+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

DIE GILAB: UITDAGINGS EN OPLOSSINGS

Uitgereik deur die FW de Klerk Stigting op 15/03/2024 

 

Verstaan die verskillende weergawes:

Die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette (“die GILAB”) weergawe wat vir openbare kommentaar oopgestel is, is die eerste keer deur die Minister in die Presidensie op 17 November 2023 in die Parlement ter tafel gelê. Die Parlement se eerste huis, die Nasionale Vergadering (NV), het die publiek vanaf 17 Desember 2023 tot 15 Februarie 2024 vir insette gevra.

‘n Vroeër  konsepweergawe van die Wetsontwerp is op 24 Mei 2023 deur die Kabinet goedgekeur vir voorlegging aan die Parlement. Hierdie weergawe wat sekuriteitsbevoegdheidstoetse uitdruklik vir godsdienstige organisasies en nieregeringsorganisasies (“NRO’s”) voorskryf, is nooit aan die Parlementêre komitee wat aan die GILAB werk, voorgelê nie. Dit was ook nooit vir openbare kommentaar oopgestel nie.

Dié weergawe van die wetsontwerp wat in werklikheid na die komitee verwys en vir publieke kommentaar geopen moes word, het die verwysing na godsdiensorganisasies en NRO’s vervang met die nou berugte frase: “persoon óf instelling van nasionale veiligheidsbelang“.

Wat die (huidige weergawe van die) GILAB beoog om te doen:

Die GILAB het ten doel om, onder andere, die Staatsveiligheidsagentskap in twee onderskeie entiteite te verdeel: die SA Intelligensie-agentskap (wat ‘n binnelandse fokus sal hê) en die SA Intelligensiediens (wat verantwoordelik sal wees vir buitelandse intelligensie). (Hierdie onderskeiding is in ooreenstemming met die aanbevelings van die Hoëvlak-oorsigpaneel oor Staatsveiligheidsagentskap.)

Die GILAB poog ook om die wet te wees wat “verkenning op uitgebreide skaal” reguleer, nadat die Konstitusionele Hof in Amabhungane Centre v Minister of Justice bevind het dat die praktyk onwettig is, omdat daar geen wet was wat dit bemagtig nie.

Wat is die probleme met die (huidige weergawe van die) GILAB?

Terwyl GILAB waarskynlik daarop gemik is om ‘n positiewe uitkoms mee te bring, bv. om die buitelandse en binnelandse takke van Staatsveiligheidsagentskap as aparte entiteite te vestig, is dit al die ander aksies wat dit ook wil op fokus, wat ernstige kommer regoor die samelewing tot gevolg gehad het (insluitend burgerregteorganisasies, joernaliste, kerke, private besighede ens.) Kortom, is hierdie probleme soos volg:

  1. Problematiese definisies;
  2. Verpligte sekerheidsklaring; en
  3. Nie-nakoming van ‘n konstitusionele hofuitspraak.

 

Probleem 1: GILAB se definisies ontbreek, sirkulêr, te wyd en/of vaag

Ontbreek:

Bv. “bedreiging“, die mees deurslaggewende konsep in al die intelligensie wette wat die GILAB wil verander en in die GILAB self, word nêrens omskryf nie.

Sirkulêr:

Bv. “nasionale veiligheid” en “geleentheid of potensiële geleentheid” is sirkulêre definisies wat op hulself staatmaak binne dieselfde konteks, wat ‘n eindelose doolhof van interpretasie skep. Die SA Intelligensie-agentskap het dus vrye teuels om dit na goeddunke te interpreteer.

Te wyd:

Voorbeeld 1: die wetsontwerp se definisie van “bedreiging vir nasionale veiligheid” faal daarin om “wettige politieke aktiwiteit, voorspraak, protes of teenstanders” uit te sluit en te beskerm. Enigeen wat betrokke is by hierdie aktiwiteite, wat beskerm behoort te word as deel van ‘n landsburger se politieke regte (artikel 19 van die Grondwet), kan dus deur die Intelligensie-agentskap as ‘n “bedreiging vir nasionale veiligheid” beskou word.

Voorbeeld 2: Die faktore wat tans in die Wetsontwerp se definisie van “sekuriteitsbevoegdheidstoets” vervat word, lees tans disjunktief: “administreer ‘n keuringsondersoek om die sekuriteitsbevoegdheid van ‘n persoon of instelling te bepaal en indien sodanige persoon of instelling geskik is om toegang tot geklassifiseerde inligting of kritieke staatsinfrastruktuur of word beskou as kwesbaar vir afpersing, onbehoorlike invloed of manipulasie of sekuriteit kompromie of is ‘n persoon of instelling van nasionale veiligheidsbelang …

Hierdie disjunktiewe lees (d.w.s. gebruik van “of” in teenstelling met “en”) van die faktore, maak die definisie van “sekuriteitsbevoegdheidstoets” te wyd, want letterlik elke burger in die Republiek kan as kwesbaar vir bv. “manipulasie” geag word. Dit beteken egter nie dat hulle ‘n bedreiging vir nasionale veiligheid is nie en dat die staat ‘n sekerheidsklaring op hulle moet toepas nie. Dit lei ook daartoe dat die klousule nie sy doel bereik nie (wat ongetwyfeld ten doel het om slegs individue met toegang tot geklassifiseerde inligting en kritiese staatsinfrastruktuur te ondersoek, nie elke liewe burger in die Republiek nie). Hierdie gebreke lei op hul beurt tot ‘n arbitrêre skending van grondwetlike regte wat dit ‘n onregverdigbare en onredelike beperking van hierdie regte maak.

Vaag:

Voorbeeld 1: Die definisie van “persoon of instelling van nasionale veiligheidsbelang” is uiters kommerwekkend, want dit berus op twee (2) problematiese konsepte, naamlik:

  1. Die Wetsontwerp bepaal daar is landsburgers óf instellings wie se aktiwiteite deur die Intelligensie-agentskap as teenstrydig met Suid-Afrika se grondwetlike voornemens geag word om as gelykes te leef; in vrede en harmonie te leef, vry te wees van vrees en gebrek, en ʼn beter bestaan na te streef. (d.w.s. strydig met artikel 198 van die Grondwet). Hierdie vae en dubbelsinnige konsepte beteken dat enigiets potensieel (verkeerd) vertolk kan word as teenstrydig met artikel 198 en daarom kan enigiemand wat deur die Agentskap verdink word, kan beskou word as ‘n persoon óf instelling van nasionale veiligheidsbelang.
  2. Hierdie aktiwiteite sluit in, maar is nie beperk tot, aktiwiteite wat gedefinieer word as ‘n “bedreiging vir nasionale veiligheid“, wat problematies is omdat dit nié “wettige politieke aktiwiteit, voorspraak, protes of teenstand” uitsluit nié.

Voorbeeld 2: die frase “geleentheid of potensiële geleentheid of bedreiging of potensiële bedreiging vir nasionale veiligheid” word in verskeie van die GILAB se definisies gebruik (bv. “Binnelandse intelligensie“; “Buitelandse intelligensie“; “intelligensie-insameling“; “nasionale veiligheid”; “nasionale veiligheid intelligensie” ens.). Nie net is hierdie frase oorbodig nie, maar dit is ‘n vae konsep.

Die resultaat van al hierdie definisies is dat dit teenstrydig is met die Grondwet (óf spesifieke regte óf die grondliggende waarde van die oppergesag van die reg) en in die praktyk onwerkbaar is.

Oplossings vir probleem 1:

  1. Definieer “bedreiging” as “dreigende gevaar van ernstige skade aan die Republiek as een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die waardes uiteengesit in artikel 1 van die Grondwet” en skrap alle verwysings na “geleentheid of potensiële geleentheid“. Dit sal baie problematiese aspekte oplos, insluitend, maar nie beperk nie tot verskeie definisies en aspekte wat verband hou met verpligte keuringsbepalings.
  2. Verbeter en gee helderheid aan die uitgebreide en sirkulêre definisies soos volg:

Probleem 2: Verpligte keuring

Benewens al hierdie problematiese definisies, maak die Wetsontwerp dit verpligtend vir die Intelligensie-agentskap om sekerheidsklarings te doen op persone óf instellings wat vermoedelik bedreigings of potensiële bedreigings vir nasionale veiligheid is. Dit word gedoen om hul sekuriteitsbevoegdheid te bepaal om te besluit of hulle kwalifiseer vir ‘n sekuriteit klaringsertifikaat, óf al dan nie.

Die probleem spruit voort uit die afwesigheid van ‘n duidelike definisie vir “bedreiging” en die sirkulêre definisie van “nasionale veiligheid“. Gevolglik bemagtig dit die Intelligensie-agentskap om keuringsondersoek te doen op entiteite soos media huise of burgerregteorganisasies, insluitend hul werknemers.

Oplossing vir probleem 2:

Beperk verpligte sekerheidsklarings tot slegs kategorieë van aansoekers en werknemers van staatsorgane en -departemente.

Probleem 3: Nie-nakoming van die Konstitusionele Hof se Amabhungane Centre v Minister of Justice-uitspraak deur versuim om voorsiening te maak om ‘n persoon in te lig wat onderworpe was aan verkenning

In hierdie uitspraak het die Konstitusionele Hof bevind dat die Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie en Verskaffing van Kommunikasieverwante Inligting, 2002 (“RICA”) ongrondwetlik was, omdat dit versuim het om ‘n persoon in te lig wat onderworpe was aan verkenning. Hierdie dwaling het neergekom op ‘n onregverdigbare skending van hul grondwetlike regte op privaatheid en toegang tot geregtigheid.

Die GILAB bevat dieselfde mislukking en is dus ongrondwetlik.

Oplossing vir probleem 3:

Maak voorsiening om ‘n persoon in te lig wat onderworpe was aan verkenning.

Slot:

Die bogenoemde drie (3) probleme geïdentifiseer in die weergawe van die GILAB wat vir publieke kommentaar oopgestel is, sal daartoe lei dat die staat op enigiemand kan spioeneer sonder om hulle ooit in te lig. Hierdie probleme skep die geleentheid om GILAB te misbruik, veral deur toekomstige regerings wat kritiese stemme wat dit teenstaan te dreig óf selfs stil te maak.

Dit is waarom die FW de Klerk Stigting onwrikbaar is dat indien die Staat ‘n grondwetlike reg (bv. privaatheid, politieke regte ens.) wil beperk, hy dit slegs mag doen i.t.v. die Grondwet se artikel 36-beperkingstoets, wat die GILAB nie slaag nie. Die Stigting het ook deurgaans die Parlement daarop gewys dat GILAB vanweë die sirkulêre definisies daarin vervat, ook nie aan ’n grondliggende waarde van die Grondwet, naamlik die oppergesag van die reg (artikel 1(c)), wat rasionaliteit vereis, voldoen nie.