
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
KABINETSKOMMELING WEK KOMMER OOR DIE LEIERSKAP VAN DIE MINISTERIE VAN JUSTISIE
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 04/12/2024
Die onlangse skommeling van president Cyril Ramaphosa se kabinet wat daartoe lei dat Thembi Simelane van die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling na die Departement van Menslike Nedersettings oorgeplaas word, wek belangrike vrae op oor die leierskap van die regstelsel.
Artikel 91(2) van die Grondwet gee die President die gesag om ministers aan te stel, maar artikel 96 van die Grondwet bepaal die etiese standaarde waaraan Kabinetslede moet voldoen. Volgens artikel 96(2) moet Kabinetslede enige konflik tussen hul amptelike pligte en private belange vermy en hulle mag nie optree op ‘n wyse wat strydig is met hul amp nie. Hierdie beginsel is veral belangrik vir die Minister van Justisie wat toesig moet hou oor die Nasionale Vervolgingsgesag (“NVG”), veral wanneer daar beweringe teen die Minister is wat moontlik ondersoek moet word.
Verder bepaal artikel 174(1) van die Grondwet dat regterlike beamptes geskikte en gepaste individue moet wees — ’n beginsel wat ook van toepassing behoort te wees op diegene wat leierskap-posisies binne die regstelsel beklee. Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, onder leiding van die minister, moet openbare vertroue inboesem deur sy integriteit, onpartydigheid en toewyding aan die handhawing van die oppergesag van die reg, veral wanneer bewerings van korrupsie onder die loep geneem word.
“Die Ministerie van Justisie speel ’n kritieke rol in die beskerming van die oppergesag van die reg,” het Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk-stigting, gesê. “Dit is van kardinale belang dat die persoon aan die stuur onberispelik is, veral wanneer die NVG moontlik genader sal word om sake te ondersoek wat die persoon wat die departement lei, impliseer.”
Ismail Joosub, die Stigting se Bestuurder van Grondwetlike Bevordering, het bygevoeg: “Hoewel die skuif weg van die Justisie-portefeulje potensiële botsings van belange kan verminder, vra die voortdurende ondersoek na Minister Simelane se optrede vir verdere deursigtigheid. Die publiek moet verseker wees dat die Grondwet se verbintenis tot geregtigheid en regverdigheid in elke aspek van die regering gehandhaaf word.”
Simelane is steeds onder die loep vir haar beweerde betrokkenheid by VBS Mutual Bank, wat steeds ’n saak van groot kommer vir die publiek en die oppergesag van die reg is. In hierdie konteks bly die vraag of die President se besluit om Simelane eerder te heraanwys, as om haar onmiddellik te ontslaan, die bekommernisse oor haar posisie voldoende sal aanspreek.