+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

FW DE KLERK STIGTING VERKLARING OOR DIE AANBIEDING VAN BEGROTING 3.0

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 21/05/2025

 

Die FW de Klerk Stigting neem kennis van die ter tafellegging van die derde weergawe van die 2025-begrotingsrede deur Minister van Finansies, Enoch Godongwana. Ná beduidende openbare en politieke teenkanting teen die voorgestelde BTW-verhoging in Maart, toon hierdie hersiene begroting ’n meer gebalanseerde benadering. Dit is egter nie sonder ernstige bekommernisse nie.

Die regering se skuld-tot-BBP-verhouding word nou geprojekteer om ‘n hoogtepunt van 77,4% te bereik – die hoogste sedert 1994 – terwyl skulddienskoste na verwagting R426,3 miljard in 2025/26 sal beloop, gelykstaande aan 22 sent van elke belastingrand. Anders gestel, word daar in 2025/26 daagliks sowat R1,2 miljard bestee slegs om staatskuld te diens. Dit is ‘n onvolhoubare tendens wat toekomstige geslagte hul regmatige beleggings in onderwys, werkgeleenthede en infrastruktuur ontsê.

Hoewel die Stigting die verwerping van die BTW-verhoging en die behoud van maatskaplike toelaes verwelkom, bly die fundamentele strukturele swakhede bestaan. Die BBP-groei vir 2025 is na onder aangepas van 1,9% na 1,4%, en die Tesourie het sy inkomstevooruitskatting met R61,9 miljard oor die Mediumtermyn-bestedingsraamwerk (“MTBR”) verlaag. Sonder dringende strukturele hervormings sal die belastingbasis aanhou inkrimp relatief tot die groeiende maatskaplike en fiskale behoefte.

Die langtermyn-volhoubaarheid van die maatskaplike toelaestelsel bly ‘n groeiende bron van kommer. Tensy hierdie toelaes gekoppel word aan werklike indiensnemingsgeleenthede en ondersteun word deur betekenisvolle ekonomiese groei, loop dit die gevaar om ‘n permanente fiskale las te word eerder as ‘n brug na selfstandigheid. Toelaes moet mense bemagtig, nie afhanklikheid versterk nie – veral in ’n konteks van krimpende staatsinkomste en aanhoudende jeugwerkloosheid.

Die R1 triljoen-infrastruktuurverbintenis en die beskeie verhogings in onderwys- en gesondheidsbesteding is op sigself bemoedigend, maar dit moet ondersteun word deur duidelike afleweringsmeganismes, vennootskappe met die privaatsektor en daadwerklike doeltreffendheidshervormings – veral op die vlak van plaaslike regering. Verbintenisse om uitgawe-oorsigte te inkorporeer, onderpresterende programme te beëindig en verkrygingsprosesse te hervorm, moet streng toegepas word om burokratiese vermorsing te verminder. Net so belangrik is dit dat daadwerklike stappe gedoen word om wanbestuur en korrupsie hok te slaan – aangesien dit die publiek se vertroue bly ondermyn en dienslewering ernstig kelder.

Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering, het gesê: “Hierdie begroting is ’n korttermynoplossing vir ’n langtermynkrisis. ’n Verhoging van 16c in die brandstofheffing is nie ’n groeistrategie nie. Trouens, dit sal waarskynlik vervoer- en voedselkoste verhoog. Ons het dringende arbeidsmarkhervorming, energiesekuriteit en vaardigheidsontwikkeling nodig as ons ernstig is oor die aanspreek van jeugwerkloosheid en die herstel van ekonomiese insluiting.”

Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur, het bygevoeg: “Suid-Afrika kan dit eenvoudig nie meer bekostig om fiskale hervorming uit te stel nie. Skuld moet ingeperk word deur doelgerigte besteding wat op werklike uitkomste fokus, en elke rand wat ingevorder word, moet tasbare waarde vir die publiek lewer. Ons steun die gesprek oor ’n fiskale anker, maar dit moet uitloop op bindende en afdwingbare fiskale reëls.”

Die Stigting doen ’n ernstige beroep op die Parlement om die fiskale raamwerk deeglik te ondersoek en spreek die verwagting uit dat die regering sy belofte van inklusiewe, werkskeppende groei gestand sal doen.