Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
DIE FW DE KLERK STIGTING SE REAKSIE OP PRESIDENT RAMAPHOSA SE NUK-EKONOMIESE PLAN: IMPLEMENTEER EN GEE VLERKE
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 06/10/2025
President Cyril Ramaphosa se slottoespraak by die ANC se Spesiale NUK (Nasionale Uitvoerende Komitee) het tien intervensies uiteengesit om “ekonomiese groei weer aan te wakker” deur herhaaldelik die woorde: “implementering, implementering, implementering” te herhaal.
Die FW de Klerk Stigting verwelkom die hernieude fokus op energie, logistiek, die professionalisering van die staatsdiens en die groei van uitvoere. Maar implementering sal slegs werklik resultate lewer indien dit gepaard gaan met markvriendelike hervormings, institusionele onafhanklikheid en grondwetlike aanspreeklikheid.
Die Stigting steun beslissende optrede om die elektrisiteitsnetwerk uit te brei en private belegging in transmissie en opwekking te ontsluit. Dit is in lyn met die oopstelling van die elektrisiteitsmark vir mededinging – ’n noodsaaklike stap vir groei en werkskepping. Tog hou die voorstel vir “voorkeurtariewe vir ferrochroom-, mangaan- en staalprodusente” die risiko van markvervorming en kruissubsidiëring in. Tydelike, deursigtige verligting kan geregverdig wees waar sistemiese mislukkings ondernemings benadeel het, maar permanente prysvoorkeure vestig ondoeltreffendheid en skuif die koste na huishoudings en ander sektore.
Net so is die versnelde herstel van Transnet, met werklike private deelname aan spoorweë en hawens, sowel as duidelike en mededingende toegangsreëls, van kardinale belang. Wat nou saak maak, is regulatoriese sekerheid, deursigtige verkrygingsprosesse en beskerming teen politieke patronaatskap. Industriële parke en provinsiale groeistrategieë moet fokus op veilige, goed-ontwikkelde terreine en op die handhawing van die oppergesag van die reg; die staat moet infrastruktuur en sekuriteit verseker, terwyl die mark bepaal watter sektore die beste floreer.
Wat chroom en mangaan betref, dui gesprekke oor uitvoertariewe en beskermende heffings eerder op proteksionisme as op mededingendheid. Suid-Afrika se welvaart berus op oop, reëlgebaseerde handel. Die verbreding van handelsvennote deur die AfCFTA en die behoud van toegang tot groot internasionale markte is baie meer wenslik as die oprigting van handelsversperrings wat vergelding uitlok en koste in die waardeketting verhoog.
Die President se fokus op die professionalisering van die staatsdiens, merietegebasseerde-aanstellings van beamptes en konsekwente gevolgebestuur is grondwetlik belyn. Die ware toets lê egter in deurlopende gedepolitiseerde werwing van staatsamptenare en konsekwente toepassing van reëls. Dieselfde beginsel geld vir die hervorming van staatsbeheerde ondernemings (SOE’s). Want hoewel daar op sekere gebiede vordering is, bly die ontbondeling van monopolieë, die afdwinging van goeie bestuurspraktyke en die oopstelling van markte vir mededinging nie-onderhandelbaar.
In hierdie verband het die NUK die klem verder verskerp op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (“BBSEB”) en belowe om rasgebaseerde bemagtiging te verskerp om “ongeregtighede reg te stel” en “ongelykheid te beëindig” as ’n kernpilaar van sy ekonomiese plan. Die FW de Klerk Stigting het pleit egter konsekwent vir ’n verskuiwing weg van kwota-gedrewe BBSEB na ’n nie-rassige, markvriendelike model van bemagtiging wat op werklike benadeling, vaardigheidsontwikkeling en inklusiewe groei gegrond is. Die Stigting waarsku dat die huidige raamwerk dikwels elitisme bevorder, korrupsie bevorder, belegging afskrik en ware breëbasis-ontwikkeling ondermyn.
Verder kan openbare werksprogramme wel armoede en ontbering verlig, maar dit kan nooit werkskepping in die privaatsektor vervang nie. Vaardigheidsontwikkelingspyplyne en vakleerlingskappe moet deur werklike markvraag gedryf word en fiskale volhoubaarheid verseker. Die uitbreiding van finansiering vir KMMO’s (klein, medium en mikro-ondernemings) deur middel van gemengde finansierings- en risikodelingsmeganismes is slegs sinvol indien ontwikkelingsinstellings as katalisators optree – nie as gepolitiseerde instellings nie – en indien prestasie deursigtig gemeet en afgedwing word.
Die Stigting neem kennis van die plan om “pensioenfondse te mobiliseer” en om “fiskale, monetêre, handels- en nywerheidsbeleid te belyn.” Enige beweging in die rigting van voorgeskrewe bates sal eiendomsregte en spaargeld ondermyn en bots met die Grondwet se institusionele waarborge.
Belegging moet vrywillig wees, op markverwante opbrengste gebaseer wees en moet gesteun word deur geloofwaardige, bankbare projekte – enigiets minder sal nie kapitaal op skaal lok nie.
Ja, die voorgestelde “ekonomiese oorlogskamer” kan beter samewerking en koördinering bevorder, maar dit mag nie mag sentraliseer ten koste van parlementêre toesig en deursigtige prestasieverslagdoening nie. Prestasie-telkaarte moet openbaar, metodologies betroubaar en onafhanklik verifieerbaar wees.
“Indien ‘implementering’ beteken dat mededinging, eiendomsregte en institusionele onafhanklikheid beskerm word, sal ons belegging en werkskepping sien,” sê Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering by die FW de Klerk Stigting. “Maar as dit neerkom op tariefvoorkeure, proteksionisme en gesentraliseerde beheer, sal ons bloot die dekstoele herrangskik.”
“ Suid-Afrikaners het ’n bevoegde staat nodig wat billike reëls neerlê en dit oorlaat aan die privaatsektor om te ontwikkel, ” sê Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting. “ Herstel die kragnetwerk, herstel die spoorweë, professionaliseer die staatsdiens en handhaaf die oppergesag van die reg – dan sal kapitaal en talent die res doen. ”
Die Stigting doen ’n beroep op die regering om ’n duidelike implementeringstydlyn aan die publiek bekend te maak; wetgewende stappe te neem om professionalisering en mededingende toegang in netwerkbedrywe te verseker; deursigtige, tydsgebonde verligting te bied waar dit nodig is; en wanaanwending van voorgeskrewe bates ondubbelsinnig te verwerp. Suid-Afrika sal nie deur dekreet groei nie – dit sal groei wanneer grondwetlike regering en vryemarkbeginsels hul werk kan doen.