
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
KAN SUID-AFRIKA NOG 'N GEBREKKIGE TRANSFORMASIEFONDS BEKOSTIG?
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 04/02/2025
Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging se onlangse voorstel om ’n Transformasiefonds van R100 miljard te loods, het ’n storm van debat ontketen. Die fonds word as ’n kritieke hulpmiddel verkondig om ekonomiese insluiting te bevorder en poog om die nalatenskap van apartheid aan te spreek deur hulpbronne na swart-besit besighede en Klein-, Medium- en Mikro-ondernemings (“KMMO’s”) te kanaliseer. Maar ’n nader kyk ontbloot ernstige kommer, veral oor die grondwetlikheid daarvan. Trouens, die voorstel blyk verskeie bepalings van die Grondwet te oortree, wat die beginsels wat ons demokrasie rig, ondermyn.
Die Transformasiefonds word voorgestel as ’n middel vir ekonomiese regstelling, wat berus op die Wet op Breë-gebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB) van 2003 en artikel 9(2) van die Grondwet, wat die regering opdrag gee om maatreëls te tref om gelykheid te bevorder. Die fonds se ondersteuners voer aan dat dit ontwerp is om sistemiese hindernisse wat histories benadeelde gemeenskappe verhinder het om ten volle aan die ekonomie deel te neem, aan te spreek. Met die doel om R100 miljard teen 2029 te mobiliseer, het die regering aangedui dat die fonds sektore met hoë impak, soos landbou, IKT, vervaardiging en toerisme, sal ondersteun, met spesifieke fokus op besighede in townships en landelike gebiede. Dit sal nie net finansiële ondersteuning bied nie, maar ook nie-finansiële hulp, insluitend tegniese bystand en marktoegang, aan ondernemings in swart besit.
Die regering se groot visie vir die Transformasiefonds staan egter voor verskeie uitdagings. Eerstens, die fonds sal staatmaak op bydraes van die private sektor, veral deur die BBSEB generiese kodes. Hierdie kodes vereis dat groter ondernemings ’n persentasie van hul netto wins bydra tot inisiatiewe wat verskaffers in swart besit ondersteun. Versuim om dit te doen kan daartoe lei dat besighede uitgesluit word van winsgewende staatskontrakte. Die voorgestelde finansieringsmeganisme het wydverspreide kritiek ontlok, veral van partye soos die Demokratiese Alliansie (“DA”), wat voer dat die plan ’n oordrewe inmenging is en besighede onregverdig belas.
Die kern van hierdie opposisie lê in ’n fundamentele bekommernis dat die voorgestelde Transformasiefonds nie net ekonomies onmededingend is nie, maar dit is ook ongrondwetlik. Daar is minstens vier belangrike areas waar die fonds in stryd is met Suid-Afrika se stigtingsregsdokument en dit behoort ons ’n oomblik van besinning te gee voordat ons so ’n beleid laat vorm aanneem.
Die eerste probleem ontstaan met artikel 9 van die Grondwet, wat onbillike diskriminasie op rassegronde verbied. Suid-Afrika se grondwetlike verbintenis tot gelykheid en nie-rassigheid is ’n sentrale pilaar van ons demokrasie. Die BBSEB-beleid, waarop hierdie fonds gebaseer is, verdeel mense op grond van ras en gee dan voorkeur aan sekere rassegroepe, terwyl ander uitgesluit word. Dit is in direkte teenstelling met die beginsel van nierassigheid, wat in artikel 1 van die Grondwet verskans is. Deur hoofsaaklik op ras as kriteria vir die toewysing van hulpbronne te fokus, skep die fonds ’n stelsel wat meer geneig is om verdeeldheid voort te sit, eerder as om die eenheid te bevorder wat nodig is vir werklike transformasie.
Tweedens bepaal artikel 9(3) van die Grondwet dat enige diskriminasie op grond van ras outomaties onbillik is, tensy dit die bereiking van gelykheid bevorder. Maar B-SEB, soos dit tans gestruktureer is, het nie gelykheid bereik nie. In plaas daarvan het dit ongelykheid binne die swart bevolking verskans, wat ’n polities verbonde elite bevoordeel het, terwyl die meerderheid van die armes nóg verder gemarginaliseer is. Die mislukking van B-SEB om die breër swart gemeenskap op te hef, is presies die rede waarom Suid-Afrika se Gini-koëffisiënt—die maatstaf vir inkomste-ongelykheid—vererger het van 59 in 1994 na 63 in 2022. Dit is nie ’n suksesverhaal nie. Die Transformasiefonds, wat gewortel is in dieselfde gebrekkige beginsels as B-SEB, loop die risiko om ongelykheid verder te verdiep deur ’n klein groepie buitensporig te bevoordeel ten koste van werklike ekonomiese groei en geleenthede vir die meerderheid.
Die derde grondwetlike bekommernis het te make met artikel 213, wat bepaal dat alle geld wat deur die nasionale regering ontvang word, in die Nasionale Inkomstefonds gedeponeer moet word, behalwe waar die Parlement ’n uitsondering magtig. Die voorgestelde struktuur van die Transformasiefonds omseil hierdie vereiste, met die regering wat poog om R100 miljard in die Nasionale Bemagtigingsfonds te stuur sonder eksplisiete magtiging deur wetgewing. Dit skep ’n potensieel ongrondwetlike toewysing van staatshulpbronne sonder die nodige kontroles en teenwigte wat die Grondwet vereis. Sonder ’n duidelike statutêre basis vir hierdie fonds, is die risiko van wanbestuur óf misbruik van die fondse al te werklik. Die fonds kan maklik ’n gebruiksfonds vir politieke patronaatskap word, eerder as ’n middel vir betekenisvolle ekonomiese transformasie.
Ten slotte bepaal artikel 217 van die Grondwet dat alle openbare aankope “mededingend” en “kostedoeltreffend” moet wees. Dit vereis dat staatstenders toegeken word op grond van waarde vir geld, nié op ras óf voldoening aan BBSEB-regulasies nié. Tog, volgens die voorgestelde Transformasiefonds, sal besighede wat nie tot die fonds bydra nie, uitgesluit word van openbare kontrakte, ongeag hul mededingendheid óf kostedoeltreffendheid. Dit sal die beginsels van billike mededinging ondermyn en kan lei tot hoër koste vir die belastingbetaler, aangesien maatskappye wat verplig is om bydraes te maak, die las moontlik op verbruikers sal val. Die fonds loop die risiko om die mark te verwring deur voldoening aan BBSEB-regulasies te bevoordeel bo besigheidsdoeltreffendheid en mededingendheid.
In wese skend die voorgestelde fonds nie net die grondwetlike beginsels van nie-rassigheid en gelykheid nie, maar dit kan ook die ondoeltreffendheid in die ekonomie verder bevorder. Die regering se fokus op rasgebaseerde beleide het vir ‘n geruime tyd al die investering, ekonomiese groei en werkskepping belemmer. Die B-SEB-stelsel, wat die grondslag van die Transformasiefonds vorm, het nie daarin geslaag om sy belofte van breë-gebaseerde bemagtiging na te kom nie. In plaas daarvan het dit gelei tot die verryking van ’n paar, dikwels polities verbonde individue, terwyl die oorweldigende meerderheid Suid-Afrikaners steeds uitgesluit is van die vrugte van ekonomiese voorspoed.
Wat Suid-Afrika nodig het, is nie nog ’n rasgebaseerde fonds of beleid nie, maar ’n stelsel wat ekonomiese benadeling op grond van behoefte, nie ras, aanspreek nie. ’n Model soos Ekonomiese Bemagtiging vir die Benadeeldes (BBSEB”), wat ’n middeletoets gebruik om diegene wat werklik behoeftig is te identifiseer, sal baie doeltreffender wees. BBSEB kan hulpbronne na die mees kwesbares lei sonder om rasseverdelings voort te sit óf nuwe vorme van ongelykheid te skep.
Die R100 miljard Transformasiefonds, soos dit tans voorgestel word, is ’n stap terugwaarts. Dit is op dieselfde rasgebaseerde beleid gevestig wat nie daarin geslaag het om die meerderheid Suid-Afrikaners uit armoede te verlos nie. As ons as ’n nasie vorentoe wil beweeg, moet ons hierdie verouderde beleide verwerp en ’n meer inklusiewe, nie-rassige benadering tot ekonomiese bemagtiging omhels. Slegs dan kan ons hoop om die grondwetlike ideale van gelykheid, geregtigheid en voorspoed vir almal te bereik.