Dit is dus duidelik dat grond en regte in grond wat voor die 1913-sperdatum ontneem is, nie in die grondhervormingsproses ingesluit is nie. Dít ten spyte van die Minister se versekeringe. Gegewe Suid-Afrika se geskiedenis van grondontneming en oorloë oor grond, is dit duidelik dat sommige individue en gemeenskappe hul grond voor 1913 verloor het en dus nie by die grondherstelproses ingesluit is nie. Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het, byvoorbeeld, openbare verhore gehou oor die beweerde marginalisering van die Khoisan-gemeenskap, met inbegrip van hul waargenome uitsluiting uit die grondherstelproses.
Dit is nie te sê dat sodanige individue en gemeenskappe heeltemal uitgesluit is van die grondherstelprogram nie. Ons moet onthou dat daar drie dele van grondhervorming is, naamlik grondherstel, grondherverdeling en die daarstelling van sekerheid van verblyf. So dit sal nie heeltemal waar wees om te suggereer dat daar absoluut geen herstelmaatreël is vir diegene wie se grond voor 1913 ontneem is nie. In elke geval erken besluite deur die Konstitusionele Hof in Alexkor Ltd and Another v Richtersveld Community and Others en Department of Land Affairs and Others v Goedgelegen Tropical Fruits (Pty) Ltd dat sommige gebruiksregte die aanvanklike koloniale ontneming onder apartheid voor 1913 oorleef het. Hiervolgens kan dit dus gesê word dat die tweede ontneming die sperdatum van 1913 nakom. Dit beteken ook dat in teenstelling met wat die Minister voorstel, nie alle histories gebaseerde grondeise noodwending van die 1913-sperdatum uitgesluit word nie.
Ons moet ook in gedagte hou dat die sperdatum ‘n kenmerk is van die kompromitterende aard van die Grondwet. Die datum poog om balans te vind tussen die regte van diegene wat ontneem is en regte van die huidige bewoners. Die datum is gekies omdat dit saamval met die aanvang van die Naturelle Grondwet, wat die aggressiewe inwerkingstelling van diskriminerende wette ten opsigte van toegang tot grond daargestel het, tot nadeel van grootliks swart Suid-Afrikaners.
Alhoewel die Wet op die Herstel van Grondregte die regmatigheid erken van hersteleise betreffende onregverdige grondontnemings wat voor die dramatiese omkeer van 1994 plaasgevind het, word dit erken dat sekere historiese ontnemings en ongeregtighede nie deur hierdie proses alleenlik herstel kan word nie. Die sperdatum van 1913 is die historiese punt wat dui op die breuk tussen historiese ongeregtighede wat herstel moet word, en dié wat nie deur die herstelproses herstel kan word nie. Diegene wat daardeur geraak word kan in ander grondhervormingsprogramme geakkommodeer word.
Die sperdatum se uitsluiting van verdere eise vir ontnemings voor 1913 is regverdig, pragmaties en logies. Dit moet aanvaar word dat die sperdatum die gevolg is van ‘n pragmatiese besluit wat voorsiening maak vir die meerderheid ontnemings onder apartheid om herstel te word, al is dit ten koste van ander ontnemings wat voor apartheid op grond van ras ontneem is. Hierdie was pragmatiese oorwegings wat die veelparty onderhandelings van waaruit die Grondwet spruit, gevorm het.
In elk geval het die Instelling vir Armoede-, Grond- en Landelike Studies (PLAAS) in ‘n onlangse inligtingsessie voor die Komitee oor Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming in die Parlement, verklaar dat die Departement beraam dat 379 000 nuwe eise tussen 2014 en 2019 ingedien sal word. Volgens die Kommissie vir Grondeise se bewese rekord sal die proses 144 jaar neem om al die eise op te los. Dit is dus onduidelik waarom die Minister meer grondeise wil voeg by ‘n stelsel wat reeds onder sy eie burokratiese gewig in een wil stort. Soos die Navorsingsentrum vir Grond en Verantwoordbaarheid wat by die Universiteit van Kaapstad geleë is, reeds op gewys het, het die Staat in die begroting vir 2014 R8.7 miljard vir die afhandeling van hersteleise oor die volgende drie jaar op sy gesit. Die bedrag is egter nie naby die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se raming van R180 miljard om grondeise oor die volgende 15 jaar te heropen nie. Die Navorsingsentrum vir Grond en Verantwoordbaarheid kom tot die gevolgtrekking dat die Staat eenvoudig nie kan bekostig om die huidige wysigings aan die Wet op die Herstel van Grondregte in te stel nie.
Indien die Minister voornemens is om voort te gaan met die opening van grondeise voor die sperdatum van 1913, dan sal ‘n grondwetlike wysiging gemaak moet word – in welke geval ten minste twee-derdes van die Nasionale Vergadering en ‘n minimum van ses van die nege provinsies ‘n stem vir sodanige wysiging sal moet steun. Andersins sal enige poging om die sperdatum van 1913 te hersien, heel moontlik ongrondwetlik wees.
Deur Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte