Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
HOE SÓU 'N BEGROTING VIR JONGMENSE WERKLIK LYK?
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 30/05/2025
Die Minister van Finansies het op 21 Mei 2025 sy derde poging tot ’n begrotingstoespraak gelewer. Hy het afstand gedoen van die polities plofbare BTW-verhoging wat in Maart voorgestel is en eerder ’n meer aanvaarbare toon gevolg. Op die oppervlak bied hierdie weergawe van die begroting ’n gevoel van kontinuïteit, stabiliteit en enkele kleiner aanpassings. Maar agter die noukeurig gekose woorde skuil ’n veel kommerwekkender werklikheid. Suid-Afrika dobber steeds rond sonder ’n geloofwaardige groeistrategie en vir die land se jeug is hierdie begroting nie ’n plan vir vooruitgang nie, maar eerder ’n simbool van stagnasie. Dit spreek nie ons mees dringende langtermyn-uitdaging aan nie. Dit is die ekonomiese en sosiale uitsluiting van jong mense.
Amptelike statistiek wys daarop dat 46% van Suid-Afrikaners tussen 15 en 34 jaar werkloos is. Onder dié tussen 15 en 24 is dit selfs meer as 62%. Hierdie syfers is nie randverskynsels nie – hulle is die kernbedreiging vir Suid-Afrika se sosiale samehorigheid en ekonomiese toekoms. Die 2025-begroting erken wel die behoefte aan inklusiewe groei, maar slaag nie daarin om ’n ernstige strategie te finansier óf selfs te beskryf om werklose jeug ekonomies te betrek nie. Die voortsetting van die Presidensiële Jeugindiensnemingsinisiatief en algemene toewysings vir werkskepping is eenvoudig nie op skaal met die krisis nie. In ’n land waar byna vyf miljoen jong mense sonder werk is, bly die reaksie administratief – nie transformerend nie.
Die onderwysbegroting volg dieselfde patroon. Die provinsiale onderwyssektor ontvang R1,04 triljoen oor die mediumtermyn, met ’n bykomende R9,5 miljard om onderwysers in klaskamers te behou en bykomende personeel aan te stel. Tog, in reële terme, word verwag dat die besteding per leerder ná inflasie sal daal. Klasgroottes sal groot bly, infrastruktuur sal in baie gebiede gebrekkig bly, en leeruitkomste sal steeds agterbly. Meer as 80% van Graad 4-leerders kan steeds nie met begrip lees nie. Van elke 100 leerders wat met skool begin, sal minder as 15 dit tot universiteit maak. Suid-Afrika bestee reusebedrae aan ’n stelsel wat op elke vlak talent verloor. Sonder prestasiegekoppelde befondsing, sterker provinsiale toesig en ’n verskuiwing van prioriteite na praktiese vaardighede en beroepsopleiding, sal selfs groter besteding geen wesenlike verskil aan jeuguitkomste maak nie.
Steun vir entrepreneurskap – ’n natuurlike dryfkrag vir jeuggedrewe groei – bly hoofsaaklik by woorde. Al is die regering besig om Aktiewe Arbeidsmarkprogramme te hersien en ’n werksoekertoelaag te ondersoek, is daar geen noemenswaardige nuwe befondsing om toegang vir jong entrepreneurs uit te brei of regulatoriese hindernisse te verminder nie. Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap, hoewel goed bedoel, funksioneer steeds met beperkte kapasiteit en hulpbronne. Daar is geen breë hervormings om struikelblokke te verwyder of belastingvereistes vir jong entrepreneurs eenvoudiger te maak nie.
Terwyl lande soos Indië, Brasilië en Duitsland ekosisteme geskep het waarin jong entrepreneurs werklik bemagtig word, blyk dit of Suid-Afrika tevrede is met geleidelike, oppervlakkige aanpassings. Die gevolg is ’n sektor wat stagneer – ten spyte van die potensiaal om te bruis van geleenthede.
Die afwesigheid van enige verwysing na geestesgesondheid in die toespraak is besonder kommerwekkend. Selfmoord is nou die tweede grootste oorsaak van dood onder jong Suid-Afrikaners tussen 15 en 24 jaar. Meer as 20% van adolessente het al daaraan gedink om hul eie lewens te beëindig. Werkloosheid, armoede, geweld en onderwysmislukkings dra alles by as risikofaktore. Tog ontvang geestesgesondheid slegs 5% van die gesondheidsbegroting en geen van die aangekondigde toekennings dui op enige uitbreiding van dienste nie. Geen nuwe belegging in klinieke, beraders by skole of openbare bewusmakingsveldtogte is aangekondig nie. Die gevolg is onvermydelik, toenemende wanhoop onder ’n generasie wat reeds voel hulle word agtergelaat.
Behuising vir jongmense is nóg ’n prioriteit wat klaarblyklik geignoreer word. In Maart is R58 miljard vir menslike nedersettings en behuising begroot – meestal vir bestaande programme wat op die armste gemeenskappe fokus. Maar jong volwassenes, veral dié wat te min verdien om vir verbandlenings te kwalifiseer maar te veel verdien vir RDP-huise, val heeltemal tussen die krake. Die gemiddelde ouderdom van eerstekeer-huiskopers het reeds tot 36 gestyg. Huiseienaarskap raak al hoe minder bereikbaar, terwyl huur in die formele mark vir baie buite die begroting val. Huursubsidies of waarborge vir lae-deposito-lenings sou dié gaping kon help oorbrug – maar geen sulke meganismes is in die begroting vervat nie. In plaas daarvan word dieselfde een-grootte-pas-almal-benadering gehandhaaf.
Wat al hierdie tekortkominge verbind, is ’n begrotingsfilosofie wat eerder daarop gemik is om agteruitgang te bestuur as om vernuwing aan te dryf. Staatskuld gaan vanjaar 77,4% van die BBP bereik, en ons spandeer nou R1,2 miljard per dag net om rente op dié skuld te betaal. Die toespraak voer aan dat 61 sent van elke rand aan die sogenaamde “maatskaplike loon” bestee word, maar daar is geen waarborg dat hierdie besteding werklik resultate lewer nie. Die meeste provinsies het nog nie meetbare uitkomste bekend gemaak wat met hul begrotingstoewysings verband hou nie. Die Tesourie self het reeds R37,5 miljard se moontlike vermorsing oor verskeie departemente heen geïdentifiseer. In ’n begrotingsbeperkte omgewing is dit nie méér besteding wat nodig is nie, maar beter prioriteite en skerper aansporings.
Ander lande wys wat moontlik is. Duitsland se stelsel van dubbele beroepsopleiding koppel onderwys direk aan leerlingskappe in die privaatsektor, wat help om een van die laagste jeugwerkloosheidsyfers ter wêreld te handhaaf. In Brasilië vereis die wet dat maatskappye van ’n sekere grootte jong leerlinge moet aanstel – ’n meganisme wat toegang tot die ekonomie wetlik verseker. Indië se ‘Skill India’-veldtog het al meer as 14 miljoen jongmense opgelei, met sterk fokus op bedryfsrelevante vaardighede. Kanada kombineer werkplasingsprogramme met geteikende ondersteuning vir geestesgesondheid en behuising. Suid-Afrika kan soortgelyke strategieë aanpas en implementeer sonder om van sy fiskale pad af te wyk. Wat kortkom, is die politieke wil om prioriteite te hersien en ware hervormings aan te pak.
’n Werklik ernstige jeugbegroting sal gegrond wees op meetbare opbrengste. Dit sou die befondsing vir Tegniese en Beroepsgerigte Onderwys en Opleiding (“TBOO”) uitbrei, belastingaansporings bied aan maatskappye wat vakleerlinge aanstel, en jeugindiensnemingsprogramme konsolideer onder ’n enkele afleweringsmeganisme met duidelike prestasieteikens. Dit sou befondsing vir geestesgesondheid onder jongmense verdubbel en konkrete teikens stel vir intervensies in skole. Dit sou ’n huurondersteuningskema instel vir lae-inkomste jeug in stedelike gebiede, gefinansier deur herprioritisering binne die menslike nedersettingsbegroting. Die belangrikste van alles is dat dit jeugontwikkeling nie as ’n blote sosiale plig sou beskou nie, maar as ’n strategiese ekonomiese dryfveer vir die land.
Hierdie oplossings verg nie ’n revolusie in openbare finansies nie. Wat wel nodig is, is strategiese hertoewysings en vennootskappe met die privaatsektor wat innovasie en produktiwiteit beloon. Die regering kan byvoorbeeld ’n Jeugwaagkapitaalfonds stig om opkomende ondernemings met hoë groeipotensiaal saam met die privaatsektor te finansier, met bydraes wat rand-vir-rand ooreenstem. Belastingkrediete kan ingestel word vir maatskappye wat betaalde internskappe en vakleerlingskappe aan jeugdiges onder 30 aanbied. ’n Werkgekoppelde onderwysverbandstelsel kan voorsiening maak dat afgestudeerdes gesubsidieerde opleidingskoste eers begin terugbetaal wanneer hulle ’n sekere inkomstevlak bereik – wat aanvanklike druk op beide staat en student verlig.
Verder kan die deregulering van mikro-ondernemingsones in townshipgebiede dit vir jongmense makliker maak om besighede te begin, met minder regulatoriese vereistes – wat formalisering en werkskepping bevorder. Hierdie hervormings sal nie net die privaatsektor in staat stel om te doen wat dit die beste doen nie (waarde skep), maar ook konkrete geleenthede skep vir jong mense om te verdien, te spaar en in hul toekoms te belê.
Die 2025-begroting is nie sonder goeie bedoelings nie. Dit bevestig fiskale dissipline, verhoog onderwys- en gesondheidsbesteding op beskeie wyse, vermy skadelike belastingverhogings en herbevestig die verbintenis tot infrastruktuurontwikkeling. Maar geeneen van hierdie maatreëls bied ’n langtermynoplossing vir Suid-Afrika se grootste onontginde bate nie, sy jeug. Ons het meer nodig as maatskaplike toelaes en publieke simpatie. Ons het ’n padkaart nodig wat jong Suid-Afrikaners in die arbeidsmark bring, toegang bied tot behuising, eienaarskap en groei in selfstandigheid. Dít is hoe ons die ekonomie laat groei. Dít is hoe ons vertroue herstel. En dít is hoe ons ’n toekoms bou wat nie ’n vierde begrotingstoespraak nodig het om dieselfde probleme weer te probeer oplos nie.