Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE REGSPOSISIE VAN DIE 49 AFRIKANER-“VLUGTELINGE”. ONDERSKEI TUSSEN FEITE EN DISINFORMASIE
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 23/05/2025
Die afgelope paar maande het die saak van 49 wit Suid-Afrikaners, wat wyd bekend staan as “Afrikaner-vlugtelinge”, ’n wêreldwye debat ontketen. Hierdie individue is asiel in die Verenigde State toegestaan ná bewerings van sistemiese rassevervolging en wat sommige beskryf as “wit volksmoord” in Suid-Afrika. President Donald Trump het dié narratief onderskryf en die situasie as “’n volksmoord… ’n verskriklike ding wat plaasvind” beskryf. Dit is belangrik dat ons dit duidelik stel, want hierdie bewerings is nie net vals nie, dit is gevaarlik.
Laat ons dit onomwonde stel, daar is geen wit volksmoord in Suid-Afrika nie! Daar is geen wettige grondslag vir vlugtelingstatus in hierdie geval nie. Nié ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing nié en ook nie volgens internasionale konvensies nie. En daar is geen monolitiese of bedreigde “Afrikaner”-identiteit wat onder beleg verkeer nie. Wat hier plaasvind, is ’n siniese verdraaiing van feite, geskiedenis en die reg – ’n verdraaiing wat die sosiale samehorigheid van Suid-Afrika en die integriteit van internasionale vlugtelingstelsels ernstig bedreig.
Ja, Suid-Afrika se misdaadvlakke is inderdaad hoog. In 2023 is meer as 27 000 moorde in die land aangeteken (’n gemiddeld van 74 per dag) wat Suid-Afrika onder die lande met die hoogste moordsyfers per capita in die wêreld plaas (ongeveer 45 per 100 000 mense). Hierdie syfers moet egter in konteks beskou word. Die oorgrote meerderheid van moordslagoffers is Swart Suid-Afrikaners. Volgens data van die Instituut vir Sekerheidstudies en die SAPD maak wit Suid-Afrikaners, wat sowat 8% van die bevolking uitmaak, minder as 2% van alle moordslagoffers uit.
Plaasaanvalle, hoewel dikwels verpolitiseer, verteenwoordig minder as 0,3% van alle moorde per jaar. In 2022, is slegs 50 plaasmoorde aangeteken uit ’n totaal van 23 000. Hierdie aanvalle, hoe tragies ook al, is nie deel van ’n rasgebaseerde veldtog nie. Soos Minister van Internasionale Betrekkinge Ronald Lamola dit duidelik gestel het: “Die land se misdaadstatistieke ondersteun nie die bewering dat wit boere vervolg word nie… daar is geen data wat op die vervolging van wit mense dui nie.”
Dit is waar dat geweldsmisdaad almal in Suid-Afrika raak. Maar daar is geen statistiese óf geloofwaardige grondslag vir die bewering dat wit Suid-Afrikaners slagoffers is van rasse-uitwissing nie. Inteendeel, statistiesgewys is wit Suid-Afrikaners statisties minder blootgestel om proporsioneel tot die res van die swart bevolking vermoor te word. Dit is nié volksmoord nié. Dit is ’n ernstige nasionale misdaadprobleem wat alle Suid-Afrikaners raak – ongeag hul ras.
Miskien is dit gepas om ons tot internasionale reg te wend. Die wetlike raamwerk vir die bepaling van vlugtelingstatus is duidelik en ondubbelsinnig. Artikel 1(A)(2) van die 1951 VN-konvensie rakende die Status van Vlugtelinge, soos weergegee in artikel 3 van Suid-Afrika se Wet op Vlugtelinge van 1998, omskryf ’n vlugteling as iemand wat, weens ’n gegronde vrees om vervolg te word op grond van ras, godsdiens, nasionaliteit, lidmaatskap van ’n bepaalde sosiale groep, of politieke oortuiging, buite die land van sy of haar nasionaliteit is en nie bereid of in staat is om daardie land se beskerming in te roep nie. Hierdie definisie sluit mense uit wat bloot vlug vir algemene misdaad, ekonomiese swaarkry of ’n afname in sosiale status. Om vir vlugtelingstatus in aanmerking te kom, moet daar bewese staatsvervolging wees, óf ten minste ’n geloofwaardige vrees daarvoor, gebaseer op een van die beskermde gronde. In die geval van die 49 is daar eenvoudig geen sodanige bewyse nie.
Kragtens die Amerikaanse Vlugtelingewet van 1980, mag vlugtelingstatus slegs aan individue toegestaan word wat ‘n gegronde vrees vir vervolging toon op grond van ras, godsdiens, nasionaliteit, politieke opinie of lidmaatskap van ‘n bepaalde sosiale groep. Die Wet sluit uitdruklik diegene uit wat vlug van algemene misdaad of ekonomiese onsekerheid, in ooreenstemming met die 1951 VN-vlugtelingkonvensie. In die geval van die 49 is daar geen bewyse van rassevervolging wat deur die staat gesanksioneer is nie, wat hul toelating ‘n polities gemotiveerde uitsondering maak eerder as ‘n wetlik gefundeerde bepaling.
Daar is geen Suid-Afrikaanse wet, regeringsbeleid of openbare praktyk wat wit Suid-Afrikaners spesifiek teiken nie. Die Suid-Afrikaanse regering is verplig om alle burgers gelyk te beskerm ingevolge die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 – veral artikel 9 (die Gelykheidsklousule) en artikel 12 (die Reg op Vryheid en Sekuriteit van die Persoon). Wit Suid-Afrikaners beklee steeds invloedryke posisies in die sakewêreld, die regsektor en landbou. Hulle bly ekonomies en polities verteenwoordig – nié gemarginaliseer of onderdruk nié. Selfs al was algemene misdaad ’n geldige grondslag vir vlugtelingstatus, wat dit nie is nie, moet ’n mens die staat se vermoë om beskerming te bied ook in ag neem. Dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens onder druk is, is gewis, maar hulle reageer wel op misdade waarin wit slagoffers betrokke is, insluitend plaasaanvalle, en ondersoek dit. Daar is geen geloofwaardige bewyse dat wit Suid-Afrikaners polisiehulp geweier word op grond van hul ras nie. Laastens en ingevolge internasionale vlugtelingreg, is dit in stryd met vlugtelingstatus as iemand vrywillig na sy óf haar land van herkoms terugkeer. Tog dui verskeie mediaberigte daarop dat verskeie van die 49 persone beplan om terug te keer vir besoeke, vakansies óf selfs om sake te bestuur. Dít alleen laat ernstige vrae ontstaan oor die geloofwaardigheid van hul aansprake.
Die Verenigde State se besluit om aan hierdie individue vlugtelingstatus toe te ken, was nie gebaseer op regsbeginsels nie, maar op politieke oorwegings. Die Trump-administrasie se uitvoerende bevel van Februarie 2025 het hul aansoeke versnel en “onregverdige rassediskriminasie” as regverdiging aangevoer. Terselfdertyd het dieselfde administrasie die breër toelating van vlugtelinge uit oorloggeteisterde streke soos Soedan, Mianmar en Gasa opgeskort. Gerespekteerde ontleders het op die teenstrydigheid gewys. Bill Frelick van Human Rights Watch het die stap as “uiters ongewoon” beskryf en daarop gewys dat die meeste vlugtelinge jare lank in kampe wag vir verwysings van die VN se Vlugtelingagentskap (“UNHCR”). Hierdie 49 is binne minder as drie maande uit ’n middelinkomste-demokrasie uitgebring. Sommige joernaliste het selfs so ver gegaan om te sê: “Wit Suid-Afrikaners is toegelaat, terwyl mense uit lande met oorwegend swart en bruin bevolkings uitgesluit is.” Die rasse-optika is ontstellend en die boodskap wat dit aan die internasionale gemeenskap uitstuur, is des te meer ontstellend.
Wat hierdie tekortkoming verder vererger, is die rol van die internasionale media in die verspreiding van dié valse narratief. Alhoewel sommige betroubare publikasies soos die New York Times en NPR die konteks verduidelik het, het baie ander sensasiegedrewe opskrifte versprei oor “vlugtelinge wat vervolging ontvlug” — sonder deeglike ondersoek. Wanvoorstelling en verkeerde inligting is toegelaat om vinniger as die feite te versprei, wat bygedra het tot ’n skewe beeld van Suid-Afrika in die buiteland.
Dit is ook belangrik om daarop te let dat die sogenaamde vlugtelingnarratief steun op ’n eng, rasgedefinieerde begrip van die term “Afrikaner” – ’n begrip wat nié historiese of taalkundige ondersoek slaag nié. Mense van gemengde oorsprong aan die Kaap het na hulself verwys as Afrikaners omdat hulle nie meer kon identifiseer met die lande waaruit hulle oorspronklik kom nie. Afrikaans is ’n Suid-Afrikaanse taal met diepgewortelde multikulturele oorsprong. Dit het nie net uit 17de-eeuse Nederlands ontstaan nie, maar is ook beïnvloed deur Maleise, Khoisan-, Portugese en ander Afrika-tale. Die eerste geskrewe Afrikaans was in Arabiese skrif, gebruik deur Moslem-geleerdes aan die Kaap. Soos die historikus Neville Alexander verduidelik het: “As die Khoi, San en veral die slawe nie gedwing was om Nederlands met hul meesters te praat nie, sou Afrikaans waarskynlik nooit werklik ontwikkel het nie.” Vandag is ongeveer 60% van Afrikaanssprekendes nie wit nie, maar hoofsaaklik bruin, met ’n betekenisvolle groep swart moedertaalsprekers ook.
Om vervolging van “Afrikaners” as ’n rassegroep aan te voer, ignoreer die inklusiewe en steeds ontwikkelende aard van Afrikaanse identiteit. Afrikaans is een van Suid-Afrika se 12 amptelike tale en floreer in die letterkunde, musiek en onderwys — veral in gemeenskappe met ’n historiese bruin-agtergrond. Die bewering dat “Afrikanerkultuur” besig is om verdwyn, is nie net onwaar nie, dit is ook neerhalend teenoor die miljoene nie-blanke Suid-Afrikaners wat daardie kultuur help vorm, dra en lewendig hou.
Hierdie saak is belangrik nié net oor die leuens wat versprei word nié, maar oor die skade wat dit aanrig. Elke valse bewering van volksmoord maak afbreuk aan die werklike lyding van egte vlugtelinge regoor die wêreld. Elke ongegronde beskuldiging van rassevervolging ondermyn die geloofwaardigheid van internasionale reg en saboteer die werklike transformasie-inisiatiewe wat steeds in Suid-Afrika nodig is. Die FW de Klerk Stigting staan standvastig teen hierdie verdraaiings van die werklikheid. Ons bevestig dat geen Suid-Afrikaanse burger op grond van ras vervolg word nie. Ons bevestig die integriteit van ons Grondwet, die legitimiteit van ons howe en die gedeelde toekoms van alle Suid-Afrikaners — swart,bruin, Indiër en wit.
Soos oudpresident FW de Klerk tereg opgemerk het: “Suid-Afrika se toekoms sal gebou wees op versoening en deling.” Die wêreld moet dit besef: Suid-Afrika is nie sonder gebreke nie, maar dit is beslis nie ’n land van rassevervolging nie. Dit is ’n land wat daagliks, doelgerig en demokraties werk aan ’n toekoms waar waarheid belangriker is as vrees en waar eenheid swaarder weeg as politieke teater.