+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE FW DE KLERK STIGTING VERWELKOM HOFUITSPRAAK WAT HLOPHE ONGESKIK VERKLAAR OM OP DIE REGSDIENSKOMMISSIE TE DIEN

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 03/06/2025

 

Die FW de Klerk Stigting verwelkom die beslissing van die Hooggeregshof in Kaapstad dat dr. John Hlophe, LP, ongeskik is om op die Regsdienkommissie (“RDK”) te dien – die liggaam wat verantwoordelik is vir aanstellings op die regbank en dissiplinêre verrigtinge. “Dr. Hlophe het verlede jaar uit die RDK bedank, maar hierdie uitspraak bevestig die erns waarmee die Parlement sy ses verteenwoordigers op die RDK moet aanstel,” sê Daniela Ellerbeck, prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Programme.

Die Stigting het vroeër sy kommer uitgespreek oor dr. Hlophe se aanstelling tot die Kommissie, aangesien hy skuldig bevind is aan growwe wangedrag deur dieselfde liggaam waarop hy toe aangestel is om te dien. Hierdie bevinding het ook gelei tot sy skorsing deur die President en sy daaropvolgende verwydering as regter deur die Parlement (d.w.s. sy ontheffing),” sê Ellerbeck.

Die Hof het bevind dat die Parlement se aanstelling van dr. Hlophe tot die RDK ongrondwetlik was en dat die Parlement versuim het om die erns van die implikasies wat sy aanstelling vir die Kommissie se institusionele geloofwaardigheid en grondwetlike mandaat inhou, in ag te neem. “Om ’n persoon wat skuldig bevind is aan growwe regterlike wangedrag – wat tot sy verwydering as regter gelei het – aan te stel op dieselfde liggaam wat hom skuldig bevind het en wat toesig hou oor regterlike dissipline, ondermyn die integriteit van die regbank. Om só ’n persoon met ’n rol te vertrou waar etiese standaarde van uiterste belang is, vernietig die publiek se vertroue en verswak die instelling self,” sluit Ellerbeck af.