As lidstaat van die Verenigde Nasies (VN) neem Suid-Afrika deel aan die viering van hierdie dag ter herinnering aan sy internasionale verpligtinge om die aandag op gesondheidsaangeleenthede te vestig. Die Internasionale Handves oor Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte (ICESCR), die Afrika-handves oor die Regte en Welsyn van die Kind (ACRWC) en die Konvensie oor die Regte van Mense met Gestremdhede (CRPD) is ‘n paar voorbeelde van die internasionale ooreenkomstige wat Suid-Afrika onderteken het. Hierdie instrumente vereis van staatspartye om redelike maatreëls in te stel wat ten doel het om die regte binne hul beskikbare middele progressief te verwesenlik.
Die Grondwet komplimenteer Suid-Afrika se internasionale verpligtinge deur die reg op gesondheidsdienste, voldoende water en voedsel in sy Handves van Regte te waarborg. Die staat het die plig om redelike wetgewende en ander stappe binne sy beskikbare middele in te stel ten einde hierdie regte progressief te verwesenlik. Die Grondwet bepaal ook dat niemand nood-mediese behandeling geweier mag word nie. Die reg op gesondheidsorg is ‘n sosio-ekonomiese reg wat ‘n positiewe verpligting op die staat plaas om sodanige regte te verwesenlik. Dit is in vergelyking met burgerlike en politieke regte wat, in beginsel, negatiewe regte is – wat van die staat vereis om nie op ‘n sekere wyse op te tree nie. Laasgenoemde is baie makliker om te verwesenlik. Die positiewe verpligting in die geval van sosio-ekonomiese regte word gekwalifiseer deur die idee van “progressiewe verwesenliking”. Regspraak deur die Konstitusionele Hof bied groter duidelikheid oor die staat se positiewe verpligting om gesondheidsorg binne die grondwetlike raamwerk te bied.
Soobramoney v Minister of Health (KwaZulu-Natal) het betrekking op die reg van ‘n pasiënt wat terminaal siek was om dialise by ‘n staatshospitaal te ontvang. Die individu is weggewys op grond daarvan dat sy situasie nie as noodgeval geklassifiseer kon word nie. Die Konstitusionele Hof het egter aangevoer dat verpligtinge van die staat kragtens toegang tot gesondheidsorg afhanklik is van die beskikbare bronne soos in die Grondwet uitgewys is. Die Hof het aangevoer dat dit nie kan inmeng by besluite, met betrekking tot begrotingstoewysing en -prioritisering, wat ter goeder trou deur politieke organe en mediese owerhede gemaak is nie. Hierdie saak is noemenswaardig aangesien dit die eerste keer was dat die Konstitusionele Hof die vraag moes beantwoord oor wat “progressiewe verwesenliking” van regte betreffende gesondheidsorg behels. Die Hof het aangevoer dat die enigste manier om besluite oor sosio-ekonomiese regte aan te vat, sou wees indien die beleide onredelik is en onregverdig uitgevoer is. Die staat is verplig om altyd rasioneel en ter goeder trou op te tree wanneer besluite gemaak word wat ‘n uitwerking op sosio-ekonomiese regte sal hê.
Desnieteenstaande skiet die stand van die gesondheidstelsel in Suid-Afrika wesenlik te kort wat die land se internasionale en grondwetlike verpligtinge betref. Die stand van Suid-Afrika se gesondheidstelsel is droewig en dit versuim grootliks om sy grondwetlike mandaat uit te voer om voldoende gesondheidsorg vir almal te bied en verseker. Toegang tot gesondheidsorg is steeds problematies vir baie Suid-Afrikaners. Berigte oor korrupsie, swak infrastruktuur, tekort aan mediese toerusting en medisyne, asook ‘n gebrek aan bekwame personeel maak dit onmoontlik om die toepaslike standaard van mediese sorg aan die publiek te lewer. In die onlangse geval van Vuyisile Eunice Lushaba v The MEC for Health, Gauteng is die eiser vir twee ure afgeskeep gedurende die geboorte van haar seun by ‘n hospitaal in Johannesburg. Gevolglik is haar seun gebore as ‘n spastiese kwadrupleeg met serebrale gestremdheid, en kan hy nie loop of sit nie. Dit is net een voorbeeld van die nalatigheid wat dikwels in staatsinstellings plaasvind. Voorts wys sulke voorvalle daarop dat daar nie aan die grondwetlike verpligting van ‘n toegewyde, verantwoordbare en responsiewe staatsdiens, soos deur artikel 195 van die Grondwet vereis word, voldoen word nie.
Die oudit van nasionale gesondheidsorgfasiliteite wys op uiters swak standaarde wat netheid en die ingesteldheid van personeel betref, met geen provinsie wat meer as 70% in die evaluering van alle provinsies gekry het nie. Ander verslae wys daarop dat ten minste 90% van alle Suid-Afrikaners toegang tot water het. Alhoewel dit mag waar wees, is dit nie duidelik of hierdie water veilig is vir verbruik of algemene gebruik nie. Dieselfde geld vir water in gesondheidsinstellings regoor die land. Verskeie gevalle van besoedelde water, waterbesnoeiings en ‘n gebrek aan infrastruktuur wat met water verband hou is regoor die land aangemeld, en gesondheidsinstellings is nie hierteen immuun nie.
Die gesondheidsektor is ook ongelyk in die sin dat slegs ‘n paar individue toegang het tot gesondheidsdienste wat goed gefinansier en toegerus is. Die private gesondheidstelsel maak voorsiening vir minder as 25% van die bevolking, terwyl die res aan die swak bestuurde en korrupte openbare gesondheidstelsel onderwerp word.
In ‘n lofwaardige poging om aan sy grondwetlike (sowel as internasionale) verpligtinge in 2011 te voldoen het die Departement van Gesondheid die Groenskrif oor die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) bekendgestel, wat ‘n verpligte mediese fonds is vir alle Suid-Afrikaners wat ‘n inkomste verdien. Kragtens hierdie stelsel sal alle burgers oor gratis dekking vir gesondheidsorg beskik. Die NGV sal gefinansier word deur bydraes van alle werkende Suid-Afrikaners deur die betaling van bykomende belasting. Hierdie stelsel sal nie private mediese versekering vervang nie (diegene wat bereid is en in staat is om dit te betaal sal dit steeds doen. Die doel van die NGV is in wese om gesondheidsorg toeganklik en bekostigbaar vir almal te maak, in ooreenstemming met die Grondwet. Tot op datum het die Departement van Gesondheid egter nog nie die daaropvolgende Witskrif oor hierdie inisiatief gepubliseer nie. Verklarings deur die Departement van Gesondheid ontken dat daar ‘n oponthoud is en wys daarop dat die NGV oor ‘n tydperk van 15 jaar ingestel sal word, en dat daardie tydperk nog nie verby is nie. Die Departement voer ook aan dat voordat die NGV bekendgestel kan word, die bestaande gesondheidstelsel se infrastruktuur, menslike hulpbronne asook die gebied van finansies en verkryging versterk moet word, aangesien daar oor ‘n sterk grondslag beskik moet word om die NGV op te bou.
In hierdie jaar se begrotingsrede het die Minister van Finansies verklaar dat die Departement van Gesondheid in die vierde jaar is van die bekendstelling van die NGV wat oor ‘n tydperk van 15 jaar ingestel word, en dat loodsprojekte in 11 distrikte onderneem word. Die Minister het voorts verklaar dat die Witskrif oor die NGV teen die einde van 2015 ter tafel gelê sal word. ‘n Mens kan net hoop dat hierdie dokument meer inligting sal verstrek ten opsigte van die dienste wat aan pasiënte beskikbaar sal wees, die koste van bydraes asook terugvoer van die loodsprogramme wat tans ingestel word.
Gegewe die huidige toestand ten opsigte van gesondheidsinstellings wat deur die staat bestuur word, moet ‘n mens die waarskynlikheid van ‘n suksesvolle en tydige bekendstelling van die NGV bevraagteken. Dit gaan nie maklik wees om die huidige uitdagings aan te pak nie en dit kan heel moontlik langer neem as die beplande 15 jaar. Oor watter tussentydse planne beskik die regering indien dit nie sy mikpunt bereik nie?
Ten spyte van ‘n wesenlike begrotingstoewysing van R146 miljard vir die Departement van Gesondheid, wil dit blyk of dit nie ‘n groot uitwerking het op die uitdagings wat die Departement die hoof moet bied ten einde sy mandaat te verwesenlik om toegang tot gesondheidsorg vir almal in Suid-Afrika te verwesenlik nie. Terwyl ons Wêreldgesondheidsdag en die regte wat in die Grondwet verskans word, vier, is dit duidelik dat baie al gedoen is ten opsigte van gesondheidsorgbeleide. Baie meer moet egter nog gedoen word om daardie beleide in te stel om almal in Suid-Afrika te bevoordeel.
Deur Rebecca Sibanda, Intern: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto:who.int