In die diskoers met betrekking tot geslagsbeleid neem ons dikwels die retoriek ten opsigte van die bemagtiging van vroue waar, by wyse van wetgewing en inisiatiewe deur die burgerlike samelewing om die lewens van vrouens te verbeter ten einde die uitdagings wat geslagsongelykheid inhou, aan te pak. Maar te dikwels word ’n noodsaaklike deel van sukses in sodanige pogings misgekyk. Die werklikheid is dat enige hoop vir die bevordering van vroueregte onlosmaaklik is van ’n noodsaaklike evolusie van die manlike houding teenoor vroue in die Suid-Afrikaanse samelewing. Ons moet dus nie vergeet van die ander, belangrike kant van die saak nie: mans.
Onlangs is Phumzile Mlambo-Ngcuka, Suid-Afrika se eerste vroulike adjunkpresident, aangestel as hoof van UN Women, wat ongetwyfeld ’n besonderse prestasie namens Suid- Afrika is. Dit het gevolg op die aanstelling van voormalige Suid-Afrikaanse regter, Navanethem Pillay,as die VN se Hoë Kommissaris vir Menseregte in 2008. Dit is egter juis die probleem. Alhoewel die prestasies van me Mlambo-Ngcuka en me Pillay, en die waardes van geslagsgelykheid en vroulike bemagtiging wat hierdie vroue verteenwoordig, werklik iets is om te bewonder, is dit maar slegs ’n uitsondering en nie die norm onder Suid-Afrikaanse vroue nie. Vroue in Suid-Afrika is onderworpe aan van die hoogste koerse van verkragting en geweld in die wêreld. Die nood van hierdie vroue word dikwels met ’n mate van gelatenheid aanvaar wat die feit dat sodanige misbruik as alledaags beskou word, weerspieël. ’n Mens dink hier aan name soos Eudy Simelane, Zoliswa Nkoyana en Anene Booysen. Interpol beweer dat ’n vrou wat in Suid-Afrika gebore word ’n groter kans staan om verkrag te word as om opgevoed te word. Hierdie donker gevolgtrekking is deels te dankie aan uitbuiting deur mans weens die ongelyke magsverhoudings wat tussen mans en vroue bestaan, en in daardie opsig is hierdie ongelykheid verantwoordelik vir voortdurende ondermyning van vroueregte en die welstand van ons vroulike vennote in die samelewing. Dit is nou die tyd om veral mans se norme en houdings met betrekking tot geslag te hervorm en hersien.
Die geslagskompleks van mans en vroue bestaan nie in gemeenskaplike eksklusiwiteit nie - mans speel ’n belangrike rol in die evolusie en vernuwing van geslagsidentiteit vir vroue, in die sin dat hulle reageer op veranderende norme van die geslagskompleks en dit soms versterk. Dit is in hierdie verband dat ’n simbiotiese verhouding na vore kom, waarvolgens een geslag nie in isolasie van die ander bestaan nie, en veranderinge in een groep sal vorm gee aan die ander. Mans ondergaan dikwels saam met vroue ’n sosiologiese transformasie in geslagsidentiteit. Dit lei egter nie noodwendig na aanvaarding aan die kant van mans wat die rol van vroue in die samelewing betref nie. Soos wat toenemende navorsing oor die onderwerp aandui, is bogenoemde dikwels die grondslag vir geslagsverwante geweld en ander skadelike optrede wat vroue daagliks bedreig.
Gevolglik is daar ’n ontluikende erkenning dat ons moet streef na die vestiging van ’n “nuwe normaal” en met mans as ons vennote, ten einde die verlangde vlak van vroueregte te bereik en om geweld teen vroue te verminder. Te dikwels word vroueregte gesien as ’n uitdaging vir vroue en as ’n stryd wat slegs ons vroue alleen moet verduur. Wat ons egter nodig het is vir mans om te erken dat hierdie uitdaging ook op hulle van toepassing is en dat mans ’n aktiewe rol kan speel in en voordeel kan trek uit die bevordering van vroueregte.
Verskeie nie-regeringsorganisasies en belanghebbendes uit die burgerlike samelewing het reeds erken dat daar ’n behoefte is om die manlike kultuur te ondersoek, om die samestelling van die manlike identiteit te herdefinieer, en om mans in te lig oor hul rol in geslagsgelykheid. Programme soos die One Man Can-veldtog (Sonke Gender Justice Network) en die Men as Partners-program (EngenderHealth) is voorbeelde van sodanige inisiatiewe wat mans betrek in die proses om geslagsgelykheid te behaal. Grassroots- programme het ten doel om mans as individue te beïnvloed, met die fokus daarop dat verandering by die huis kan begin en dat dit ’n belangrike deel is van inisiatiewe ten opsigte van wetgewing wat druk plaas op mans om aan te pas by beleide wat op geslag gegrond is. Daar word aangevoer dat geslagsgelykheid sal lei tot ’n afname in geslagsverwante geweld, intieme verhoudingsgeweld, dwelmmisbruik en MIV/Vigs - alles welkome voordele vir die samelewing.
Dit is belangrik dat ons voortgaan om die ontwikkeling van programme aan te moedig wat sensitief is teenoor die manlike ervaring terwyl die verskillende en komplekse reaksies van mans teenoor geslagsverwante beleide in ag geneem word. Voorts is dit belangrik dat sodanige inisiatiewe nie ontwerp of beskou word as inisiatiewe wat teen mans is of wat mans se regte aanval, maar dat dit eerder in die belang van die bevordering van menseregte is, met inbegrip van die reg op gelykheid.
Hierdie pogings in isolasie is egter onvoldoende. Die regering moet ’n integrale rol speel in die behaling van geslagsgelykheid deur ’n raamwerk daar te stel waarvolgens waardes om vroue te beskerm, onderhou word - enige wangedrag wat hierdie waardes skend moet lei tot vervolging en ernstige gevolge. In daardie mate is daar ’n behoefte aan groter klem op voorkomings- en rehabilitasie-maatreëls wat belangrik is om geslagsverwante geweld te beveg. Huidige omstandighede noodsaak ’n proaktiewe benadering om mans wat moontlik geslagsverwante geweld kan pleeg, te ontmoedig, terwyl diegene wat reeds hierdie geweld gepleeg het, gerehabiliteer moet word om te verstaan dan dit eenvoudig onaanvaarbaar is.
Voorts, as die ondertekenaar van streeks- en internasionale instrumente wat ten doel het om geslagsgelykheid te bevorder - met inbegrip van die Verdrag oor die Eliminasie van Alle Vorme van Diskriminasie teen Vroue - moet die regering sy pogings verder as net hierdie onderneming uitbrei. Dit moet ook inisiatiewe wat op mans fokus in werking stel, monitor en evalueer ten einde geslagsgelykheid te verwesenlik.
Aan die ander kant moet ons nie vergeet van die mans wat geslagsgelykheid steun en wat teen geslagsverwante geweld gekant is nie; maar hulle moet steeds bydra tot die verandering van die dinamika ten opsigte van geslag in die samelewing. Dit is belangrik dat hierdie mans meer gehoor en gesien word wat hul steun vir geslagsgelykheid betref. Hierdie mans kan dien as rolmodelle vir jong mans wat dikwels geïndoktrineer word in ’n kultuur van manlikheid wat floreer op die ondermyning en objektifisering van vroue en die goedkeuring en respek van ouer mans verlang, en ook vir ander mans, wat grootliks beïnvloed word deur hoe hulle deur hul medemens beskou word.
Op hierdie Vrouedag, terwyl ons tyd neem om die verlede te oorweeg, moet ons nie vergeet van die stryd wat steeds gevoer word nie, en moet ons kyk na die toekoms waar mans en vroue van Suid-Afrika gelyke vennote in ons samelewing kan wees. Die Grondwet vervat reeds die raamwerk vir sodanige toekoms, maar dis in ons hande om die raamwerk te verwesenlik.
Deur Sonya Kuki: intern, FW de Klerk Stigting
Sonya Kuki is ’n intern by die FW de Klerk Stigting en is verbonde aan die Council of Women World Leaders. Sy is tans besig met haar Meestersgraad in Internasionale Betrekkinge aan die Skool vir Internasionale en Openbare Betrekkinge aan die Universiteit van Columbia. Hierdie artikel is ‘n onafhanklike skrywe deur ‘n intern van die FW de Klerk Stigting, en weerspieël die menings van die skrywer. Dit verteenwoordig nie noodwendig die mening van die Sentrum vir Grondwetlike Regte, sy personeel of lede van sy paneel van deskundiges nie. Die Sentrum vir Grondwetlike Regte is egter verbind tot gesprekvoering ten opsigte van die bevordering en beskerming van die waardes, regte en beginsels wat in die Grondwet vervat is.