Eskom is jare agter en het hul begroting om die kragnetwerk te onderhou, oorskry, met die gevolg dat beurtkrag so algemeen is soos braaivleis op ’n Saterdag (wat binnekort die doeltreffendste wyse sal wees om op enige van die ander dae van die week ook kos te kook). Tog ontvang Eskom se uitvoerende bestuur miljoen rand-bonusse en die publiek word in die donker gehou oor die ware redes vir Eskom se stand van sake. Die SA Lugdiens (SAL) en South African Express vlieg op walms, ten spyte daarvan dat hulle keer op keer deur die regering gered is. Die SA Uitsaaikorporasie (SAUK) voldoen al vir ’n geruime tyd nie aan goeie en doeltreffende bestuur nie, klaarblyklik weens verskeie vorms van wanbestuur. Die SA Posdiens is in stryd met sy personeel en die vermoë om pos – betyds en sonder dat daarmee gepeuter is – af te lewer; Transnet staar ’n klas-aksie van ’n miljard rand in die gesig omdat hulle na bewering versuim het om aan afgetrede werknemers hul pensioen te betaal; en die voorsitter van Petro SA is in die moeilikheid. Die lys gaan aan …

Byna elke openbare onderneming word gekenmerk deur een of ander skandaal wat met bestuur verband hou, en daar is vele redes vir hierdie versuime waaroor wyd berig gelewer is. Aan die kern van die probleem is egter die versuim om die Grondwet se “10-punt-plan” vir openbare administrasie na te kom. Kragtens artikel 195(1) van die Grondwet:

Openbare administrasie moet deur demokratiese waardes en beginsels wat in die Grondwet verskans word, bestuur word, met inbegrip van die volgende beginsels:

a)     ‘n Hoë standaard van beroepsetiek moet bevorder en gehandhaaf word.

b)     Die voordelige, ekonomiese en doeltreffende aanwending van hulpbronne moet bevorder word.

c)     Openbare administrasie moet ontwikkelingsgerig wees.

d)     Dienste moet onpartydig, regverdig, op billike grondslag en sonder vooroordeel gelewer word.

e)     Aandag moet aan mense se behoeftes gegee word, en die publiek moet aangemoedig word om aan beleidsvorming deel te neem.

f)      Openbare administrasie moet verantwoordingspligtig wees.

g)     Deursigtigheid moet bevorder word deur die publiek van tydige, toeganklike en korrekte inligting te voorsien.

h)     Bekwame bestuur van menslike hulpbronne en geskikte loopbaanontwikkelingspraktyke moet ontwikkel word ten einde menslike potensiaal tot die maksimum te ontsluit.

i)      Openbare administrasie moet in die breë verteenwoordigend wees van die Suid-Afrikaanse bevolking, met indiensnemings- en personeelbestuurspraktyke wat gebaseer is op vermoë, objektiwiteit, billikheid en die behoefte om die wanbalanse van die verlede reg te stel ten einde breë verteenwoordiging te bewerkstellig.”

Hierdie basiese waardes en beginsels wat openbare administrasie bestuur is nie opsioneel nie, maar ’n grondwetlike verpligting wat kragtens artikel 195(2) van toepassing is op “(a) administrasie in elke regeringsfeer; (b) staatsorgane; en (c) openbare ondernemings.”

Die eerste probleem blyk om die feit te wees dat die regering nie openbare ondernemings beskou as deel van openbare administrasie nie. Dít is blyk uit die Public Administration Management Act, wat onlangs – sonder behoorlike gesprekvoering – deur die Nasionale Vergadering aanvaar is. Hierdie Wet het meer doeltreffende, professionele en verantwoordingspligtige “openbare administrasie” ten doel. Dit het ook ten doel om korrupsie te voorkom en uit te wis deur werknemers te verbied om met die Staat besigheid te doen; dit stel ’n tegniese bystandeenheid vir etiek, integriteit en dissipline in om ’n kultuur van dissipline, integriteit en etiese gedrag in “openbare administrasie” te versterk; en dit maak voorsiening vir maatstawwe om ’n kultuur van nakoming met die regulasies onder die instellings in “openbare administrasie” te kweek. Die probleem is dat die Wet nie van toepassing is op openbare ondernemings nie. Al bepaal artikel 195(3) van die Grondwet dat “[n]asionale wetgewing die bevordering [moet] verseker van die waardes en beginsels wat in subartikel (1) vermeld word”, en ten spyte van die titel van die Wet, is die Wet slegs van toepassing op en reguleer dit slegs die staatsdiens en munisipaliteite. Dit is nie van toepassing op staatsorgane en openbare ondernemings soos deur artikel 195(1) en (2) van die Grondwet vereis word nie. In der waarheid herdefinieer die Wet “openbare administrasie” deur die betekenis te ignoreer wat die Grondwet daaraan toeskryf. Dit was ’n groot fout wat deur die Parlement gemaak is – hetsy deur weglating of andersins.

Die tweede probleem is die aanstelling van raadslede van openbare ondernemings. In hierdie verband het ’n redakteursbrief van Business Day wat op 24 Oktober 2014 verskyn het, na hierdie probleem verwys as “the (at best) questionable quality of the state-owned company boards… composed of deployees and ministerial buddies who have little or no experience…“, wat ’n groot deel van die probleem is. Selfs ’n vlugtige blik op die direksies van openbare ondernemings regverdig rede tot kommer.

In enige maatskappy behoort die voorsitter en raad in staat te wees om doeltreffende leierskap te bied wat gegrond is op ’n etiese grondslag. Dit noodsaak ’n voorsitter en individuele raadslede wat oor kennis, vaardighede en ervaring beskik om die vermelde maatskappy wat aan hulle toevertrou is, op die wyse te bestuur wat deur artikel 195 van die Grondwet, die Maatskappywet, Wet 71 van 2008 en die King Code of Governance for South Africa 2009 (die King III-verslag) vereis word. Dit sluit in die vermoë om strategieë en bedrywighede te bestuur ten einde ’n volhoubare sakeonderneming te bou, deur in gedagte te hou watter uitwerking sodanige strategie op die ekonomie, samelewing en die omgewing het. Dit vereis ook dat die prestasie van die maatskappy en sy skakeling met belanghebbendes deur die Grondwet en die Handves van Regte gelei word. Daarbenewens, kragtens die Maatskappywet en die King III-verslag, is ’n raad verplig om in die beste belang van die maatskappy op te tree, en nie die belanghebbendes wat hulle aangestel het nie. Dit beteken besluite wat op etiese en goeie bestuur asook goeie besigheidspraktyk, en nie persoonlike of politieke belange, geneem is. Dit behels ook ’n mate van onafhanklike denke. Volgens die King III-verslag behoort die beste belange van die maatskappy binne die raamwerk van die maatskappy uitgelê word en die sukses ten opsigte van ’n blywende positiewe uitwerking vir alle belanghebbendes herdefinieer. Gevolglik moet die raad die regmatige belange en verwagtinge van belanghebbendes (wat vanselfsprekend die mense van Suid-Afrika insluit) oorweeg op grond daarvan dat dit in die beste belang van die maatskappy is, en nie bloot as instrument om die belange van die belanghebbende te dien nie – met laasgenoemde wat neerkom op regering namens die mense van Suid-Afrika is. Dit wil egter voorkom of die beste belange van verskeie openbare ondernemings en al hul belanghebbendes – met inbegrip van die mense van Suid-Afrika – dikwels met die beste belange van politici en diegene met politieke verbintenisse vervang word. Ongelukkig blyk dit ook of politieke invloed en verbintenisse met ’n politieke party die belangrikste maatstawwe is vir aanstelling as voorsitter of raadslid van ’n openbare onderneming.

Die derde probleem blyk om politieke inmenging in die daaglikse werksaamhede van openbare ondernemings te wees. Artikel 66 van die Maatskappywet bepaal dat besigheid en aangeleenthede van ’n maatskappy bestuur moet word deur of onder leiding van die direksie van die raad, wat oor die mag beskik om al die magte uit te oefen en enige van die funksies van die maatskappy uit te voer, behalwe in die mate waarin die Wet of die maatskappy se akte van oprigting anders bepaal. Die Maatskappywet vereis ook van individuele direkteurs om ter goede trou en om ’n behoorlike doel op te tree, in die beste belang van die maatskappy, met sorg, vaardigheid en noulettendheid wat redelikerwys van ’n direkteur in dieselfde posisie verwag kan word. Soos deur die King III-verslag uitgewys is, is ’n aanvangspunt van enige evaluasie betreffende hierdie aangeleentheid die plig van die direkteurs en beamptes om hul wetlike pligte na te kom; en tweedens om hul vertrouenspligte uit te voer.

Volgens die ANC se Sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, is die party besig om ’n interne komitee saam te stel om die werk van ondernemings in staatsbesit te monitor en om met hulle te skakel waar nodig. Operasionele “betrokkenheid” is aan die orde van die dag. Eskom se Hoof Uitvoerende Beampte, Tshediso Matona, is onlangs aangehaal dat hy gesê het dat politici verantwoordelik is vir Eskom se huidige mislukkings omdat dit aangesê is om die ligte aan te hou vir die Wêreldbeker in 2010 en tydens die verkiesings toe kragonderbrekings stemme sou kos. President Zuma se spesiale raadgewer oor besigheid, Sandile Zungu, het immers nie te lank gelede nie verklaar dat die regering die mense wat openbare ondernemings bestuur moet verseker dat dit hul opofferings waardeer, hulle ondersteun en nie onnodig sal inmeng nie. Dit noop die vraag: waarom meng die regering in of raak enigsins betrokke by die operasionele bestuur van hierdie instellings?

Openbare ondernemings is deel van openbare administrasie en is staatsorgane. Hulle is nie deel van die regering of die besigheid van partye nie. Burgers vertrou dus hul regering en openbare ondernemings om openbare hulpbronne te bestuur en noodsaaklike dienste te lewer. Om daardie rede het die mense die reg om te verwag dat hierdie ondernemings in staatsbesit ten volle verantwoordelik gehou word en bestuur word met inagneming van diegene vir wie hulle werk: die mense van Suid-Afrika. Desnieteenstaande is die probleem wat deur ondernemings in staatsbesit in die gesig gestaar word nie operasioneel van aard nie, en geen “vyfpuntplan” wat ten doel het om die simptome van ondoeltreffende regeringsbestuur en wanbestuur aan te pak, sal die probleme op die lange duur oplos nie. Hierdie operasionele tekortkominge is gevolge van die regering (en hierdie instellings self) wat versuim om artikel 195 van die Grondwet na te kom. Die gevolg is duidelik uit die gehalte van dienste wat gelewer word, sowel as die bestuur van bates en finansiële en menslike hulpbronne – of dit nou by Eskom, SAL, die Posdiens of die SAUK is. In teenstelling daarmee vereis die Grondwet ’n hoë standaard van professionele etiek, met inbegrip van doeltreffende en ekonomiese gebruik van hulpbronne. Dit vereis dat openbare ondernemings reageer op die behoefte van die mense (eerder as dié van politieke partye en politici). Dit vereis verantwoordbaarheid en deursigtigheid (met inbegrip daarvan dat die publiek betyds toeganklike en akkurate inligting ontvang). Daarbenewens vereis dit van openbare ondernemings om goeie menslike hulpbron-, indiensnemings- en personeelbestuurspraktyke te handhaaf wat gegrond is op vermoë, objektiwiteit, regverdigheid en die behoefte om die ongelykhede van die verlede reg te stel ten einde verteenwoordiging in die breë (nie numeriese, demografiese of politieke party-verteenwoordiging nie) te verwesenlik. Hierdie basiese waardes en beginsels – die Grondwet se “10-punt-plan” – is die grondslag vir ondernemings in staatsbesit wat goed en doeltreffend bestuur word. Enige ander plan sal Suid-Afrika steeds in die donker laat.

Vir kommentaar oor artikel:
Adv Johan Kruger: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
E-pos: tjkruger@cfcr.org.za
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622

Navrae:
Megan Dick: Kommunikasiebeampte, FW de Klerk Stigting
E-pos: megan@fwdeklerk.org
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622

 Foto: Paul Keller / Foter / CC BY

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.