Ondersteun die werk van die FW de Klerk-stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
BESKERMING VAN VRYHEID VAN GELOOF IN SUID-AFRIKA
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck en Lusanda Mahkuntsu namens die FW de Klerk Stigting op 01/10/2026
Inleiding
Suid-Afrika is die tuiste van mense met baie verskillende gelowe. Kerke, moskees, sinagoges, tempels en ander plekke van aanbidding vorm deel van die alledaagse lewe. Die Grondwet beskerm hierdie diversiteit. Artikel 15 van die Grondwet beskerm vryheid van gewete, godsdiens, denke, oortuiging en mening. Dit beteken dat mense vry is om hul eie godsdienstige oortuigings te hê. Hulle mag ook hul godsdiens beoefen. Dit beskerm ook mense wat geen godsdiens het nie.
Die Grondwet laat ook uitdruklik godsdiensbeoefening by staats- en staatsondersteunde instellings toe. Hierdie godsdiensbeoefening moet die reëls van die betrokke instelling nakom. Dit moet op ’n billike grondslag plaasvind. Bywoning moet ook vrywillig wees.
Godsdienstige gemeenskappe, in teenstelling met slegs individue, word ook ingevolge artikel 31 beskerm. Hierdie artikel verbied uitdruklik dat lede van ’n godsdienstige gemeenskap die reg ontsê word om hul godsdiens te beoefen (of om godsdienstige verenigings te vorm en in stand te hou) in ooreenstemming met die Handves van Regte.
’n Debat oor Selfregulering
Een van die hoofkwessies wat in die FW de Klerk Stigting se Kultuur-, Godsdiens- en Taalregte Verslagkaart 2026 (“KGT-verslagkaart”) geïdentifiseer is, was die voorgestelde selfregulering van die godsdienstige sektor. In Oktober 2025 het die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe(“Kommissie vir KGT-Regte”) ’n Artikel 22-ad-hoc komitee vir die Christelike sektor (“die Artikel 22-komitee”) ingestel. Volgens die Artikel 22-komitee se Opdragte moes dit op die Christelike sektor fokus. Dit het ook die opdrag gekry om te help met die ontwikkeling van ’n regsraamwerk vir die registrasie van godsdienstige instellings en praktisynne. Die raamwerk sou ook ’n gedrags- en etiese kode vir godsdiens praktisynne insluit.
In Desember 2025 het die Artikel 22-komitee ’n Konsep-Selfreguleringsraamwerk vir die Christelike Sektor vir nasionale raadpleging gepubliseer. Die raamwerk is aangebied as ’n vrywillige inisiatief van die Christelike sektor en is deur die Artikel 22-komitee beskryf as ’n vrywillige, sektorgeleide inisiatief eerder as staatsregulering. Die konsepraamwerk stel standaarde vir bestuur en etiese gedrag daar. Dit stel ook ’n onafhanklike Christelike Praktisynsraad vir Etiek en Verantwoordbaarheid voor. Die Praktisynsraad sou organisasies ondersteun wat kies om die raamwerk te volg. Dit sou ook ’n “Keurmerk van Goeie Status” aan organisasies toeken wat aan die Praktisynsraad se standaarde voldoen.
Van besondere belang is dat die voorsitter van die Artikel 22-komitee, Eerwaarde Professor Musa Xulu, op 15 Januarie 2026 met onmiddellike effek bedank het en onder andere aangevoer het dat hy “nie langer as voorsitter van ’n komitee kan dien … wat gebruik word as ’n dekmantel om ’n voorafbepaalde agenda van staatsbeheer oor godsdiens te verbloem nie …”. Xulu het ook kommer uitgespreek oor sy onvermoë om toesig oor die Artikel 22-komitee se prosesse te hou en verklaar dat hy nie die uitkomste daarvan kon onderskryf nie. Verder het hy kommer geopper oor die uitsluiting van belangrike Christelike groeperings en die wyse waarop die konsepraamwerk ontwikkel is.
Die proses is ook buite die Artikel 22-komitee betwis, met sommige groepe wat kommer uitgespreek het oor die rol van die staat en die Kommissie vir KGT-Regte. Ander het die proses wat die Artikel 22-komitee gevolg het, bevraagteken. Weer ander het hofaansoeke ingestel.
Die kommer het ook die Parlement bereik. Aan die einde van 2025 het die South African Church Defenders (“SACD”) na die Parlement opgeruk en ’n memorandum ingedien waarin ’n ondersoek na die Artikel 22-proses geëis is. Aan die begin van 2026 het die Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake met godsdiensleiers vergader oor die kommer wat geopper is. Teen April 2026 het die Portefeuljekomitee ook met die Kommissie vir KGT-Regte in gesprek getree oor sy Jaarlikse Prestasieplan 2026/27. En in Augustus 2026 het die Portefeuljekomitee die Kommissie vir KGT-Regte en sy Artikel 22-komitee opdrag gegee om ’n plan voor te lê om kommer oor inklusiwiteit en hervorming aan te spreek. Die komitee het ook verklaar dat die godsdienstige sektor, eerder as die Kommissie vir KGT-Regte, leiding behoort te neem in die ontwikkeling van die etiese kode.
Slot
Die KGT-verslagkaart ken vir 2026 ’n C− toe aan vryheid van gewete, godsdiens, denke, geloof en mening. Dit beteken dat die genieting van hierdie reg as matig beoordeel word, met tekens van agteruitgang. Die gradering beklemtoon ’n belangrike punt: ’n reg mag deur die Grondwet beskerm word, maar steeds in die praktyk uitdagings in die gesig staar.
Die debat rondom die Kommissie vir KGT-Regte se Artikel 22-proses toon die noodsaaklikheid van voortdurende waaksaamheid in die beskerming van Suid-Afrika se grondwetlike vryhede. Hoewel pogings om aanspreeklikheid en etiese gedrag binne die godsdienstige sektor te bevorder geregverdig mag is, mag sodanige pogings nooit grondwetlike regte onredelik of onregverdigbaar aantas of (selfs die indruk van) staatsbeheer oor geloofsaangeleenthede skep nie. In ’n diverse grondwetlike demokrasie sluit godsdiensvryheid ook die vryheid van godsdienstige gemeenskappe in om hul eie sake te bestuur, onderworpe slegs aan die Grondwet en die reg.
Terwyl Suid-Afrika hierdie belangrike gesprek voortsit, behoort alle belanghebbendes verbind te bly tot die beginsels van openheid, inklusiwiteit en grondwetlike nakoming. Die beskerming van geloofsvryheid vereis meer as bloot wetlike waarborge. Dit vereis volgehoue respek vir diversiteit, sinvolle betrokkenheid by geraakte gemeenskappe en ’n duidelike verbintenis daartoe om te verseker dat beide individuele gelowiges en godsdienstige gemeenskappe hul regte vryelik en sonder onbehoorlike inmenging kan uitoefen.

KOALISIESTABILITEIT MAG NIE WERKSEKERHEID VIR BURGEMEESTERS WORD NIE
Terwyl Suid-Afrika ’n nuwe era van munisipale koalisieregering betree, mag politieke stabiliteit nie ten koste van verantwoording en dienslewering geskied nie. Die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture poog om gereelde veranderinge in burgemeestersleierskap te beperk, maar wek kommer dat swak presterende burgemeesters teen ondersoek beskerm kan word. Koalisiestabiliteit moet uiteindelik demokratiese toesig versterk, doeltreffende regering verseker en munisipale leiers aanspreeklik hou teenoor die gemeenskappe wat hulle dien.

RASIONALISERING VAN HOWE: OM GEREGTIGHEID NADER AAN DIE MENSE TE BRING
Suid-Afrika se rasionalisering van howe het ten doel om toegang tot geregtigheid te verbeter deur Hooggeregshofdienste nader aan gemeenskappe te bring, vervoerkoste te verminder en agterstande in hofsake aan te spreek. Hierdie artikel ondersoek die grondwetlike belang van toeganklike howe, regterlike kapasiteit, verpligte mediasie en die regering se planne om die regstelsel landwyd te versterk.

FW DE KLERK STIGTING DOEN ’N BEROEP OP VREEDSAME PLAASLIKE REGERINGSVERKIESINGS
Die FW de Klerk Stigting doen ’n beroep op vreedsame plaaslike regeringsverkiesings en veroordeel geweld en intimidasie teen kandidate, veldtogwerkers en kiesers. Elke burger moet hul grondwetlike politieke regte vrylik en sonder vrees kan uitoefen. Politieke leiers, wetstoepassers en kiesers het almal ’n rol om te speel om vrye, regverdige en vreedsame verkiesings te beskerm