INTERNASIONALE GEREGSHOF (WÊRELDHOF)
SE STREWE NA GLOBALE VREDE

Uitgereik deur die FW de Klerk-stigting op 26/01/2024

Wat presies is die Internasionale Geregshof? 

Die Internasionale Geregshof (“die Wêreldhof”), wat in 1945 ingevolge die VN-handves gestig is, is die hoogste regsowerheid binne die Verenigde Nasies (VN”). Die Wêreldhof het die taak om geskille tussen lidlande te op te los. Dit bestaan uit 15 regters wat elk ‘n termyn van nege jaar dien. Hierdie regters word deur die VN se Algemene Vergadering en die VN-Veiligheidsraad (“die Veiligheidsraad”) verkies. Artikel 92 van die VN-handves skets uitdruklik die vestiging van die Wêreldhof as “die belangrikste geregtelike orgaan van die Verenigde Nasies“, en sit die Wêreldhof se rol in die bevordering van die vreedsame oplossing van internasionale geskille en die verskaffing van regsadvies oor sake van internasionale belang, uiteen. Die Statuut van die Hof (“Hof Statuut”), wat deel is van die VN-handves, omskryf die Wêreldhof se jurisdiksie, prosedures en die kwalifikasies van sy regters.

Dit is van kardinale belang om tussen die Wêreldhof en die Internasionale Strafhof (“die Strafhof”) te onderskei, aangesien hul mandate en funksies aansienlik verskil. Terwyl die Wêreldhof regsgeskille tussen state hanteer, is die Strafhof ‘n afsonderlike entiteit wat voortspruit uit die Rome Statuut. Die Strafhof fokus slegs op die individuele kriminele verantwoordelikheid van ondertekenaars van die Rome Statuut, en vervolg individue skuldig aan ernstigste misdade. Beide instellings, die Wêreldhof en die Strafhof, dra by tot die breër raamwerk van internasionale reg, wat elkeen spesifieke aspekte van geregtigheid en aanspreeklikheid aanspreek. 

 Wat is die Hof se funksie? 

Die kern van die Hof se funksie hou verband met die bevordering van internasionale vrede deur die oppergesag van die reg te laat geld. Die Hof se stigting was in reaksie op die katastrofiese gevolge van misdadige optrede deur lande wat by die Tweede Wêreldoorlog betrokke was. Die stigters van die Wêreldhof het die pad van diplomasie en internasionale samewerking as basis van geregtigheid gevestig om militêre konflik tussen lande te vermy. 

 Die Hof se mandaat is duidelik: (i) om regsgeskille wat deur state ingedien is, te besleg; en (ii) om raadgewende menings te bied oor regsvrae wat deur die Algemene Vergadering, die Veiligheidsraad of ander gespesialiseerde VN-agentskappe en -liggame verwys word. Boonop het lidlande die opsie om regsvrae vrywillig na die Hof te verwys, wat hulle in staat stel om die hof se leiding oor aangeleenthede van internasionale reg en geskilbeslegting te soek. Dit weerspieël die Hof se rol as ‘n forum om nie net verpligte geskilbeslegting te bevorder nie, maar ook om ‘n platform te bied vir state om vrywillig betrokke te raak by die vreedsame oplossing van regskwessies. 

Die Veiligheidsraad is die Hof se regterarm: 

Die Veiligheidsraad as koördinerende liggaam, se kernverantwoordelikheid is die handhawing van internasionale vrede en veiligheid. Dit  bestaan uit 15 lede, waarvan vyf permanente lede – die Verenigde State, China, Rusland, die Verenigde Koninkryk en Frankryk – vetoreg het. 

Die insluiting van permanente lede wat veto het, was ‘n doelbewuste maatreël na die Tweede Wêreldoorlog, wat die begeerte weerspieël om oorheersing deur ‘n indiwiduele lid te verhoed. 

Die Veiligheidsraad se bevoegdhede word in Artikel 39 van die VN-handves uiteengesit en sluit die magtiging van militêre optrede, die oplegging van sanksies en die uitrol van vredesoperasies in. Die vetoreg wat aan permanente lede verleen word, bemoeilik besluitnemingsprosesse, aangesien dit kritieke besluite aan bande kan lê. Hierdie wisselwerking tussen die Wêreldhof en Veiligheidsraad, beklemtoon die delikate balans tussen die hof se gesag en die ingewikkelde politieke dinamika tussen VN-lidlande, waar die optrede van ‘n paar die verloop van internasionale geregtigheid en vrede kan manipuleer. 

 Hofsake:

Die verskeidenheid sake wat voor die Wêreldhof dien, beklemtoon die Hof se breë jurisdiksie, wat wissel van territoriale dispute tot ondersoeke na bewerings van ernstige internasionale misdade gepleeg deur state. In die kollig is die saak wat deur Suid-Afrika teen Israel ter tafel gelê is, wat vrae laat ontstaan oor die vermoë van een nasie om ‘n klag teen ‘n ander te lê. Suid-Afrika voer aan dat Israel se optrede in Gasa “volksmoord” is en dus die Volksmoordkonvensie van 1948 skend. Die Volksmoordkonvensie is ‘n verdrag wat beide lande onderteken het en dus bindend is op beide lande. Artikel II van die konvensie kriminaliseer dade wat gepleeg word “met die doel om ’n nasionale, etniese, rasse- of godsdiensgroep geheel of gedeeltelik te teiken en uit te wis”. Hierdie konvensie sit die verpligtinge van ondertekenaars van die konvensie duidelik uiteen en het ten doel om dade van volksmoord te voorkom en diegene wat daaraan skuldig is te straf. Dit verskaf dus ‘n wetlike raamwerk vir die Hof om die bewerings wat voor hom gebring is, te evalueer – d.w.s. die argumente wat Suid-Afrika op die tafel geplaas het ter ondersteuning van sy saak dat volksmoord in Gasa plaasvind. 

 Die besluit deur Suid-Afrika om ‘n saak van volksmoord namens die Palestynse volk aanhangig te maak, weerspieël die komplekse web van internasionale betrekkinge en solidariteit tussen nasies. Terwyl die wetlike status van ‘n staat om ‘n saak voor die Hof te bring bevestig is, kom die motief dikwels neer op ‘n mengsel van wetlike, politieke en etiese oorwegings. 

 Die Suid-Afrikaanse regering onder leiding van die Minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola, het sy redes om die saak voor die Hof te bring, klinkklaar uiteengesit, met die klem op Suid-Afrika se verbintenis tot geregtigheid en die beëindiging van die humanitêre gruweldade in Palestina. Die saak het ten doel om blywende en volhoubare vrede te verseker en ook die skep ‘n lewensvatbare, aangrensende Palestynse staat wat op die 1967 internasionaal erkende grense geskoei is, met Oos-Jerusalem as hoofstad. Ten tye van die skryf van hierdie artikel, sou uitspraak na verwagting op Vrydag, 26 Januarie 2024 gelewer word. 

Die belangrikheid die Hof en sy beslissings, strek verder as die  bestaande partye wat by ‘n spesifieke saak betrokke is. Dit speel ‘n rol in die bevordering van ‘n strewe na gedeelde verantwoordelikheid vir die handhawing van internasionale geregtigheid en vrede. 

 Die Hof se tekortkominge: 

Ongeag die strewe na die verwesenliking van die edele doelwitte soos uiteengesit in hierdie artikel, is daar bepaalde tekortkominge en staar die Wêreldhof  kritiek in die gesig wat ‘n kritiese analise regverdig. Die Hof se afhanklikheid van die VN-Veiligheidsraad om sy besluite af te dwing, hou bepaalde politieke implikasies in wat die tydige en doeltreffende oplossing van geskille kan ondermyn. Die samestelling van die Veiligheidsraad, lei dikwels tot uiteenlopende menings oor hoe Hof se uitsprake geïmplementeer moet word vanweë uiteenlopende geopolitieke oorwegings. Dit laat vrae ontstaan oor die Hof se vermoë om geregtigheid op ‘n onpartydige basis te laat geskied. 

 Verder kan die Hof se noukeurige beraadslagingsproses, wat gedetailleerde skriftelike voorleggings, mondelinge argumente en teenargumente behels, uitgerekte tydlyne tot gevolg hê. Alhoewel hierdie deeglike benadering ontwerp is om regverdige en goed beredeneerde besluite te maak, kan dit ook bydra tot vertragings in die aanspreek van dringende sake, soos Suid-Afrika se pleidooi vir voorlopige maatreëls om verdere beweerde volksmoord in Gasa te voorkom. 

 ‘n Kritiese beoordeling van internasionale reg en die toepassing daarvan deur die Wêreldhof vereis dat die beperkinge blootgelê word. Die hof se doeltreffendheid hang af van die bereidwilligheid van state om aan sy besluite te voldoen en die Veiligheidsraad se verbintenis tot die handhawing van die oppergesag van die reg.  Die geval van die voorlopige bevel wat aan Rusland gerig is om sy magte aan Oekraïne in 2022 te onttrek, dien as sprekende voorbeeld van hoe uiteenlopende politieke standpunte onder regters die uitkoms van ‘n saak kan beïnvloed en  die handhawing van onpartydigheid ten alle tye. 

 Afsluiting: 

Ten slotte, die Hof bly ‘n deurslaggewende instelling in die strewe na globale vrede deur die toepassing van internasionale reg. Suid-Afrika se saak teen Israel bied ‘n geleentheid om die kompleksiteite van internasionale regsraamwerke te ondersoek en te verstaan. Die Hof se potensiaal om diplomatieke besluite te bevorder en aanspreeklikheid te verseker, moet waardeer word, maar ‘n kritiese oog moet op sy tekortkominge gewerp word om die meganismes wat ontwerp is om internasionale vrede en geregtigheid te handhaaf, te verfyn en te versterk.