Die kwessie ter sprake is dat artikel 18(2)(b), onder andere, dit ‘n oortreding maak om ‘n ander persoon aan te hits om ‘n oortreding te begaan. Die artikel lees as volg “Enige persoon wat…. enige ander persoon aanhits, opsweep, of beveel om enige misdryf te pleeg, hetsy betreffende die gemenereg of ingevolge ‘n statuut of statutêre regulasie, sal skuldig wees aan ‘n misdryf en sal by skuldigbevinding strafbaar wees met die straf wat ‘n persoon wat daardie misdryf begaan, opgelê sal word”.
Alle moderne stelsels van strafreg penaliseer die trio van gepoogde of onvoltooide oortredings: pogings, sameswerings en aanhitsing – Suid-Afrika is nie uniek wat dit betref nie. Sodanige oortredings, alhoewel dit voorlopig is, is glad nie ongrondwetlik nie. Die enigste verweer wat mnr Malema dalk op hierdie klagte mag hê, is dat hy nie oor die voorneme beskik het om aan te hits nie – maar dit sal nie genoeg wees vir ‘n direkte grondwetlike uitdaging nie.
Dit is jammer dat die Wet steeds die Wet op Oproerige Byeenkomste genoem word. Die artikels wat betrekking het op oproerige byeenkomste is herroep, en al wat oorbly is die artikels in Hoofstuk III, wat verband hou met, soos die titel suggereer, ‘Wysigings van die Strafreg’. Nóg ‘n artikel, artikel 16, hou verband met spesiale voorsorgmaatreëls in die belang van openbare veiligheid wat die hantering van plofstof betref – dit is herroep deur artikel 34 van die Wet op Plofstowwe, Wet 15 van 2003, maar soos op 1 Maart 2015 is dit nie in werking gestel nie. Gevolglik behoort die Wet op Oproerige Byeenkomste eerder die Strafregwysigingswet genoem te word.
Belangrike wette (soos die Bevolkingsregistrasiewet van 1950, die Wet op Groepsgebiede van 1950, die Wet op Naturelle Grondbesit van 1913 en die Wet op Afsonderlike Geriewe van 1953), wat apartheidsbeleide onderskryf het, is herroep, terwyl ander wette soos die Wet op Swart Administrasie van 1927 steeds van krag is, met die ongrondwetlike bepalings wat herroep is. Net omdat wetgewing wat dateer uit die tydperk voor Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie steeds in die wetboeke is, beteken nie die betrokke wet is outomaties ongrondwetlik nie.
Natuurlik is Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie transformerend en is geskoei op waardes met inbegrip van menswaardigheid, die behaling van gelykheid en die bevordering van menseregte en vryhede. As die Grondwet die hoogste reg van die land is, is dit vanselfsprekend dat die grondliggende waardes in die reg weerspieël moet word, en voorts dat wette of optrede wat in stryd met die Grondwet is, ongeldig is. Dit suggereer nie dat wette wat voor 1994 aanvaar is, wat ingestel is op ‘n tyd toe parlementêre soewereiniteit gegeld het, inherent ongrondwetlik is nie. Indien dit die geval was sou Suid-Afrika homself bevind het in ‘n posisie van ‘n wetgewende vakuum, aangesien baie wette, met inbegrip van die Boedelwet van 1991, die Wet op die Afdwinging van Buitelandse Siviele Vonnisse van 1988 en die Verjaringswet van 1969, almal voor 1994 ingestel is.
In die beoordeling van die grondwetlikheid van sodanige wette, is dit belangrik dat hul bepalings teen die Grondwet opgeweeg word. In hierdie geval meng die Wet op Oproerige Byeenkomste oënskynlik in met die grondwetlik beskermde reg om te vergader, te betoog en betooglinies te vorm – die Grondwet laat egter die beperking van die meeste reg toe kragtens ‘n algemeen geldende regsvoorskrif in ‘n mate dat die beperking redelik en regverdigbaar is in ‘n oop en demokratiese samelewing. Gevolglik plaas die bepalings van die Wet op Oproerige Byeenkomste, as ‘n algemeen geldende regsvoorskrif, redelike beperkings op mnr Malema se reg om te vergader, te betoog en betooglinies te vorm, deur sy vermoë om ander individue aan te hits om misdrywe te pleeg, uit te sluit. Dit is dus verkeerd om die Wet op Oproerige Byeenkomste as ongrondwetlik te beskryf, omdat dit waarskynlik op redelike en regverdigbare wyse sommige regte in ooreenstemming met die Grondwet beperk.
Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: GovernmentZA via Foter.com / CC BY-ND