
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING DOEN 'N DRINGENDE OPROEP VIR OPTREDE OM VOEDSELONSEKERHEID IN SUID-AFRIKA AAN TE SPREEK
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 14/10/2024
Die FW de Klerk Stigting is diep bekommerd oor die toenemende krisis in terme van voedselonsekerheid in Suid-Afrika, soos uitgelig deur die Nasionale Voedsel- en Voedingsekuriteitsopname (“NVVSO”). Met ongeveer 20 miljoen mense — 63% van huishoudings — wat voedselonsekerheid ervaar, verteenwoordig die situasie nie net ‘n humanitêre krisis nie, maar ook ‘n ernstige bestuur- en grondwetlike uitdaging.
Artikel 27(1)(b) van die Grondwet waarborg elke Suid-Afrikaner se reg op toegang tot voldoende voedsel en water. Die feit dat 17% van huishoudings krities ondervoed is, is ‘n ontstellende skending van hierdie reg. Die opname se bevindinge wys dat baie Suid-Afrikaners gedwing word om hul voedselinname te verminder óf maaltye heeltemal oor te slaan, wat die regering se nakoming van sy grondwetlike verpligting om burgers se basiese menseregte te beskerm, ondermyn.
Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering by die FW de Klerk Stigting, is van mening: “Die volgehoue voorkoms van hongerte op so ’n groot skaal openbaar ’n sistemiese mislukking in hulpbrontoewysing en regeringsbeplanning. Artikel 195 van die Grondwet vereis verantwoordbare en doeltreffende openbare administrasie, maar die regering se benadering tot voedselsekerheid is gefragmenteerd en ondoeltreffend. Die situasie vereis ’n gekoördineerde, bewysgebaseerde strategie om te verseker dat kwesbare gemeenskappe toegang het tot voldoende en voedsame voedsel.”
Terwyl die regering verskeie voedselprogramme geïnisieer het, het die gebrek aan ’n gefokusde strategie daartoe gelei dat miljoene Suid-Afrikaners steeds swaarkry. Die opname beklemtoon die skerp werklikheid dat in provinsies soos Noordwes meer as die helfte van huishoudings matige tot ernstige voedselonsekerheid ervaar. Verder beklemtoon die vermorsing van byna ’n derde van die land se jaarlikse 31 miljoen ton voedselproduksie die ondoeltreffendhede binne die voedselvoorsieningsketting.
Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting, het beklemtoon: “Die verskil tussen voedselbeskikbaarheid op nasionale vlak en erge hongerte op huishoudelike vlak onderstreep kritieke kwessies in voedselverspreiding en -bestuur. Dit is tyd dat die regering, burgerlike samelewing en die private sektor saamwerk om voedselvermorsing te verminder, die doeltreffendheid van die voorsieningsketting te verbeter en ondersteuning aan kleinboere en landboubesighede te verhoog, wat die sleutel is om voedselsekerheid te verseker. Daar moet indringend gekyk word na die nasionale begrotingstoewysing vir landbou, die aanwending van hierdie fondse in terme van grondhervormingsprojekte, ondersteuning aan die hele landbousektor om die koste van produksie af te bring en goedkoper kos op die tafel van Suid-Afrikaners te plaas!”
Die FW de Klerk Stigting versoek die regering om die ontwikkeling en implementering van die Nasionale Voedsel- en Voedingsekuriteitsplan vir 2024–2029 te prioritiseer, met ’n fokus op distriksvlak-intervensies, soos uitgelig deur die Minister van Landbou, John Steenhuisen. ’n Geheel-van-samelewing benadering is nodig om hierdie krisis te bekamp, wat insluit die vermindering van voedselvermorsing, die verbetering van die naspeurbaarheid van voedsel en voorsieningskettings en die versterking van ondersteuning vir plaaslike landbou-inisiatiewe.
In ooreenstemming met artikel 28(1)(c) van die Grondwet, wat die regering verplig om voorsiening te maak vir die welstand van kinders, is dit veral van kardinale belang dat intervensies met betrekking tot voedselsekuriteit gefokus is op kwesbare huishoudings met kinders, wat die grootste risiko loop vir die langtermyn-gevolge van wanvoeding.
Die FW de Klerk Stigting doen ‘n beroep op alle belanghebbendes om daadwerklik op te tree om hierdie nasionale krisis aan te spreek. Suid-Afrika se bestuurs-, ekonomiese en menseregte verpligtinge vereis dat dringende maatreëls getref word om te verseker dat geen Suid-Afrikaner honger ly nie.