+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DERTIG JAAR VAN DEMOKRASIE: MOET RAS, NASIONALITEIT EN GESLAG NOG STEEDS VEREIS WORD VIR GRONDOUDITS?

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 13/01/2025

 

President Cyril Ramaphosa het onlangs die Wysigingswet op die Registrasie van Aktes van 2024 onderteken, ‘n belangrike stuk wetgewing wat gemik is op die modernisering van Suid-Afrika se grondregistrasieproses. Hierdie wet wysig die Wet op die Registrasie van Aktes van 1937 en het ten doel om die akteregistrasieprosedures te belyn en om die eenvormigheid van die stelsel te verbeter. Artikel 6 bring ‘n noemenswaardige wysiging aan artikel 10 van die Hoofwet, deur spesifiek artikel 10(1)(t) by te voeg. Hierdie artikel magtig die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling om die insameling van persoonlike inligting oor ras, geslag, burgerskap en nasionaliteit vir statistiese en grondouditdoeleindes te reguleer.

 

Doel en gebruik van Persoonlike Inligting

Die Wysigingswet op die Registrasie van Aktes bepaal dat die insameling van sensitiewe persoonlike data, soos ras, geslag, burgerskap en nasionaliteit, slegs vir statistiese doeleindes en grondoudits gebruik sal word. Hierdie inligting sal spesifiek gebruik word om grondeienaarskap-patrone te monitor en moontlike wanbalanse óf historiese ongelykhede in grondverspreiding te identifiseer. Belangrik is dit dat die wet waarborg dat hierdie data nie aan die publiek beskikbaar gestel sal word nie. Dit sal slegs intern deur die betrokke departemente gebruik word vir regeringsdoeleindes, soos grondoudits en statistiese verslagdoening.

Ten spyte van hierdie waarborg van vertroulikheid, ontstaan daar steeds kommer oor synde die staat moet aanhou om sulke inligting in te samel, veral in ‘n land waar die demokratiese beginsels van gelykheid en nie-rassigheid sentraal staan.

 

Grondwetlike Oorwegings

Suid-Afrika se Grondwet beskerm die waardes van gelykheid, menswaardigheid en vryheid van diskriminasie. Artikel 9(1) bepaal dat alle mense gelyk is voor die reg en geregtig is op gelyke beskerming en voordeel van die reg. Artikel 9(2) maak egter voorsiening vir regstellende aksie-maatreëls wat bedoel is om die sosio-ekonomiese ongelykhede wat as gevolg van Apartheid ontstaan het, aan te spreek. Die Grondwet bied dus ‘n beperkte regverdiging vir rasgebaseerde maatreëls wanneer dit gebruik word om vorige diskriminasie reg te stel.

Tog verbied artikel 9(3) van die Grondwet onbillike diskriminasie op grond van ras, geslag en nasionaliteit, tensy sulke maatreëls geregverdig kan word deur breër doelwitte, soos die bevordering van gelykheid. Dit skep spanning in die sin dat terwyl die Grondwet regstellende aksie toelaat om die nadele van die verlede aan te spreek, vereis dit óók dat sulke maatreëls deeglik aangepas moet word om te verseker dat dit nie nuwe diskriminasie bevorder nie. Regstellende aksie moet geregverdig word deur ‘n voortdurende, aantoonbare behoefte en moet aanpas by veranderende sosiale en ekonomiese omstandighede.

Gegewe die verloop van tyd sedert Apartheid beëindig is, ontstaan die vraag: Is dit steeds nodig om ras- en demografiese data in te samel, óf kan hierdie data vervang word deur meer toeplike aanwysers van ongelykheid, soos ekonomiese behoefte of geografiese ligging eerder te benut?

 

Die Van Heerden-saak

Die Van Heerden-saak (Minister van Finansies v. Van Heerden, 2004) verskaf belangrike regskonteks vir die beoordeling van die grondwetlikheid van rasgebaseerde maatreëls. In hierdie saak het die Konstitusionele Hof beklemtoon dat regstellende aksie-maatreëls nodig, toepaslik en effektief moet wees om wettige openbare doelwitte te bereik. Dit het ook duidelik gemaak dat sulke maatreëls nie bestaande ongelykhede moet laat voortduur nie, maar gerig moet wees op die bevordering van benadeelde groepe, sonder om ander onregverdig te benadeel.

As hierdie beginsels op grondhervorming toegepas word, is die kritieke vraag of die voortgesette gebruik van ras as ‘n primêre kategorie vir grondoudits steeds geregverdig is. Na drie dekades van demokrasie word die behoefte aan rasgebaseerde kategorisering in grondoudits toenemend bevraagteken. Terwyl die vorige wanbalanse in grondbesit onmiskenbaar is, loop die fokus deur net op ras te fokus die risiko om verdeeldheid te handhaaf, iets wat die Grondwet probeer oorbrug.

 

Beweeg verder as Rassekategorieë

Die Grondwet se aanhef stel ‘n nie-rassige samelewing in die vooruitsig waar geleenthede nié deur ras gedefinieer word nié. Hierdie visie staan in kontras teenoor die voortgesette gebruik van rasgebaseerde (en ander) kategorieë in die Wysigingswet op die Registrasie van Aktes. Alhoewel ras steeds ‘n geldige maatstaf is om historiese grondwanbalanse aan te spreek, word daar toenemend erken dat sosio-ekonomiese status, eerder as ras, ‘n meer akkurate aanduiding van behoefte kan wees.

Oor tyd het Suid-Afrika se grondhervormingsdiskoers ontwikkel om nie net rasse-oorwegings nie, maar ook ‘n wyer reeks faktore, soos armoede en ekonomiese uitsluiting, in ag te neem. Hierdie breër benadering weerspieël die idee dat grondhervorming nie net die historiese rasse-ongelykhede moet regstel nie, maar ook die hedendaagse sosio-ekonomiese ongelykhede moet aanpak. In hierdie konteks kan ‘n fokus op ekonomiese behoefte, eerder as net ras, ‘n meer effektiewe manier wees om langtermyn-transformasie en geregtigheid te bewerkstellig.

Grondoudits kan byvoorbeeld fokus op geografiese gebiede of gemeenskappe wat aanhoudende armoede en marginalisering ervaar het, ongeag die rassesamestelling van daardie gemeenskappe. Hierdie benadering stem ooreen met die Grondwet se breër verbintenis tot gelykheid en nie-rassigheid.

 

Impak op Waardigheid en Privaatheid

Verder wek die voortdurende versameling van ras-, nasionaliteit- en geslagsdata beduidende kommer oor privaatheid en waardigheid, veral onder die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (“POPIA”). POPIA bepaal dat persoonlike data slegs vir spesifieke, wettige doeleindes ingesamel mag word en met die nodige inagneming van individue se privaatheid hanteer moet word. Terwyl die Wysigingswet op die Registrasie van Aktes bepaal dat sulke inligting nie publiek beskikbaar sal wees nie, laat die insameling van sensitiewe persoonlike data steeds vrae ontstaan oor hoe goed individue se waardigheid beskerm sal word.

Gegewe Suid-Afrika se geskiedenis van rasseklassifikasie en die aanhoudende sosiale uitdagings wat verband hou met ras en nasionaliteit, kan die insameling van sulke data—veral vir statistiese doeleindes— rasse- en nasionale verdeeldheid onbewustelik versterk. Die risiko vir misbruik van hierdie data is werklik en die regering moet sorg dat daar sterk beskermingsmaatreëls in plek is om individue se waardigheid en privaatheid te beskerm.

 

Alternatiewe vir Rasgebaseerde Maatreëls

Een van die kernbeginsels van ons Grondwet is die bou van ‘n nie-rassige samelewing. In die konteks van grondhervorming is daar toenemende oproepe om verder te beweeg as rasgebaseerde maatreëls. In plaas daarvan om ras as ‘n primêre kategorie te gebruik, kan grondoudits fokus op sosio-ekonomiese aanwysers soos inkomste, toegang tot behuising, onderwys en werk. Hierdie faktore weerspieël die werklikhede van diegene wat grondhervorming benodig, ongeag ras, meer akkuraat.

Regeringsgrondhervormingsinisiatiewe fokus al hoe meer op die ekonomiese status van individue, en nie net op hul rasse-identiteit nie. Hierdie verskuiwing stem ooreen met die ontwikkelende visie van ‘n Suid-Afrika waar ras nie meer die bepalende kenmerk van benadeling is nie.

 

Gevolgtrekking

Die instelling van artikel 10(1)(t) in die Wet op die Registrasie van Aktes bring fundamentele grondwetlike en praktiese vrae na vore oor die voortgesette relevansie van die insameling van ras-, nasionaliteit- en geslagsdata. Terwyl die insameling van sulke inligting dalk sekere beleidsdoelwitte kan dien, vereis die land se demokratiese beginsels van gelykheid, nie-rassigheid en waardigheid dat ons krities moet oorweeg óf hierdie kategorieë steeds nodig is vir grondoudits en hervorming ná drie dekades van demokrasie.

Die tyd mag dalk aangebreek het om verby rasgebaseerde maatreëls te beweeg. Die regering moet oorweeg om meer inklusiewe, sosio-ekonomiese kriteria te gebruik wat die behoefte aan grondhervorming beter weerspieël. Suid-Afrika se Grondwet voorspel ‘n toekoms waar ras nie meer die bepalende faktor vir ‘n mens se geleenthede of toegang tot hulpbronne is nie. Om hierdie visie te verwesenlik, moet ons die instrumente wat ons gebruik om ongelykheid aan te spreek, heroorweeg en sorg dat persoonlike inligting met die grootste respek vir privaatheid en waardigheid, hanteer word.