Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE STIGTING DOEN 'N BEROEP OP DIE REGERING OM DIE VEILIGHEID VAN ONDERSOEKBEAMPTES TE VERSEKER

Uitgereik deur Christo van der Rheede namens die FW de Klerk Stigting op 25/07/2024

 

Die FW de Klerk Stigting doen ‘n beroep op die regering om die veiligheid van ondersoekbeamptes te verseker. Dit kom na die poging tot sluipmoord op adv Naudé, wat namens die SAID ‘n hoogs prominente belastingondersoek ondersoek het. Vroeër vanjaar het die Stigting ‘n beroep op die Staat gedoen om die veiligheid van die regbank te verseker toe daar onthul is dat ‘n derde van landdroste in 2021/2022 gedreig óf aangerand is.

Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting, is van mening dat, “Hierdie gewelddadige en lafhartige daad daarop gemik is om ondersoekbeamptes te intimideer en die regsproses te ondermyn. Dit is ‘n direkte aanval op die oppergesag van die reg en die integriteit van ons regstelsel.”

Ons is afhanklik van die howe en prokureurs vir die beskerming van ons basiese individuele regte – die mees belangrike van hierdie regte is in die Handves van Regte verskans. Sonder ’n onbevange regbank wat in veilige omstandighede hul werk kan doen, val dinge vinnig uitmekaar,” sê Daniela Ellerbeck, bestuurder van Grondwetlike Regte by die Stigting.

Om hierdie doel te bereik, moet ons verseker dat hofbeamptes en regsbeamptes hul pligte kan uitvoer sonder vrees vir hulle veiligheid. Die Staat se mislukking om hierdie beamptes, veral dié wat namens die Staat in hoërisiko-sake betrokke is, te beskerm, ondermyn die grondliggende waarde van die heerskappy van die reg en die reg op toegang tot geregtigheid,” bevestig Ismail Joosub, regsbeampte by die Stigting.

Die Stigting doen ‘n beroep op die wetstoepassingsagentskappe om die oortreders effektief te vervolg en dring daarop aan dat die regering maatreëls implementeer om  regsbeamptes en regters “in gevaar” te identifiseer en beskermende maatreëls in te stel om hulle veiligheid te verseker. “Dit is van uiterste belang dat ons nie toelaat dat geregtigheid deur misdadigers ontspoor word nie. Die regering moet onmiddellik optree om omvattende veiligheidsmaatreëls te implementeer om toekomstige insidente te voorkom,” het van der Rheede bygevoeg.

Die FW de Klerk Stigting staan in solidariteit met adv Naudé en alle regsbeamptes wat hulle lewens in belang van geregtigheid in gevaar stel. Ons beste wense aan haar en vertrou dat sy spoedig sal herstel.