Dit beteken eerstens dat die Hoofregter ten alle tye só moet optree dat alle Suid-Afrikaners, ongeag hul ras, kan vertrou dat hulle op gelyke, onpartydige wyse behandel word en sonder vooroordeel deur die regstelsel. Die Hoofregter moet gevolglik baie versigtig wees oor wat hy in die openbaar sê en moet sorg dat dit nie die indruk skep dat dit bevooroordeel is op grond van ras nie, of etnies vyandig is nie.
Ongelukkig het sy toespraak op 6 Julie skaars daarin geslaag om vyandigheid teenoor almal wat krities is van die Regterlike Dienskommissie (RDK) weg te steek. Hy het - in sterk teenstelling met sy latere verwysings na eenheid en nasiebou - weggespring deur sy gehoor daaraan te herinner dat daardie Suid-Afrikaners wat die hoofoorsaak is van die lyding wat deur apartheid veroorsaak is, steeds, volgens hom, die hoofbegunstigdes is van die stelsel. Hy het voorts verklaar - sonder enige bewyse - dat “’n groep bestaande uit apartheid se belangrikste rolspelers” hulle voorhou as “agente vir die uitvoering van grondwetlike nakoming terwyl hulle inderwaarheid ’n weerstandbeweging teen verandering is”.
Hy het ’n blatante wanvoorstelling gemaak van die gegronde bekommernisse van gerespekteerde lede van die regsprofessie en burgerlike samelewing deur te sê dat hul eis dat regters na verdienste aangestel word, eintlik ’n poging is om “die regsberoep en die regbank deur wit mans te laat domineer”. Of die Hoofregter se uitlatings ’n poging was om sekere emosies onder die hoofsaaklik swart gehoor aan te blaas, en of dit bloot ’n uitdrukking van sy eie opinie was, dit is onaanvaarbaar. Watter versekering kan aan alle Suid-Afrikaners gegee word dat sulke opinies nie ’n invloed sal hê op enige beslissing wat Hoofregter Mogoeng kan maak ten opsigte van sake waar hul onderskeie belange betrokke is nie?
Tweedens vereis die Hoofregter se eed van hom om baie versigtig te wees met uitlatings wat hy in die openbaar maak sodat hy nie betrokke raak by dispute wat voor die hof kan dien nie. Weer eens was sy toespraak deurtrek van partydige uitlatings, wat enige aanspraak wat hy op onpartydigheid kon hê ten opsigte van huidige en toekomstige sake wat met die RDK verband hou - en veral sy rol in die aanstelling van regters , in twyfel trek. Hy beweer dat diegene wat die RDK in die howe aanvat “na strooihalms gryp om die RDK te diskrediteer” en dat hulle “die RDK wil voorskryf”. Hy sê dat dit deel is van ’n “doelbewuste poging…om afbreuk te doen aan die RDK” en om die RDK te intimideer om, sonder behoorlike oorweging, sekere wit mans en soms sekere vroue aan te beveel vir aanstelling op die regbank.
Die Hoofregter het hierdie uitlatings gemaak ten spyte van onlangse hofbeslissings waarin bevind is dat kritiek teen die RDK nie ongegrond is nie. Op 30 September 2011, in Cape Bar Council v Judicial Service Commission and Others, het die Kaapse Hoë Hof - met inagneming van die RDK se versuim om vakante poste op die regbank op 26 April 2011 te vul - verklaar dat die verrigtinge nie ooreenstem met die Grondwet nie, dat dit onwettig is en gevolglik ongeldig is. Op 14 September 2012 het die Appèlhof die RDK se appèlaansoek afgekeur en in wese die Hoë Hof se beslissing gestaaf. Verlede maand op 7 Junie het die Helen Suzman-stigting (HSF) ’n regsgeding teen die RDK aanhangig gemaak ten einde die prosedure en besluitnemingsproses ten opsigte van die aanbeveling van persone vir posisies op die regbank te verduidelik. Die Hoofregter het dit reeds baie duidelik gemaak wat sy posisie is in hierdie verband, en sal gevolglik homself dus so stil as moontlik moet onttrek van die saak indien dit ooit voor die Konstitusionele Hof sou dien.
Laastens vereis die Hoofregter se eed van hom om geregtigheid toe te pas in ooreenstemming met die Grondwet en die reg. Ander faktore, afgesien van die Grondwet en die reg, kan egter die Hoofregter se beslissings beïnvloed. Dit wil voorkom of hy van mening is dat sy weergawe van transformasie voorkeur moet kry bo die voorskrifte van die Grondwet en die reg. Tydens ’n onlangse openbare toespraak het hy benadruk dat “ons die regbank moet transformeer sodat die demografie verteenwoordig word. Dit is die uiteindelike doelwit”.
Die Hoofregter wil duidelik demografiese verteenwoordiging op die regbank afdwing op dieselfde wyse as wat die regering wiskundige demografiese verteenwoordiging op die openbare sektor afdwing - en nou ook in die privaatsektor wil doen. Die strewe na demografiese verteenwoordiging het egter nie sy oorsprong in die Grondwet nie, maar in die ideologie van die regerende alliansie.
Die Grondwet steun nie die idee van demografiese verteenwoordiging nie. Artikel 195(1)(i) doen wel ’n beroep om ’n openbare administrasie wat verteenwoordigend is van die Suid- Afrikaanse mense - maar skryf ook voor dat “indiensnemings- en personeelpraktyke gebaseer moet wees op beskikbaarheid, objektiwiteit en regverdigheid”. Artikel 174(2) verklaar ook dat “[di]e behoefte dat die regbank in die breë die rasse- en geslagsamestelling van Suid-Afrika weerspieël, [in] aanmerking geneem [moet]word wanneer regterlike beamptes aangestel word.” Sodanige oorweging is egter onderhewig aan artikel 174(1), wat verklaar dat “[en]ige toepaslik gekwalifiseerde vrou of man wat ‘n geskikte en gepaste persoon is, as ‘n regterlike beampte aangestel [kan] word”.
Die regsprofessie en spesifiek die regbank het al wesenlik getransformeer sedert 1994. Alle redelike mense - met inbegrip van die oorgrootte meerderheid lede van die regsprofessie, ongeag hul ras - aanvaar die behoefte aan ’n regsprofessie en regbank wat in die breë verteenwoordigend is van die Suid-‐Afrikaanse bevolking. Hulle sal die Hoofregter steun in enige pogings om hindernisse wat in die pad van swart, bruin of Indiese prokureurs staan, uit die weg te ruim. Hulle sal die behoefte aan die lewering van meer swart, bruin en Indiese advokate steun en sal verseker dat hulle belangrike opdragte ontvang, ongeag hul geslag. Dit moet egter alles binne die raamwerk geskiet van die Grondwet se vereistes en voorskrifte wat versigtig gebalanseer is.
Uitgereik deur die Sentrum vir Grondwetlike Regte
[Picture Source: GCIS – www.enca.com]
{phocadownload view=file|id=241|text=Laai die PDF af|target=s}