Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE FW DE KLERK STIGTING LEWER KOMMENTAAR OOR KOALISIEWETSONTWERP EN VRA PUBLIEK OM DEEL TE NEEM

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 21/08/2024

 

Die FW de Klerk Stigting verwelkom die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (“die Departement”) se Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture 2024 (die “Koalisiewetsontwerp”).

Die Stigting is lank reeds van standpunt dat die formalisering van koalisie-ooreenkomste tussen politieke partye deurslaggewend is om stabiele en doeltreffende administrasie te verseker. Alhoewel die Stigting nie saamstem met al die Departement se voorgestelde oplossings nie, beskou dit die Wetsontwerp as die eerste stap in die regte rigting om die probleem van wankelrige munisipale koalisies aan te spreek,” sê Daniela Ellerbeck, ‘n prokureur en die FW de Klerk Stigting se bestuurder van grondwetlike programme.

Die Stigting het spesifiek alternatiewe oplossings voorgestel om die probleem van wisselende uitvoerende burgemeesters in onbesliste munisipaliteite, aan te spreek: “Die wetsontwerp stel voor dat ‘n ‘verpligte koalisie’ effektief in onbesliste munisipaliteite afgedwing sal word, wat daartoe sal lei dat diegene wat die uitoefening van uitvoerende gesag belemmer op grond van kwessies waarmee hulle nie saamstem nie, ook sal deel uitmaak van die uitvoerende komitee,” sê Ellerbeck. “Die Stigting glo dit sal net groter onstabiliteit in die bestuur van daardie munisipaliteite veroorsaak, nie minder nie. Die Stigting het eerder voorgestel dat stabiliteit bewerkstellig kan word deur die wet rondom die wyse en/of omstandighede waaronder ’n uitvoerende burgemeester en/of adjunk-uitvoerende burgemeester uit sy amp onthef mag word, te verskerp,” brei Ellerbeck uit.

Die Koalisiewetsontwerp is oop vir kommentaar tot 31 Augustus 2024. Die Stigting versoek die publiek om deel te neem en kommentaar te lewer op die Wetsontwerp.