ERODERING VAN TAALREGTE:
AFRIKAANS, ONDERWYS EN DIE STRYD OM INKLUSIWITEIT
Uitgereik deur die FW de Klerk-stigting op 23/01/2024
Die onlangse besluit deur die Regspraktykraad (“die Raad”) om alle eksamens vir kandidaatprokureurs en leerlingadvokate uitsluitlik in Engels af te lê, het aansienlike kontroversie en ontevredenheid onder verskeie belanghebbendes ontlok. Hierdie stap, wat oënskynlik daarop gemik is om eenvormigheid te bewerkstellig en sogenaamde “bevoordeling” van Afrikaanssprekende kandidate aan te spreek, wek diepgaande grondwetlike kommer, veral in die konteks van onderwys- en taalregte. Nie net is dit ongegrond nie, maar ook kortsigtig.
Hierdie besluit, gesien saam met die voortdurende wetgewende ontwikkelings wat in die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (“BELA-wetsontwerp”) vervat is, word ‘n kommerwekkende aspek van die ontluikende taal- en onderwyslandskap in Suid-Afrika. Die BELA-wetsontwerp stel wesenlike veranderinge aan die Suid-Afrikaanse Skolewet (“SASA”) en die Wet op die Indiensneming van Opvoeders voor, met die doel om die onderwyssektor te transformeer. Die ooreenkomste tussen die Raad se “slegs Engels” besluit en die BELA-wetsontwerp beklemtoon die toenemende uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar rakende taal- en kulturele diversiteit.
Artikel 29(2) van die Grondwet waarborg die reg op onderwys in die amptelike taal van keuse in openbare onderwysinstellings. Artikel 6(2) lê ‘n plig op die Staat om praktiese en positiewe maatreëls te tref om die status van inheemse tale te verhoog en hul gebruik te bevorder. Die verwydering van Afrikaanse eksamens by die Raad kan gesien word as ‘n direkte ondermyning van hierdie regte, veral vir diegene wie se moedertaal Afrikaans is. In teenstelling met die uitbou van die status van en die bevordering van inheemse tale, deur eksamens in meer amptelike tale aan te bied, ondermyn die Raad hierdie ideaal.
Die grondwetlike bekommernisse is nie beperk tot taal- en opvoedkundige regte alleen nie. Die besluit roep ook breër kwessies op wat met gelykheid verband hou, soos beoog in artikel 9 van die Grondwet. Die persepsie dat Afrikaanssprekende kandidate ‘n onregverdige voordeel het, wat oënskynlik die Raad se besluit onderlê, laat vrae ontstaan oor die beginsels van inklusiwiteit en gelyke geleenthede. Dit is duidelik dat die Raad se besluit ongelykheid verdiep, aangesien meer kandidate benadeel word omdat hulle moontlik bykomende uitdagings in die gesig staar as gevolg van die taalmedium.
Om hierdie grondwetlike bekommernisse te versterk, is dit noodsaaklik om die erodering van Afrikaans op beide basiese onderwys- en tersiêre onderwysvlakke te erken. In ‘n 2019-saak was die Raad verplig om ‘n soortgelyke besluit om te keer, ‘n voorbeeld van die voortdurende uitdagings vir taalregte. Die 2023 FW de Klerk-stigting CRL-verslagkaart beklemtoon die bedreigings wat kulturele, godsdienstige en taalregte in Suid-Afrika in die gesig staar, en beklemtoon verder die dringendheid om hierdie kwessies omvattend aan te spreek.
Die etos moet eerder die ontsluiting van die ekonomiese, opvoedkundige, sosio-kulturele, en vele ander moontlikhede ingebed ons inheemse tale behels asom dit in te perk. Die moontlikhede hou verband met intellektuele verdieping, ontsluiting van kreatiewe en innoverende denke, werkskepping deur die vestiging van nuwe besighede veral in die konteks van die kulturele ekonomie en byderwetse opvoedkundige materiaal. Die moontlikhede is legio.
Ten slotte wek die Raad se besluit om Afrikaanse eksamens te skrap, i.p.v. om die keuse van amptelike tale waarin die eksamens aangebied word uit te brei, wek ernstige grondwetlike kommer. Die erodering van taalregte, die potensiële diskriminasie teen Afrikaanssprekende kandidate, en die breër implikasies vir die diverse taallandskap van Suid-Afrika, onderstreep die behoefte aan ‘n omvattende en grondwetlik gesonde benadering tot onderwys- en taalbeleid. Soos die grondwetlike dialoog ontvou, is dit noodsaaklik om die beginsels van inklusiwiteit, gelykheid en diversiteit wat in die gronddokument van Suid-Afrika – sy Grondwet – vasgelê is, te handhaaf.