
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING ONDERSTEUN APPÈLHOF SE SKRAPPING VAN “TEORETIESE” APPÈL VAN ROL – HOWE TE OORLAAI OM SAKE VAN GEEN PRAKTIESE WAARDE AAN TE HOOR
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 03/10/2024
Die FW de Klerk Stigting ondersteun die Hoogste Hof van Appèl (“Appèlhof”) se weiering om die appèl aan te hoor wat deur die voormalige openbare beskermer, agbare Mkhwebane (nou ‘n Parlementslid vir die EFF), gebring is. Die appèl was teen die Hooggeregshof se uitspraak om nie die besluite te hersien van sommige komiteelede om aan te bly op die parlementêre komitee, wie ondersoek het of die voormalige openbare beskermer uit haar amp verwyder moes word, nie.
“Die Appèlhof het die appèl van die rol geskrap en beveel dat agbare Mkhwebane self die appèlkoste betaal, omdat die appèl om verskeie redes nie ‘uit die wegspringblokke’ kon kom nie. Die vernaamste was die feit dat die appèl in die naam van ‘Die Openbare Beskermer van Suid-Afrika’ gebring was, lank nadat agbare Mkhwebane nie meer daardie amp beklee het nie. Alhoewel dit in haar kantoor se naam gebring was, het die huidige openbare beskermer nie die appèl gemagtig nie,” sê Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program.
“Die Stigting ondersteun die Appèlhof se besluit om die appèl van sy hofrol te skrap, om die eenvoudige rede dat ons howe té oorlaai is en te min personeel het om besig te wees met die beslissing van appèlle wat geen praktiese effek sal hê nie en slegs teoretiese vrae behels,” sê Christo van der Rheede, die Stigting se uitvoerende direkteur.