Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE FW DE KLERK STIGTING VERWELKOM ZIZI KODWA SE BEDANKING AS PARLEMENTSLID

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 26/07/2024

 

Die FW de Klerk Stigting verwelkom Zizi Kodwa se bedanking as parlementslid (“LP”). Zizi Kodwa is as ’n LP ingesweer ondanks kriminele aanklagte van korrupsie. Indien Kodwa skuldig bevind word en tot meer as ‘n jaar tronkstraf gevonnis word, sonder die keuse van ‘n boete, verbied die Grondwet hom om ‘n LP te wees vir tot vyf jaar nadat hy die vonnis voltooi het (artikel 47(1)).

Die Parlement is ‘n deurslaggewende instelling: LP’s verteenwoordig die land se bevolking en maak ons wette. Hulle word deur die Grondwet verplig om regering deur die mense te verseker deur, onder andere, die uitvoerende gesag se optrede na te gaan en toesig daaroor uit te oefen (artikel 42(3)). Ons moet LP’s hê wat die integriteit en geloofwaardigheid van die Parlement in die publiek se oë sal handhaaf – etiese gedrag en integriteit moet die skietlood wees wanneer politieke partye LP’s kies,” sê Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Programbestuurder.

Die ANC se aanstelling van Kodwa – iemand wat teregstaan op kriminele aanklagte wat, indien skuldig bevind, hom diskwalifiseer om ’n LP te wees – het groot kommer veroorsaak. Dit het die publiek se vertroue in die Parlement geskend, met sommige wat dit as ‘n ‘huis van skelms’ bestempel het. Dit is van kardinale belang dat Suid-Afrikaners ons demokratiese instellings vertrou. Om hierdie rede word Kodwa se bedanking verwelkom: Dit beklemtoon dat partye slegs diegene wat voorbeelde van aanspreeklikheid en etiese gedrag is, as LP’s moet aanstel,” brei Ellerbeck uit.