Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
ASSESSERING VAN DIE REG OP MENSWAARDIGHEID IN SUID-AFRIKA: VOORUITGANG EN VOORTDURENDE UITDAGINGS
Uitgereik deur Shanees Nkandu namens die FW de Klerk Stigting op 16/05/2025
Inleiding
Die FW de Klerk Stigting se Menseregteverslagkaart, 2024, het onlangs die stand van die verskeie fundamentele regte wat deur die Suid-Afrikaanse Grondwet verskans is, ondersoek. Artikel 10 van die Grondwet verskans die reg op menswaardigheid, wat almal se “waarde en waardigheid” as lede van die samelewing erken. Hierdie artikel sal sommige van die onlangse ontwikkelings wat die volle genieting van hierdie reg beïnvloed, ondersoek.
Dringende Stedelike Behuising
Die Konstitusionele Hof se uitspraak in Charnelle Commando and Others v City of Cape Town and Another het die nadelige gevolge van stedelike herontwikkeling op kwesbare gemeenskappe beklemtoon. Die saak het die gedwonge uitsetting van inwoners in Kaapstad se Woodstock-gebied aangespreek en beklemtoon dat sulke verplasing ernstige skade aan hul menswaardigheid berokken. Daar is dus ‘n sterk las op die staat om sy beleide te regverdig waar sulke beleide lei tot die skeiding van mense van hul sosiale- en gemeenskapsnetwerke. Die Hof het beslis dat die Stad se beleid om dringende behuising uit die binnestad uit te sluit, onredelik en ongrondwetlik was, omdat dit nie die impak van verplasing op sosiale- en gemeenskapsnetwerke in ag geneem het nie.
Moslem Huwelike Word Erken
In ‘n historiese stap het die Departement van Binnelandse Sake in Oktober 2024 begin om huweliksertifikate uit te reik wat Moslem-huwelike erken. Hierdie mylpaal het gevolg op volgehoue bewusmaking en regsgedinge, veral in die Women’s Legal Centre Trust v President of the Republic of South Africa and Others saak, waar die Konstitusionele Hof wetgewende hervormings vereis het om Moslem-huwelike te erken. Hierdie erkenning verseker dat Moslem-paartjies nie meer gedwing word om hul unies onder siviele of gebruiklike reg te registreer om wettige erkenning te verkry nie. Die formele erkenning van hierdie huwelike is ‘n belangrike stap in die bevestiging van die menswaardigheid van Suid-Afrika se Moslem-gemeenskap.
Skole
Ten spyte van verbintenisse om skool infrastruktuur te verbeter, het die 2024 Education Facility Management System-verslag onthul dat ongeveer 1 770 openbare skole steeds beide standaard fasiliteite en puttoilette gebruik, met 287 skole wat uitsluitlik op puttoilette staatmaak. Die voortgesette gebruik van hierdie onveilige fasiliteite het tragiese gevolge gehad, insluitend die dood van ‘n driejarige seuntjie op 18 April 2024 by ‘n dagsorg in Oos-Londen. In reaksie hierop het die regering sy verbintenis herbevestig om puttoilette teen 31 Maart 2025 uit te roei. Teen die einde van Maart 2025 het die Departement van Basiese Onderwys egter bevestig dat dit slegs daarin geslaag het om 96% van die skoolputtoilette uit te roei. Totdat die doelwit van zero puttoilette in skole ten volle verwesenlik is, bly baie leerders se reg op menswaardigheid riskant.
Misdaad
Geweldsmisdaad en geslagsgebaseerde geweld bly steeds beduidende bedreigings vir menswaardigheid in Suid-Afrika. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se misdaadstatistieke toon dat vroue en kinders in 2024 steeds deur geweldsmisdaad geraak word. Seksuele geweld bly ‘n aanhoudende probleem, hoewel 2024 ‘n 0,84% afname in seksuele misdrywe van die vorige jaar gesien het. Onderrapportering bly egter ‘n kritieke bekommernis, met slegs 20% van vroue wat aan seksuele mishandeling ly wat dit rapporteer. Die regering se onlangse wetgewende hervormings poog om beskerming vir oorlewendes te versterk.
Die aantal vroulike slagoffers van moord het met 68 moorde afgeneem, maar tel steeds 3 812. Dit is byna 10 en ‘n half vroue wat elke dag in Suid-Afrika vermoor was. Die aantal vroulike slagoffers van poging tot moord het met 327 toegeneem, wat die totale aantal op 6 573 bring. Dit was 18 vroue per dag. Op ‘n positiewe noot, die aantal aanrandings met die doel om ernstige liggaamlike skade te berokken in terme van vroulike slagoffers het met 1 044 afgeneem. En die aantal vroulike slagoffers van verkragting in gevalle van huishoudelike geweld het ook afgeneem, al was dit net met 3 vroue. Dit bring die totale aantal vroulike slagoffers van aanrandings met die doel om ernstige liggaamlike skade te berokken en vroulike slagoffers van verkragting in gevalle van huishoudelike geweld op onderskeidelik 59 844 en 3 334. Dit is ongeveer 164 vroue wat elke dag verlede jaar aangerand was met die doel om ernstige liggaamlike skade te berokken aangerand was en net meer as 9 vroue wat as deel van huishoudelike geweld verkrag is.
Gevolgtrekking
Om die reg op menswaardigheid vir alle Suid-Afrikaners te verseker, bly ‘n dringende prioriteit. Dit moet beklemtoon word dat die versuim om te verseker dat ‘n vrou veilig is, ‘n fundamentele hindernis is vir haar om toegang tot die ekonomie en samelewing te verkry en ten volle deel te neem. Sonder die prioritisering van effektiewe implementering van bestaande wette en beleide sal menswaardigheid vir baie Suid-Afrikaners bly ontwyk. Vir meer inligting oor die welvaart van hierdie belangrike reg, sien die FW de Klerk Stigting se Menseregteverslagkaart, 2024.