Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE IMPIKASIES VAN DIE VERSKUIWING VAN TAIWAN SE SKAKELKANTOOR NA BUITE PRETORIA
Uitgereik deur Ezra Mendel namens die FW de Klerk Stigting op 05/11/2024
Die verhouding tussen Suid-Afrika en Taiwan het ‘n komplekse geskiedenis, gekenmerk deur ‘n oorgang van hegte bande na toenemende diplomatieke vervreemding. Die onlangse besluit deur die Suid-Afrikaanse regering om Taiwan se de facto ambassade, die Taipei-skakelkantoor, uit Pretoria te verskuif, wek vrae oor Suid-Afrika se diplomatieke belyning en oor moontlike binnelandse en grondwetlike uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig kan staar as dié verhoudinge verder versuur.
Suid-Afrika – Taiwan Verhoudinge
Suid-Afrika was een van die min Afrikalande wat formele diplomatieke betrekkinge met Taiwan gedurende die apartheidsera gehandhaaf het, ’n tydperk waarin die land internasionaal geïsoleer was. Taiwan, net soos Suid-Afrika, het diplomatieke isolasie ervaar, alhoewel om verskillende redes, onder andere sy betwiste soewereiniteit en politieke status teenoor China. Taiwan het ’n bondgenoot in die apartheidsregering gevind, met aansienlike finansiële bystand en noue handels- en diplomatieke bande.
Onder die leierskap van Nelson Mandela het Suid-Afrika daarna gestreef om sterker betrekkinge met die Volksrepubliek China (“VRC”) te vestig, een van die wêreld se grootste ekonomieë en ‘n invloedryke mag in globale politiek. In 1997 het die Mandela-administrasie VN-resolusie 2758 formeel ondersteun, wat die Een-China-beleid onderskryf en Taiwan as ‘n onafskeidbare deel van China erken. Gevolglik het Suid-Afrika diplomatieke bande met Taiwan verbreek, wat daartoe gelei het dat die Taipei-skakelkantoor as Taiwan se afgeskaalde teenwoordigheid in ’n de facto hoedanigheid funksioneer.
Betekenisvolheid van die Besluit om die Ambassade te Skuif
Pretoria huisves een van die grootste aantal diplomatieke missies wêreldwyd, slegs oortref deur Washington. Taiwan se begeerte om sy skakelkantoor in Pretoria te behou, strook met hierdie diplomatieke norm. Die Suid-Afrikaanse regering se besluit om Taiwan se kantoor na Johannesburg, die land se ekonomiese sentrum, te verskuif, weerspieël egter ’n strategiese verskuiwing om die verhouding as hoofsaaklik ekonomies en nie polities, te posisioneer.
Baie is steeds agterdogtig oor hierdie besluit. Suid-Afrika het onlangs deelgeneem aan die Forum oor China-Afrika-samewerking (FOCAS), wat in Beijing gehou is. Daar het president Cyril Ramaphosa die belangrikheid van internasionale nakoming van die Een-China-beginsel beklemtoon. Ná die besluit om die ambassade te skuif, China se Ministerie van Buitelandse Sake Suid-Afrika se “regte besluit” geloof, wat verdere vermoedens wek dat hierdie stap moontlik deur Beijing beïnvloed is. Alhoewel die Suid-Afrikaanse regering daarop aandring dat die hervestiging in ooreenstemming is met internasionale reg en diplomatieke praktyk, bly kommer bestaan oor moontlike druk van China. Suid-Afrika se belyning met VN-resolusie 2758 en die Een-China-beginsel is duidelik, maar die tydsberekening van die besluit, ná ‘n hoëprofiel China-Afrika-beraad, het plaaslik en internasionaal wenkbroue laat lig.
Die Grondwet Moet Eerste Gestel Word
Ongeag Suid-Afrika se regverdiging vir die hervestiging, moet die regering die moontlike gevolge vir sy burgers se grondwetlike regte noukeurig oorweeg. Taiwan het reeds aangedui dat hy die verskuiwing sal teenstaan en het met vergeldingsmaatreëls gedreig. Dit kan insluit die opskorting van opvoedkundige uitruilskemas, die verskerping van visumvereistes vir Suid-Afrikaners, óf die eis dat Suid-Afrika sy eie kantoor in Taiwan uit Taipei verskuif. Sulke stappe kan aansienlike ekonomiese gevolge inhou.
Sedert 2017 is ongeveer 800 Taiwanese fabrieke en besighede in Suid-Afrika gevestig wat na raming 40 000 werksgeleenthede geskep het en jaarliks $1,69 miljard in direkte investering bygedra het. Enige onttrekking van Taiwanese besighede óf ‘n vermindering in hul aktiwiteite, kan lei tot aansienlike werkverliese, wat die grondwetlike regte van Suid-Afrikaanse werkers direk sal raak. Artikel 22 van die Grondwet beskerm die reg om ‘n persoon se handel, beroep of professie te kies. Daarom sal ‘n afname in Taiwanese sakebedrywighede hierdie regte bedreig, aangesien dit die lewensbestaan van duisende Suid-Afrikaners wat van hierdie besighede afhanklik is, in gevaar sal stel. Dit sal ook die reg op waardigheid (Artikel 10) en ekonomiese sekuriteit ondermyn, wat noodsaaklik is vir Suid-Afrika se grondwetlike raamwerk. Suid-Afrika voer ook groot hoeveelhede steenkool, graan en motors na Taiwan uit, wat jaarliks honderde miljoene dollars beloop. Enige diplomatieke geskil kan hierdie handelsvloei beïnvloed, wat die plaaslike ekonomie verder kan benadeel en werksgeleenthede kan bedreig. Die Demokratiese Alliansie (“DA”), ‘n belangrike deelnemer aan die Regering van Nasionale Eenheid (“RNE”), was histories simpatiek teenoor Taiwan en het gepleit vir die voortsetting van konsulêre en handelsverteenwoordiging. Die DA se teenwoordigheid in die RNE het aanvanklik hoop geskep dat die hervestigingsbesluit heroorweeg kan word, maar die regering het voortgegaan en ‘n duidelike verdeeldheid binne die RNE oor Suid-Afrika se buitelandse beleid onthul.
Gevolgtrekking
Terwyl Suid-Afrika se besluit om Taiwan se skakelkantoor te verskuif moontlik in lyn is met sy verbintenis tot internasionale reg en die Een-China-beginsel, moet dit met omsigtigheid benader word om onbedoelde gevolge vir sy burgers te voorkom. Die potensiaal vir ekonomiese gevolge as gevolg van verslegtende betrekkinge met Taiwan, beklemtoon die belangrikheid daarvan om buitelandse beleid te balanseer met die grondwetlike regte van Suid-Afrikaners. Die regering het ‘n plig, kragtens artikels 22 en 10 van die Grondwet, om sy burgers se reg op werk en menswaardigheid onderskeidelik te beskerm. Enige buitelandse beleidsbesluit wat hierdie regte bedreig, moet sorgvuldig heroorweeg word in die lig van die langtermynimpak daarvan op die binnelandse ekonomie en maatskaplike stabiliteit. Suid-Afrika se buitelandse beleid moet nie net diplomatieke doelwitte dien nie, maar ook die grondwetlike regte en lewensbestaan van sy mense handhaaf om te verseker dat internasionale betrekkinge nié die welstand van sy eie burgers ondermyn nié.