Suid-Afrika het die Konvensie in 1995 bekragtig. Terwyl die Konvensie nog in nasionale wetgewing vervat moet word, is daar egter verskeie voorbeelde van die Konvensie se standaarde in Suid-Afrikaanse grondwetlike reg. Artikel 28 se bepalings betreffende kinderregte is byvoorbeeld gegrond op die bepalings van die Konvensie. Howe en tribunale moet in elke geval volgens artikels 39 en 239 internasionale reg oorweeg wanneer regte in die Handves van Regte uitgelê word. Wanneer nasionale wetgewing uitgelê word, behoort howe en tribunale voorkeur te verleen aan ‘n interpretasie wat resoneer met die internasionale reg, eerder as ‘n interpretasie wat teenstrydig met internasionale reg is. In hierdie konteks beskik Suid-Afrika oor ‘n stewige wetlike raamwerk wat die regte van kinders beskerm en bevorder.
Nietemin ontstaan daar vrae hieroor, soos of die uitwerking van hierdie indrukwekkende regulerende raamwerk ‘n werklike uitwerking het of grootliks retories is. Vrae kan ook gevra word oor wat die uitwerking van die Konvensie op die daaglikse lewens van Suid-Afrikaanse kinders is, en of die Konvensie hul menseregte bevorder het. Die Verenigde Nasies se Komitee oor die Regte van die Kind het algemene riglyne vasgestel om te help met die inwerkingstelling van die Konvensie se bepalings. Sodanige riglyne sluit in hervormingsmaatreëls soos ‘n omvattende hersiening van wetgewing, die insluiting van kinderregte in grondwette, asook die aanvaarding van spesifieke wetgewing om kinderregte te bevorder. Hierdie riglyne dien voorts as ‘n raamwerk, waardeur die laasgenoemde vrae beantwoord kan word.
Die Children’s Act, wat 10 jaar lank ontwikkel is, bied ‘n omvattende wetgewende raamwerk vir alle aangeleenthede wat op kinders betrekking het. Die belangrike bepalings is dat elke kind die reg op gesinsorg, ouersorg of toepaslike alternatiewe sorg het, die reg om teen mishandeling en verwaarlosing beskerm te word en die reg op maatskaplike dienste het. Hierdie regte word vervat in artikel 28 van die Grondwet en is met mekaar verweef en interafhanklik van mekaar. Op hierdie manier weerspieël die Children’s Act die Konvensie, waarvan die bepalings burgerlike, ekonomiese, politieke, maatskaplike en kulturele regte insluit.
Die Children’s Act vereis dat alle regeringsfere en hul departemente saamwerk op ‘n geïntegreerde en gekoördineerde wyse om dienste aan kinders te lewer. Dit beklemtoon ook dat die regte van kinders met gestremdhede of chroniese siektes spesiale erkenning moet kry. Dit brei ook uit oor die beginsel van die beste belang van die kind in enige situasie waarby die kind betrokke is. Ouerregte en -verantwoordelikhede word ingesluit, soos ‘n plig om na die kind om te sien; en die verpligting om kontak met die kind te behou.
Die Konstitusionele Hof het ook belangrike uitsprake gemaak wat groter duidelikheid bied oor kinderregte. ‘n Voorbeeld hiervan is S v Williams, waarin verklaar is dat lyfstraf die waardigheid van kinders skend. In Minister for Welfare and Population Development v Fitzpatrick and others het die beste belang van die kind daartoe gelei dat ‘n wet wat die aanneming van Suid-Afrikaanse kinders deur buitelanders verbied, as teenstrydig met kinders se menseregte verklaar is.
Ten spyte van hierdie vordering dui navorsing daarop dat die nasie sy kinders in die steek laat. Volgens die VN se Bevolkingsfonds (UNFPA) se verslag oor die stand van die wêreld se bevolking vir 2014, bestaan Suid-Afrika se bevolking grootliks uit jong mense. Dit beteken dat die nasie se wette en beleide op die jeugdige bevolking gemik moet word. Dit is nie die geval nie. Dieselfde verslag verklaar dat daar ‘n hoë getal kinders is wat slagoffers van misdaad is, ten spyte daarvan dat daar oor ander progressiewe beleide beskik word, soos maatskaplike toelae om kinderarmoede te verlig. Die gebrek aan sekuriteit vir baie van Suid-Afrika se kinders beteken dat die volle voordele van maatskaplike programme nie ten volle verwesenlik word nie.
Kragens verpligtinge ingevolge die Konvensie is Suid-Afrika verplig om verslag te doen oor die land se inwerkingstelling. Dit is ‘n belangrike moniteringsfunksie vir die nasie om vordering, of die gebrek daaraan, om kinderregte te verwesenlik, te meet. Sedert die bekragtiging in 1995 het Suid-Afrika twee verslae by die VN se Komitee oor die Regte van die Kind ingedien, waarvan een ‘n gekomineerde tweede, derde en vierde periodieke verslag is om te vergoed vir die jare wat die Staat versuim het om ‘n verslag in te dien.
Dit blyk of Suid-Afrika in beginsel, soos geïllustreer word deur sy beleide en wetgewing, sy verpligtinge kragtens die Grondwet nakom. Die werklikheid is egter dat kinders grootliks in gevaar is en die staat versuim om sy verpligtinge na te kom. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se oorsig van die Vordering, Billikheid en Kinderregte kom tot die gevolgtrekking dat daar groot ongelykhede is wat kinders se regte op basiese dienste betref en dat kinders met gestremdhede die kwesbaarste is. Die Staat is hoofsaaklik verantwoordelik kragtens die Konvensie se bepalings, asook nasionale wetgewing, om te verseker dat die regte van kinders beskerm en bevorder word. Gevolglik moet die Suid-Afrikaanse regering op Universele Kinderdag kinderregte die hoofprioriteit maak en hom verbind tot sy verpligtinge kragtens die Konvensie.
Deur Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte