappe en plekke raak wat deel vorm van hul kulturele en ekonomiese lewens.
Die ontwikkelings van 2026 toon dat artikel 31 nie ’n abstrakte grondwetlike belofte is nie. Dit raak amptelike identiteitsdokumente, die hantering van voorvaderlike menslike oorskot, tradisionele instellings, omgewingsbesluite en gebruiklike praktyke.
Beskerming van kultuurregte
Die beskerming van kultuurregte beteken nie dat kulturele praktyke buite die reg geplaas word nie. Artikel 31 stel dit uitdruklik dat kulturele, godsdienstige of taalgemeenskappe nie hul regte ingevolge artikel 31 mag uitoefen op ’n wyse wat onbestaanbaar is met die Handves van Regte nie. Verder is dit belangrik is dat die Staat, soos met alle regte in die Handves van Regte, kultuurregte mag beperk, maar slegs kragtens ʼn algemeen geldende regsvoorskrif wat voldoen aan die toets wat in artikel 36 van die Grondwet neergelê word. Een van die vereistes van hierdie toets is dus dat enige regulering van kulturele praktyke moet voldoen aan die vereiste dat daar geen ander minder beperkende wyse beskikbaar is nie.
Ons leef ook in ’n deelnemende demokrasie, en dit beteken dat kulturele gemeenskappe nie bloot die onderwerp is van besluite wat oor hul kultuur geneem word nie. Hulle móét ’n betekenisvolle rol speel in die vorming van daardie besluite. Kultuurregte kry groter betekenis wanneer gemeenskappe kan deelneem aan die bepaling van hoe hul erfenis, identiteit en praktyke erken en beskerm word.
Slot
Die ontwikkelings wat hierbo bespreek is, toon hoe belangrik dit is dat kultuurregte in die praktyk verwesenlik word. Die erkenning van Khoi- en San-name, die herbegrafnis van voorvaderlike menslike oorskot, groter aandag aan kulturele deelname en die regserkenning van kulturele belange het almal die regte versterk wat deur artikel 31 beskerm word.
Terselfdertyd toon die voortgesette sterftes en beserings wat met gebruiklike inisiasie verbind word die behoefte aan noukeurig geteikende regulering. Die Staat moet lewe en veiligheid beskerm sonder om wettige kulturele praktyke onnodig te beperk.
Oor die algemeen was die oorheersende tendens in 2026 een van erkenning, insluiting en beskerming. Hoewel belangrike uitdagings steeds bestaan, het die verslagtydperk betekenisvolle vooruitgang getoon in die praktiese verwesenliking van die kultuurregte van Suid-Afrika se diverse gemeenskappe.

KOALISIESTABILITEIT MAG NIE WERKSEKERHEID VIR BURGEMEESTERS WORD NIE
Terwyl Suid-Afrika ’n nuwe era van munisipale koalisieregering betree, mag politieke stabiliteit nie ten koste van verantwoording en dienslewering geskied nie. Die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture poog om gereelde veranderinge in burgemeestersleierskap te beperk, maar wek kommer dat swak presterende burgemeesters teen ondersoek beskerm kan word. Koalisiestabiliteit moet uiteindelik demokratiese toesig versterk, doeltreffende regering verseker en munisipale leiers aanspreeklik hou teenoor die gemeenskappe wat hulle dien.

RASIONALISERING VAN HOWE: OM GEREGTIGHEID NADER AAN DIE MENSE TE BRING
Suid-Afrika se rasionalisering van howe het ten doel om toegang tot geregtigheid te verbeter deur Hooggeregshofdienste nader aan gemeenskappe te bring, vervoerkoste te verminder en agterstande in hofsake aan te spreek. Hierdie artikel ondersoek die grondwetlike belang van toeganklike howe, regterlike kapasiteit, verpligte mediasie en die regering se planne om die regstelsel landwyd te versterk.

FW DE KLERK STIGTING DOEN ’N BEROEP OP VREEDSAME PLAASLIKE REGERINGSVERKIESINGS
Die FW de Klerk Stigting doen ’n beroep op vreedsame plaaslike regeringsverkiesings en veroordeel geweld en intimidasie teen kandidate, veldtogwerkers en kiesers. Elke burger moet hul grondwetlike politieke regte vrylik en sonder vrees kan uitoefen. Politieke leiers, wetstoepassers en kiesers het almal ’n rol om te speel om vrye, regverdige en vreedsame verkiesings te beskerm