
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE NGV-REGULASIES – MINISTER IN GEVAAR OM ULTRA VIRES OP TE TREE
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 20/06/2025
Inleiding
Die FW de Klerk Stigting het sy formele kommentaar ingedien op die Departement van Gesondheid se Voorgestelde Regulerings oor die Bestuur van die Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds. Hierdie Regulasies moet ingevolge die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering, 2023 (“die NGV-wet”) uitgevaardig word. Die NGV-wet het egter nog nie in werking getree nie.
Wat sê die NGV-Regulasies?
Die Regulasies beoog om die strukture en prosesse vir die bestuur van die NGV-fonds vas te stel – die fonds wat bedoel is om aan die gesondheidsbehoeftes van die hele Suid-Afrikaanse bevolking te voorsien deur gesondheidsorgdienste namens hulle aan te koop (artikel 9 van die NGV-wet). Spesifiek beskryf die Regulasies hoe die Raad van die NGV-fonds en sy Hoof Uitvoerende Beampte aangestel sal word. Dit is nie geringe sake nie. Dit bepaal wie gesag oor openbare gesondheidsorg sal hê sodra die NGV-wet geïmplementeer word.
Mag moet die Reg volg
Die Minister verkry sy magte van die reg, nie andersom nie. Hy kan nie magte uitoefen, of funksies verrig, wat nié deur die reg aan hom toegeken is nié.
Die Minister self het verklaar dat hy die NGV-Regulasies sal uitreik ingevolge die bemagtigingsbepalings van die NGV-wet, spesifiek artikel 55(1)(x), (z) en (zA).
Hierdie bepalings bepaal dat: “(1) Sonder om afbreuk te doen aan die magte wat deur die Grondwet en die Nasionale Gesondheidswet of enige ander toepaslike wet aan die Minister verleen word, mag die Minister, na oorleg met die Fonds en die Nasionale Gesondheidsraad soos beoog in artikel 22 van die Nasionale Gesondheidswet, regulasies uitvaardig oor—
(x) die verrigtinge van vergaderings van komitees ingevolge hierdie Wet aangestel en ’n gedragskode vir lede van daardie komitees;
(z) enige aangeleentheid wat ingevolge hierdie Wet voorgeskryf moet of mag word;
(zA) enige bykomende of toevallige administratiewe of prosedurele aangeleentheid wat nodig mag wees vir die behoorlike implementering of administrasie van hierdie Wet.”
Hierdie bemagtigende bepalings is duidelik: die Minister mag slegs regulasies uitvaardig ná oorleg met beide die Fonds en die Nasionale Gesondheidsraad.
Die probleem:
Die Nasionale Gesondheidsraad bestaan en is funksioneel, wat beteken dat die Minister met dit kon konsulteer oor die Regulasies. Die NGV-fonds bestaan egter nie. Eerstens, omdat die Wet nog nie in werking getree het nie, dus is die Fonds nog nie wettiglik geskep nie. Tweedens, omdat dit deur ’n Raad bestuur moet word en geen van die Raadslede al aangestel is nie. Trouens, soos hierbo genoem, poog die NGV-Regulasies om die proses vir die aanstelling van die Raad vas te stel.
Hoe kon die Minister dus met ’n liggaam konsulteer wat nog nie bestaan nie? Hy kon nie.
Aangesien die NGV-wet vereis dat die Minister met die NGV-fonds moet konsulteer voordat hy regulasies uitvaardig, het die Minister tans nie die bevoegdheid om regulasies te maak nie. Indien hy sou voortgaan om die Regulasies uit te vaardig, sou hy ultra vires optree en sal die Regulasies onwettig wees. ’n Hof sal die Regulasies kan tersyde stel.
Ten slotte
Die Minister móét die reg volg: Hy moet verseker dat hy in ooreenstemming met die NGV-wet optree. Indien nie, is sy optrede onwettig.
Totdat die Raad aangestel is en die Fonds funksioneel is, kan hy nie daarmee konsulteer nie. Sonder daardie konsultasie kan hy nie wettiglik die Regulasies uitvaardig nie. Die FW de Klerk Stigting het dus versoek dat die Regulasies, wat tans vir oop is vir kommentaar, teruggetrek word.
Eers nádat die Kabinet die aanbevole aanstellings tot die Raad goedgekeur het, die Raad in plek is en die Minister met die Raad oor die Regulasies gekonsulteer het, mag hy die betrokke Regulasies weer vir openbare kommentaar publiseer.
Die reg is duidelik. Dit moet nagekom word.