+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

BESKERMING VAN DIE REG OP 'N GESONDE OMGEWING: OORWEGINGS UIT DIE 2024 MENSEREGTEVERSLAGKAART

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 21/05/2025

 

Inleiding

Die FW de Klerk Stigting se 2024 Menseregteverslagkaart bied ‘n omvattende beoordeling van die stand van fundamentele regte wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet verskans is. Onder hierdie regte is artikel 24, wat aan elke persoon die reg waarborg op ‘n omgewing wat nie skadelik is vir hul gesondheid of welsyn nie. Dit vereis verder die beskerming van die omgewing tot voordeel van beide huidige en toekomstige geslagte. Hierdie artikel ondersoek onlangse ontwikkelings wat die volle genieting van hierdie reg beïnvloed het.


Noemenswaardige hofuitsprake

Aan die einde van verlede jaar het die Hooggeregshof in Pretoria die regering se besluit om meer steenkoolkragstasies by te voeg, ongrondwetlik verklaar in die saak African Climate Alliance v Minister of Mineral Resources and Energy. Die saak is algemeen bekend as die “Cancel Coal-saak”. Die saak het gehandel oor die hersiening van die regering se besluit om 1 500 megawatt nuwe steenkoolkragstasies tussen 2023 en 2027 by die netwerk te voeg. Die hof het bevind dat hierdie besluit ongrondwetlik en teenstrydig met die oppergesag van die reg was, aangesien die regering onvoldoende en onbehoorlike oorweging gegee het aan hóé sulke steenkoolkragstasies die reg op, onder andere, ‘n omgewing wat nie skadelik is vir ‘n mens se gesondheid nie sou beïnvloed (sien paragrawe 24 tot 26 van die uitspraak).


Beleggings in hernubare energie

In die lig van bogenoemde uitspraak word beleggings in hernubare energie wat nie skadelik is vir mense se gesondheid of welsyn nie, des te belangriker. In 2024 is ‘n gesamentlike inisiatief tussen die Europese Beleggingsbank en FirstRand Bank van stapel gestuur wat ‘n belegging van R7,9 miljard in hernubare energie meegebring het. Die belegging was veral gefokus op sonfotovoltaïese en windenergie, asook energie-doeltreffendheidsprojekte. Hierdie projekte poog om toegang tot bekostigbare, volhoubare energie te verbeter en afhanklikheid van fossielbrandstowwe te verminder.


Nuwe wetgewing

Die Wet op Klimaatsverandering, 2024, is ingestel om die ontwikkeling van ‘n doeltreffende klimaatsveranderingsreaksie te fasiliteer en Suid-Afrika se oorgang na ‘n lae-koolstof- en klimaatsbestandige ekonomie te ondersteun. Sleutelelemente van die wet sluit in die stigting van ‘n Presidensiële Klimaatskommissie wat toesig hou oor die klimaatreaksie, asook provinsiale en munisipale forums om aksies te koördineer. Artikel 28 van die wet stel sektorale emissieteikens vir kweekhuisgasse vas, wat Suid-Afrika se Nasionaal Bepaalde Bydraes onder die Parys-ooreenkoms (wat op 1 November 2016 bekragtig is) versterk.


Gevolgtrekking

Dit is van kardinale belang om ‘n balans te vind tussen die noodsaaklikheid om ‘n omgewing te verseker wat nie skadelik vir mense se gesondheid en welsyn is nie – veral dié van toekomstige geslagte – en die behoefte om energieproduksie uit te brei om ekonomiese groei te ondersteun. Suid-Afrika se ekonomie is steeds swaar afhanklik van steenkool en moet dringend groei om die toenemende probleem van werkloosheid, veral onder die jeug, aan te spreek. Hierdie doelwitte is egter nie wedersyds uitsluitend nie – met innovasie is dit moontlik om albei te bereik. Die broodnodige groei van die hernubare-energiesektor bied ‘n ideale geleentheid om huidige en toekomstige loopbane te identifiseer én om Suid-Afrika se werklose jeug toe te rus met die vaardighede wat nodig is om hierdie loopbane te volg. Vir meer inligting oor die stand van hierdie belangrike reg, raadpleeg die FW de Klerk Stigting se Menseregteverslagkaart, 2024.