DIE ONTEIENINGSWETSONTWERP WORD DEUR ONGERYMDHEDE BESOEDEL

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting, op 18/04/2024

 

Die prosedurele ongerymdhede rondom die aanvaarding van die Onteieningswetsontwerp deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) wek ernstige bekommernis oor die legitimiteit van die wetgewende proses. Dit ondermyn demokratiese beginsels en ontneem miljoene burgers van hul reg om hul insette te lewer. Die Konstitusionele Hof het ook bepaal dat indien die NRVP materiële veranderinge aan ‘n wet aanbring, dit aan verdere openbare deelname onderwerp word.

Veranderinge wat aan die C-lys van die Wetsontwerp aangebring is, gaan mank aan  deursigtigheid en slaag nie daarin om belanghebbendes se terugvoer voldoende in te sluit nie. Die mandaat om te stem oor die Wetsontwerp is haastig saamgestel, met sekere provinsies soos Gauteng, Oos-Kaap en Limpopo wat die volle betrokkenheid van die provinsiale wetgewer omseil het. Besluite is eerder deur wetgewende komitees geneem, wat effektief die stemme van burgers en hul gekose verteenwoordigers ter syde gestel het.

Sodanige praktyke, geïllustreer deur Gauteng se ter elfde ure – aanlynvergadering om die mandaat af te handel, omseil gevestigde prosedures, ondermyn proporsionele verteenwoordiging en ontneem duisende van hul reg om hul stem uit te bring. Hierdie ongerymdhede trek die legitimiteit van die wetgewende proses in twyfel en ondermyn fundamentele demokratiese beginsels.

Die Stigting beklemtoon die dringende behoefte aan ‘n deursigtige en verantwoordbare wetgewende proses wat grondwetlike beginsels handhaaf en eiendomsregte beskerm. Enige afwyking van hierdie beginsels loop die risiko om ‘n ekonomiese opstand Suid-Afrika te veroorsaak en sosiale ongelykheid te vererger”, sê Ismail Joosub, Regsbeampte by die FW de Klerk Stigting.

Die Stigting dring daarop aan dat President Cyril Ramaphosa van die bevoegdhede gebruik maak wat die Grondwet hom toeken om hierdie wet na die Parlement vir heroorweging terug te verwys, omdat dié wet as gevolg van hierdie ongerymdhede ongrondwetlik verklaar kan word.