DIE HERVERWERKTE GILAB ‘N TOONBEELD VAN SUKSES VANWEE PUBLIEKE DEELNAME
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting, op 23/04/2024
“Die beduidende veranderinge aan die eerste weergawe van die Algemene Intelligensiewette Wysigingswetsontwerp (‘GILAB 1.0‘) aangebring, dui daarop dat die Parlement se eerste huis, die Nasionale Vergadering, na die mense geluister het. Dit kan as ‘n suksesverhaal oor die impak van openbare deelname gesien word,” sê Daniela Ellerbeck, Bestuurder van Grondwetlike Programme by die FW de Klerk Stigting.
Vroeër vanjaar het GILAB 1.0 ‘n massiewe bohaai ontlok toe die publiek besef het dat dit die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste carte blanche sal gee om te besluit wie hulle aan keuringsondersoeke wil onderwerp.
“‘n Tweede weergawe van die Wetsontwerp (‘GILAB 2.0’) is nou oop vir openbare kommentaar aan die Parlement se tweede huis, die Nasionale Raad van Provinsies (‘NRVP’),” het Ellerbeck aan die media gesê. “GILAB 2.0 weerspieël die veranderinge wat die Stigting versoek het Parlement moet maak: definisies is nou presies en sal misbruik voorkom soos keuringsondersoeke van enigiemand wat die dienste se aandag trek.”
“Hierdie massiewe verbetering op ‘n wetsontwerp – wat die Staat aanvanklik wou toelaat om enige Jan Rap en sy maat wat dit gekies het te onderwerp aan ‘n sekuriteitsbevoegdheidstoets en keuringsondersoeke deur die Intelligensiedienste – toon die sukses van openbare deelname in die beskerming van ons demokrasie,” sê Ellerbeck. “Dit toon die belangrikheid daarvan dat burgerlike organisasies, soos die Stigting, hul regskundigheid gebruik om daarop aan te dring dat die Staat die Grondwet en die regte en vryhede wat dit moet eerbiedig, beskerm, bevorder en verwesenlik.”
“Terwyl daar tegniese verbeteringe is wat aan die Wetsontwerp aangebring kan word, hou dit nié meer ’n eksistensiële risiko vir Suid-Afrika se grondwetlike regte of vir ons demokrasie in nié,” sê Ellerbeck.
Die Wetsontwerp is oop vir kommentaar by die NRVP tot 12 Mei 2024. Slegs sodra dit deur beide huise aanvaar is, sal dit na die President gaan om in wet bekragtig te word.