In 1999 het waterverlies in Drakenstein op 34% gestaan en steeds gestyg. Die munisipaliteit het projekte om hierdie verlies teen te werk prioritiseer, en het ‘n 20 jaar-projekplan bekendgestel, wat verskeie inisiatiewe insluit om waterverlies te bekamp. Die insiatiewe het gefokus op die volhoubare vervanging van pype ten einde te verseker dat die toevoer moeiteloos kan vloei, tariewe om verminderde watergebruik aan te moedig en openbare bewusmaking oor die belangrikheid van waterbesparing. Hierdie projekte het waterverlies tot 13% verminder vir die boekjaar 2015/16. Die mees verwagte projek is die Welvanpas-watersuiweringswerke, wat steeds voltooi word. Die aanleg sal ‘n gemiddeld van 10 miljoen liter water per dag suiwer, maar sal ook die vermoë hê om in die nabye toekoms 20 miljoen liter te pomp.
Dít is ‘n goeie voorbeeld vir ander sukkelende munisipaliteite – om in volhoubare skemas te belê in ‘n poging om die basiese reg op skoon water te verwesenlik. Suid-Afrika ervaar tans ‘n krisis wat natuurlike bronne betref, met onvoldoende energie en kwynende minerale bronne, en mense skenk dikwels nie aandag aan die belangrikheid van waterverlies nie. Water is lewe, en die realiteit tref nou die regering dat positiewe stappe gedoen moet word. Die huidige generasie het voldoende toegang tot skoon water nodig ten einde hul lewenstandaarde te verbeter, asook om daarteen te waak dat toekomstige generasies onder ondraaglike toestande ly wat verhoed kon geword het.
Deur me Sonam Mansingh: intern, Sentrum vir Grondwetlike Regte