In 2007 het mnr Kubyana (as verbruiker) en Standard Bank (die amptelike geregistreerde kredietverskaffer) ’n ooreenkoms ten opsigte van ’n afbetalingsverkoop vir die aankoop van ’n nuwe motorvoertuig gesluit. Kort daarna het mnr Kubyana op ’n stadium versuim om sy gereelde betalings na te kom en het agterstallig geraak.
In 2010 het die bank ’n kennisgewing ingevolge artikel 129 van die Wet aan Mr Kubyana gestuur, waarin aangedui is dat hy agterstallig is en dat die bank voornemens is om ’n hof te nader ten einde die skuld te verhaal. Die bank het die kennisgewing per geregistreerde pos aan die Poskantoortak gestuur wat mnr Kubyana in die afbetalingsverkoopsooreenkoms aangedui het. Twee kennisgewings is ook aan mnr Kubyana se huis gestuur waarin hy gevra is om sy geregistreerde pos af te haal – hy het egter versuim om dit te doen.
Op ’n latere stadium is die kennisgewing teruggestuur aan Standard Bank omdat dit nie afgehaal is nie.
Ter oorweging van die saak het die Hoë Hof bevind dat die bank sy regsplig nagekom het deur die kennisgewing ingevolge artikel 129 van die Wet onder die aandag van mnr Kubyana te bring. Gevolglik was Standard Bank daarop geregtig om die skuld van mnr Kubyana te verhaal, en hy is beveel om die uitstaande bedrag betreffende die afbetalingsverkoopsooreenkoms te betaal en die motor terug te gee.
Daarbenewens het die Konstitusionele Hof die beslissing van die Hoë Hof gehandhaaf en ook ten gunste van Standard Bank beslis.
Die Hof het bevind dat ’n kredietverskaffer ’n kennisgewing aan ’n verbruiker moet stuur waarin die verbruiker se wanbetaling uiteengesit word en sy of haar regte uitgewys word. Dít vervul al die regterlike vereistes soos in artikel 129 van die Wet uiteengesit word. Die Hof het daarop gewys dat dit ’n noodsaaklike komponent van die Wet se pogings is om eers oplossings te probeer vind wat nie met litigasie verband hou nie, voordat die howe genader word.
Die Hof het voorts aangevoer dat ten einde aflewering uit te voer, die kredietverskaffer (in dié geval Standard Bank) daardie stappe moet doen wat die kennisgewing onder die aandag van die redelike verbruiker sal bring.
Dít het die gevolg dat wanneer ’n verbruiker ’n keuse gemaak het om kennisgewings per pos te ontvang, ’n kredietverskaffer die volgende moet kan bewys dat:
(i) die kennisgewing per geregistreerde pos gestuur is;
(ii) die kennisgewing die regte tak van die Poskantoor bereik het; en
(iii) dat die kennisgewing van die Poskantoor waarin gevra word dat die verbruiker die kennisgewing ingevolge artikel 129 afhaal, na die gekose adres gestuur is.
Die Hof het bevind dat indien ’n kredietverskaffer hierdie stappe gedoen het, sy verpligtinge nagekom is, mits die kennisgewing wat ingevolge artikel 129 uitgereik is, onder die omstandighede nie onder die aandag van die redelike verbruiker gekom het nie.
Die uitspraak tref ’n welkome balans tussen die verpligting van kredietverskaffers om redelike stappe te doen om, aan die een kant, aan verbruikers kennis te gee wat versuim het om betalings na te kom, en aan die ander kant om hul finansiële verpligtinge ingevolge sodanige ooreenkomste na te kom. Dit is ook belangrik om in die uitspraak te let op die belangrike fokus wat op die tersaaklike partye in sulke gevalle geplaas word om eers oplossings te vind wat nie met litigasie verband hou nie, voordat die howe genader word.
Deur Adv Jacques du Preez, Sentrum vir Grondwetlike Regte
[Foto: GovernmentZA / Foter / CC BY-ND]