Nuusagentskappe wat vroeg die oggend opgedaag het het berig dat die Rooimiere persoonlike besittings uit vensters gooi, terwyl hulle die eienaars daarvan verhoed is om hul karige besittings op te eis. Berigte op televisie het later die ongelukkige families op sypaadjies gewys, onseker van hul onmiddellike toekoms. Dit het sedertdien aan die lig gekom dat die eienaar van die gebou uitsettingsverrigtinge teen al die inwoners van die gebou begin het, maar dat die howe nog nie ‘n finale bevel in hierdie verband uitgereik het nie.
Die Grondwet beskerm eiendom in artikels 25 en 26, terwyl dit ook bepaal dat niemand uit hul woning gesit mag word sonder ‘n hofbevel nie. Die Konstitusionele Hof het in Port Elizabeth Municipality v Various Occupiers riglyne uiteengesit vir die uitlegging van artikel 25, waarin sommige teenstrydige regte gebalanseer moet word. Volgens die hof moet die begin- en eindpunt van die analise van artikel 25 wees “om die waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid te bevestig”. In die konteks van beide “die beskerming van bestaande private eiendom, sowel as om die belange van die publiek te dien…moet ‘n proporsionele balans tussen hierdie twee funksies getref word”. In dieselfde saak het die Hof beklemtoon dat die Prevention of Illegal Eviction from and Unlawful Occupation Act (PIE Act) ten doel het om “…mededingende belange op ‘n beginselvaste wyse te balanseer en om die grondwetlike visie te bevorder van ‘n samelewing wat gebaseer is op goeie buurmanskap en ‘n gedeelde gevoel van omgee”. Die Hof het in City of Johannesburg Metropolitan Municipality v Blue Moonlight Properties verklaar dat wanneer oorweeg word of ‘n uitsetting regverdig en billik sal wees, ‘n hof die verpligtinge van die munisipaliteit in ‘n saak moet oorweeg. Selfs waar ‘n derde party wat ‘n private eienaar is – soos wat hier die geval is – moet ‘n munisipaliteit redelik onder die omstandighede optree.
‘n Hof kan slegs ‘n uitsettingsbevel toestaan nadat al die tersaaklike omstandighede oorweeg is, wat die hof verplig om ondersoek in te stel na die omstandighede van die inwoners. Die Grondwetlike Hof het ook benadruk dat die partye in die uitsettingsproses betekenisvolle skakeling voor die uitsettingsverrigtinge moes gehad het. Dit beteken dat daar voor ‘n uitsetting pogings moes gewees het om die dispuut op te los op so ‘n wyse dat die eienaar se belange steeds beskerm sal word sonder dat uitsetting nodig is. Die skakeling het ook ten doel om te verseker dat die staat oor tydelike alternatiewe behuising beskik. Die bemiddelingspogings moet op individuele en huishoudelike vlak geskied, asook op kollektiewe en gemeenskapsvlak. Hierdie skakeling behoort van ‘n proaktiewe en eerlike aard te wees, ten einde gemeenskaplike aanvaarbare oplossings te vind.
Die PIE-wet brei uit oor artikel 26 van die Grondwet deur omstandighede voor te skryf waar onder ‘n hof inwoners mag uit sit. Die verskeie faktore wat ‘n hof moet oorweeg is of die inwoners in die kwesbare groepe val, soos die bejaardes, kinders of huishoudings waar kinders aan die hoof is. Die PIE-wet bepaal dat howe nie uitsettingsbevele mag uitreik tensy die uitsetting regverdig en billik sal wees nie. Die hof moet ook faktore in ag neem soos die duurte van okkupasie, die beskikbaarheid van alternatiewe behuising, of alternatiewe behuising wat deur die staat verskaf sal word waar inwoners nie in staat is om self sodanige behuising te bekom nie. Howe kan munisipaliteite ook verplig om ‘n party te wees in litigasie ten einde inligting te verstrek oor alternatiewe behuising. Dit is duidelik gestel in ‘n beslissing deur die Hoë Hof (plaaslike afdeling Witwatersrand) in Sailing Queen Investments v Occupants La Coleen Court. In City of Johannesburg v Changing Tides 74 (Pty) Ltd and Others het die Hof bevind dat in gevalle waar ‘n uitsetting tot haweloosheid sal lei, die howe nie hastig moet wees om ‘n uitsettingsbevel uit te reik waar ‘n munisipaliteit nie ‘n party in die verrigtinge is nie.
Uiteindelik sal ‘n hof wat moet oorweeg of mense uit hul huise gesit moet word in ooreenstemming met die Grondwet, saamgelees met die PIE-wet, baie vrae moet vra wat die Rooimiere klaarblyklik versuim het om te oorweeg. Die feit dat die Rooimiere – in die uitvoering van die uitsetting – min respek getoon het teenoor die regte en besittings van die inwoners van hierdie saak, beklemtoon die behoefte aan die betrokkenheid van die howe wat enige besluit betref om mense uit hul huise te sit.
Dit moet egter gesê word dat vir so lank as wat haweloosheid en onvoldoende behuising stedelike gebiede teister, die spanning tussen behuisingsregte en die regte van diegene wat eiendom besit, steeds sal voortduur. Dit is dus uiters belangrik vir die Staat om dringend die behuisingsvraag aan te spreek.
Deur Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: sabc.co.za
*Artikel oorspronklik gepubliseer in die Cape Argus as “The Right to housing must be respected in eviction cases” [24/08/15]