Die Kabinet het toe die verslag goedgekeur. Dit is gedoen ten spyte van die Openbare Beskermer se verslag, wat bevind het dat die President “onbehoorlik bevoordeel” is deur die opgraderings. Die verslag het ook aanbeveel dat ’n deel van die bedrag terugbetaal moet word wat aan verbeterings bestee is wat nie met veiligheid verband hou. Die chaotiese tonele wat onlangs in die Parlement afgespeel het spruit uit ’n oënskynlike onwilligheid deur die Parlement om die uitvoerende gesag verantwoordelik te hou.
Alhoewel die Wes-Kaapse Hoë Hof in Democratic Alliance v South African Broadcasting Corporation Limited and Others bevind het dat die Openbare Beskermer se bevindings aanbevelings is wat nie bindend is nie, kan dit slegs geïgnoreer word waar ’n rasionele rede vir nie-nakoming bestaan. Die ad hoc-komitee, wat uitsluitlik uit lede van die regerende party bestaan het (nadat opposisielede uitgeloop het omdat hulle nie oor die verwysingsraamwerk kon saamstem nie), het ’n veiligheidsherevaluering aanbeveel ingevolge “huidige beleid en bevindings deur die Staatsveiligheidsagentskap en die Suid-Afrikaanse Polisiediens”, wat dan aan die Parlement verslag moet doen.
Deur die President te onthef van enige verantwoordelikheid ten spyte van bewyse wat die teendeel bewys, dui waarskynlik op ’n pligsversuim van die Parlement. Die Grondwet maak voorsiening vir ’n duidelike skeiding van magte onder die drie sfere van die regering. Artikel 43 vestig die wetgewende gesag op nasionale vlak in die Parlement, en op provinsiale vlak in die provinsiale wetgewers. Die uitvoerende gesag berus by die President op nasionale vlak en by die Premiers op provinsiale vlak, soos in artikels 85 en 125 onderskeidelik uiteengesit is. Kragtens artikel 165 berus die regterlike gesag van Suid-Afrika in die howe, wat onafhanklik is en slegs aan die Grondwet en die reg verantwoordelik is. Dit is in verskeie besluite van die Grondwetlike Hof beklemtoon, soos in South African Association of Personal Injury Lawyers v Heath, waar die Hof verklaar het dat daar geen twyfel bestaan dat die Grondwet vir die skeiding van magte voorsiening maak nie. Die Grondwet maak in artikel 55 voorsiening dat parlementêre maatstawwe in werking gestel moet word ten einde te verseker dat alle staatsorgane in die nasionale regeringsfeer aan hom verantwoording doen en om toesig te hou oor die uitoefening van nasionale uitvoerende gesag, met inbegrip van die uitvoering van wetgewing en enige staatsorgaan. Artikel 56 van die Grondwet bemagtig voorts die Nasionale Vergadering of enige van sy komitees om enige persoon te dagvaar om getuienis af te lê of om dokumente voor te lê en om te vereis dat enige persoon of instelling daaraan verslag doen. Gevolglik is die Grondwet duidelik oor die Parlement se rol om die uitvoerende gesag verantwoordelik te hou.
Die beginsel van die skeiding van magte beteken dat spesifieke magte en funksies aan elke regeringsfeer toegeken is, elk met sy eie pligte en verantwoordelikhede. Die belangrikheid van die skeiding van magte is dat elke tak van die regering dien as “‘n wig en teenwig” ten opsigte van die ander takke. Geen tak mag die funksies van die ander twee takke van die regering uitoefen nie. Die skeiding van magte kan ook dien om enige arbitrêre vergrype deur die regering te bekamp. Die beginsel beteken voorts dat indien een van die drie takke van die regering verantwoordelik is vir die instelling van wetgewing, daardie liggaam nie ook verantwoordelik kan wees vir die uitvoering of die beoordeling van dieselfde reëls nie. Dit is noodsaaklik vir ’n gesonde demokrasie dat die skeiding van magte gehandhaaf word.
Die skeiding van magte beteken dat mense wat met die uitvoering van staatsgesag belas word, nie hul magte op diskresionêre wyse kan uitoefen nie, maar dat dit aan die Grondwet onderhewig is. Op hierdie manier skep die Grondwet ’n stelsel van demokrasie en die oppergesag van die reg, wat beteken dat almal, met inbegrip van die staat en staatsorgane, onderhewig is aan die reg.
Hierdie versuim om die President verantwoordbaar te hou is in teenstelling met die doelstelling van die Grondwet soos hier bo uiteengesit word, wat duidelik ’n skeiding van magte daarstel. Dit is ’n versuim van die Parlement se grondwetlike plig om toesig uit te oefen oor die optrede van die uitvoerende gesag en om ’n nasionale platform daar te stel vir die openbare oorweging van ’n verantwoordbare, oop regering met ’n responsiewe ingesteldheid.
Deur Phephelaphi Dube; Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte
[Foto: michaelhebb / Foter / CC BY-NC-SA]