
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
BALANSERING VAN STAATSFINANSIES – ALTERNATIEWE VOORSTELLE OM DIE BEGROTING TE LAAT KLOP
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 05/03/2025
Suid-Afrikaners het op 19 Februarie 2025, om 14:00, in spanning gewag vir Enoch Godongwana, die minister van finansies, om die 2025-begrotingstoespraak voor te lê. Die afwagting was tasbaar, met burgers wat gretig was om die regering se planne vir die land se finansies te hoor. In ‘n ongekende stap is die toespraak egter tot 12 Maart uitgestel weens interne meningsverskille binne die Regering van Nasionale Eenheid (“RNE”) oor ‘n voorgestelde 2%-verhoging in Belasting op Toegevoegde Waarde (“BTW”). President Ramaphosa het eenvoudig toegegee en gesê: “Ons het beperkte inkomste. Ons inkomste, soos dit staan, is nie in staat om elke prioriteit wat ons het, te finansier nie.”
Hierdie fiskale tekort is egter nie net ‘n gevolg van eksterne ekonomiese druk nie, maar is grootliks die gevolg van die regering se eie optrede oor die afgelope dekade. Verkwisting, wanbestuur van staatsondernemings (“SBO’s”), ongebrydelde korrupsie, gespanne internasionale verhoudings en ’n afhanklikheid van eksterne lenings, het gesamentlik die nasie se finansiële fondament erodeer.
Verkwistende Uitgawes en SBO-wanbestuur
Oor die afgelope tien jaar het Suid-Afrika ‘n kommerwekkende toename in verkwisting van staatsgeld gesien. In die 2023/24-boekjaar alleen het vrugtelose en wanbestuurde uitgawes R2,57 miljard beloop, wat ‘n 49% styging in vergelyking met die vorige jaar beteken. Hierdie patroon is nie ‘n uitsondering nie. In 2017/18, tydens die laaste jare van die Zuma-regering, is sulke uitgawes op R2,5 miljard gerapporteer, wat ‘n diepliggende probleem aandui.
Staatsondernemings, wat bedoel is om die pilare van ekonomiese ontwikkeling te wees, het nou instellings van ondoeltreffendheid en finansiële bankrotskap geword. Eskom, die nasionale kragvoorsiener, is geteister deur finansiële wanbestuur, wat gelei het tot verwaarlosing in instandhouding en gereelde kragonderbrekings. Dieselfde geld vir Transnet, wat verantwoordelik is vir vrag en logistiek, het gely onder swak bestuur, diefstal en sabotasie, wat Suid-Afrika se uitvoerkapasiteit ernstig beperk het. Hierdie uitdagings het herhaalde staatsingryping vereis, wat fondse van noodsaaklike openbare dienste weggelei het. Eenvoudig gestel, operasionele ondoeltreffendheid en infrastruktuurverwaarlosing het gelei tot logistieke probleme, wat die ekonomie daagliks ‘n verstommende R1 miljard in verlore ekonomiese uitsette kos.
Die Koste van Korrupsie
Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, Ebrahim Patel, het in 2017 berig dat korrupsie die finansies van Suid-Afrika verder onder druk geplaas het, wat die land jaarliks tussen R27 miljard en R100 miljard kos. Hierdie fondse, wat deur bedrieglike kontrakte en verduistering verorber is, kon gebruik gewees het vir infrastruktuur, onderwys en gesondheidsorg. Verder kos korrupsie die land ook 76 000 werksgeleenthede. Mens kan net probeer indink wat daardie syfer vandag beloop!
Gespanne Internasionale Betrekkinge en Handelsimplikasies
In 2022 was Suid-Afrika se handel met die Verenigde State $3 miljard werd. Dit vanwee die African Growth and Opportunity Act (“AGOA”), wat tariefvrye toegang vir sekere goedere bied. Maar namate diplomatieke spanning toeneem, staan die land op die punt om hierdie belangrike AGOA-voordele te verloor. As dit gebeur, kan sektore soos motorvervaardiging en landbou daaronder ly, wat werkverliese en ‘n afname in uitvoerinkomste tot gevolg kan hê.
Terselfdertyd het Suid-Afrika al hoe meer op eksterne lenings staatgemaak om fiskale tekortkominge te oorbrug. Onlangs het die regering ‘n lening van $1,5 miljard (R27 miljard) by die Wêreldbank gesoek om ekonomiese herstel te ondersteun. As dit goedgekeur word, sal dit die grootste Wêreldbanklening wees wat Suid-Afrika ooit ontvang het. Terwyl hierdie lenings korttermynverligting bied, dra dit by tot die groeiende nasionale skuld, wat lei tot hoër toekomstige terugbetalingsverpligtinge en die moontlikheid van besuinigingsmaatreëls.
Die Las word na die Burgers Verskuif
Ten spyte van hierdie selfopgelegde uitdagings, kom die voorstel om BTW met 2% te verhoog na vore as ‘n omstrede oplossing. Alhoewel dit ‘n geskatte R58 miljard se bykomende inkomste kan genereer, het hierdie benadering ‘n buite-verhouding impak op lae- en middelinkomstehuishoudings, wat bestaande ongelykhede vererger. Dit is van kardinale belang om alternatiewe fiskale strategieë te oorweeg wat nie die burgers onnodig belas nie.
Alternatiewe Fiskale Oplossings
1. Spesiale Ekonomiese Sones (“SES’s”) en Belastingaansporings vir Uitvoerders
China se ekonomiese transformasie is beduidend aangedryf deur SES’s, wat buitelandse beleggings gelok het en uitvoere ’n hupstoot gegee het. Navorsing dui aan dat SES’s ’n 8%-verhoging in die gemiddelde lone van plaaslike werkers bewerkstellig het, tesame met ’n 5%-styging in die Verbruikersprysindeks (“VPI”). Om sulke sukses te herhaal, kan Suid-Afrika sy bestaande SES’s verbeter deur sterk aansporings, soos belastingvakansies en infrastruktuurondersteuning, aan te bied om globale vervaardigers te lok en werkloosheid te verminder.
2. Liberalisering van Arbeidswette om Indiensneming en Belegging te Bevorder
Buigsame arbeidsmarkte het ’n groot rol gespeel in die bevordering van ekonomiese dinamiek in lande soos die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk. Deur meer aanpasbare arbeidsregulasies in te stel—soos die toestaan van korttermynkontrakte en die vaartbelyning van aanstellings- en afdankingsprosedures—kan Suid-Afrika ’n meer sakevriendelike omgewing skep. Hierdie benadering kan sowel binnelandse as buitelandse beleggings aanmoedig, wat sal lei tot meer werkskepping en ekonomiese groei.
3. Verbetering van Belastingnakoming en Verbreding van die Belastingbasis
Die verbetering van belastingnakoming kan die inkomste aansienlik verhoog sonder om belastingkoerse te verhoog. Estland is ’n goeie voorbeeld waar die digitalisering van belastingadministrasie nakoming verbeter het en inkomste verhoog is. Die land se e-dienste het belastingprosesse vereenvoudig, wat dit vir belastingbetalers makliker gemaak het om aan hul verpligtinge te voldoen. Suid-Afrika kan baat vind by die modernisering van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (“SAID”) en die implementering van strenger toepassingsmaatreëls om belastingontduiking te verminder en die belastingbasis te verbreed.
4. Privatisering en Publiek-Private Vennootskappe (“PPV’s”)
Om van onderpresterende SOE’s ontslae te raak deur privatisering óf die vestiging van PPV’s kan die finansiële las op die staat verlig. Japan se privatisering van sy nasionale spoorwegstelsel het byvoorbeeld gelei tot verbeterde doeltreffendheid en winsgewendheid. Op soortgelyke wyse kan Suid-Afrika die gedeeltelike privatisering van entiteite soos Eskom en Transnet oorweeg, wat private beleggings en kundigheid sal lok om hierdie sektore te herleef.
5. Stimulering van Ekonomiese Groei deur Aansporings
Die aanmoediging van ekonomiese groei brei die belastingbasis uit en verhoog inkomste. Ierland se lae korporatiewe belastingkoerse het buitelandse beleggings gelok, wat gelei het tot ekonomiese groei en verhoogde belastinginkomste. Suid-Afrika kan geteikende aansporings vir klein en mediumgrootte ondernemings (“KMO’s”), soos belastingondersteunings of toelaes, oorweeg om entrepreneurskap en werkskepping te bevorder.
Die uitstel van die begrotingsrede weerspieël dieper sistemiese probleme binne Suid-Afrika se bestuur en fiskale beleid. ’n Korttermynoplossing, soos die verhoging van BTW, kan verdere ekonomiese spanning vir burgers veroorsaak, terwyl langtermynvolhoubare oplossings strukturele hervormings vereis. Deur te fokus op belastingdoeltreffendheid, strategiese privatisering, teenkorrupsie-maatreëls, besigheidsaansporings en pro-groeibeleide, kan Suid-Afrika inkomste genereer sonder om sy burgers te belas.
As minister Godongwana en die Regering van Nasionale Eenheid werklik daarop gemik is om die nasie se finansiële toekoms te verseker, moet hulle dapper ekonomiese hervormings prioritiseer, eerder as om na kitsoplossings toe te vlug. Die oplossings is daar — wat egter op gewag word is of die politieke wil wel bestaan om dit te implementeer.