Volgens Statistiek Suid-Afrika (Stats SA), het jongmense in 2014 (ouderdom 14 tot 35) uit 37% van die land se bevolking bestaan. ‘n Verslag wat onlangs deur StatsSA vrygestel is, getiteld, The Social Profile of Youth, 2009 – 2014 (die Verslag), skets ‘n somber prentjie van die vooruitsigte van jong Suid-Afrikaners. Met jongmense wat grootliks faal in onderwys en werkloos is, het die Statikus-generaal tot die gevolgtrekking gekom dat hul ouers in ‘n beter posisie is om indiensneming en ander geleenthede te bekom – wat sekerlik ‘n teken van regressie is.

Volgens die verslag het die persentasie swart Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 25 en 34 in professionele, bestuurs- en tegniese posisies met 2% oor die afgelope 20 jaar afgeneem. Daarbenewens is daar ‘n verdere afname sedert die mid-1990s in die behaling van BA-grade onder swart en bruin Suid-Afrikaanse studente.

Dieselfde verslag wys op baie min veranderinge in jongmense se vooruitsigte sedert die vorige verslag in 2009 uitgereik is. Die werkloosheidsvlak van jongmense wat nie oor ‘n matriekkwalifikasie beskik nie staan op 38% (onveranderd sedert 2009). 1% van gegradueerdes kon nie indiensneming bekom nie, terwyl 5% jongmense met tersiêre onderrig anders as universiteitsgrade nie indiensneming kon bekom nie.

Ten opsigte van die streng definisie van ‘in staat, gewillig en aktief op soek na werk is’, maar nie ‘n werk het nie, is twee-derdes van jongmense tussen die ouderdom van 15-34 werkloos. Dit kom neer op vyf miljoen werklose jongmense. Ten opsigte van die uitgebreide definisie, wat diegene insluit wat te ontmoedig is om te probeer werk kry, tesame met diegene wat studeer of onbetaalde werk in die huis doen, soos om na bejaardes of kinders om te sien – dan styg die syfer na 75%.

Die groep van die ouderdom 25 tot 34 word gekenmerk deur chroniese werkloosheid met min verskil tussen die verslag van 2009 en die onlangs vrygestelde verslag, wat daarop wys dat werkloosheid in hierdie groep op 41% staan. Dit kom neer op ‘n syfer van vyf miljoen. Entrepreneurskap in hierdie ouderdomsgroep is ook aan die afneem – met ‘n afname van 2.6% in vergelyking met die verslag van 2009.

Ten spyte van die feit dat jongmense wat in armoede leef in al nege provinsies afgeneem het, was ‘n huishouding in 2014 met ten minste een jeugdige meer geneig om honger te ervaar as ‘n huishouding sonder ‘n jeugdige. Die Noord-Kaap en Oos-Kaap het die grootste toename in hongersnood aangeteken, met 9.6% en 5.9% onderskeidelik.

Terwyl daar op beleidsvlak ‘n bewustheid is van die belangrikheid en behoefte vir jeugingrypingsprogramme, werk hierdie beleide eenvoudig net nie as mens na die syfers hier bo kyk nie. 

Op beleidsvlak het die Nasionale Jeugbeleid ten doel om die spesifieke uitdagings en onmiddellike behoeftes van die land se jeug aan te pak. Dit sit beleidsingrypings uiteen om die optimale ontwikkeling van jongmense te verwesenlik, beide as individue en as lede van die Suid-Afrikaanse samelewing. Dit het ‘n wye verskeidenheid doelwitte, van die voorsiening van voeding vir jong kinders en verwagtende vroue, tot die daarstelling van belastingaansporings vir jong maatskappye om jong toetreders tot die arbeidsmark aan te stel. Terwyl sommige van die Beleid se maatreëls ingestel is, sommige op suksesvolle wyse, is daar ‘n behoefte om selfs groter toegang tot hierdie beleide vir meer mense daar te stel.

Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (die Agentskap), wat in 2008 gestig is om spesifiek die kommer van jongmense aan te pak, speel ‘n uiters beperkte rol in die stryd teen armoede en ongelykheid. Ten spyte van ‘n skoon finansiële oudit in 2015, is die Agentskap voorheen gekenmerk deur bewerings van finansiële wangedrag, met baie min om te wys met betrekking tot die nakoming van sy kernmandaat. Die Agentskap word konstant gekritiseer oor die hoë salarisse van sy personeel, wat daartoe lei dat die Agentskap nie jongmense se probleme doeltreffend kan aanpak nie.

Terwyl die Grondwet die waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid bevestig, is dit duidelik dat beleide wat op jongmense gemik is, versuim om armoede uit te roei en ongelykheid onder jong Suid-Afrikaners te verminder. Op hierdie Vryheidsdag is daar min redes vir jong Suid-Afrikaners om te vier. ‘n Opgevoede, gesonde jeug wat in diens geneem is, is die grondslag vir enige nasie se voorspoed. Vryheid beteken ook die aktiewe deelname van burgers in besluite wat hul lewens raak – ‘n feit waarvan jongmense bewus moet wees in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesings op 3 Augustus 2016.

Deur Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.