Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
FW DE KLERK STIGTING BEMOEDIG DEUR BINNELANDSE SAKE SE UITWISSING VAN AGTERSTAND MET IDENTITEITSDOKUMENTE
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 30/09/2024
Die FW de Klerk Stigting komplementeer die Departement van Binnelandse Sake vir sy sukses om die aansienlike agterstand van 247 500 identiteitsdokument-aansoeke binne net een maand uit te wis. “Hierdie merkwaardige prestasie demonstreer die departement se verbintenis tot doeltreffende dienslewering en die aanspreek van die kritieke behoefte aan identiteitsdokumente onder Suid-Afrikaanse burgers,” sê Christo van der Rheede, die Stigting se uitvoerende direkteur.
“Die Stigting het vroeër vanjaar in sy Menseregteverslagkaart daarop gewys dat baie kinders se reg op ‘n naam en ‘n nasionaliteit vanaf geboorte en burgerskap (onderskeidelik artikels 28(1)(a)) en 20 van die Grondwet) geskend word as gevolg van die departement se agterstand van geboorteregistrasies wat daartoe gelei het dat ongeveer 258 000 kinders in 2023 ongedokumenteer was in Suid-Afrika,” sê Daniela Ellerbeck, ‘n prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program.
Die FW de Klerk Stigting moedig die departement aan om voort te gaan met sy pogings om alle agterstande uit te wis, veral met die agterstand van geboorteregistrasies wat kinders raak. Die Stigting glo die departement se merkwaardige prestasie demonstreer sy potensiaal vir positiewe verandering en die verbetering van dienslewering. Die Stigting sien uit na verdere vordering, veral in terme van die digitale transformasie van Binnelandse Sake.