Ten spyte van die grondwetlike versekering van nie-diskriminasie in artikel 9, word vroue steeds onderworpe aan onregverdige diskriminasie ingevolge grondbesitstelsels. Genoeg navorsing het bevind dat toegang tot grond belangrik is vir ekonomiese sekuriteit, asook politieke en maatskaplike bemagtiging, en dit is ook waar vir vroue. In ‘n land waar geslagsongelykheid steeds ‘n werklike bron van kommer is, sal dit ‘n manier wees om ongelykheid aan te spreek deur eiendom en toegang tot grond vir vroue te verseker.
Veral vir landelike vroue sal toegang tot grond, asook versekerde verblyfreg, help om aanvullende inkomste te verseker, wat gevolglik hele families uit armoede kan lig. In Suid-Afrika is daar is hoër vlakke van armoede onder huishoudings waarvan vroue aan die hoof is, as wat dit onder huishoudings is waarvan mans aan die hoof is. Voorts suggereer statistieke dat vroue wie se ma’s land besit, minder geneig is om ondervoed of ondergewig te wees. Families waarvan vroue grond besit, bestee ook meer van hul begroting aan onderwys.
Dieselfde studie wys daarop dat in teenstelling met mans, vroue meer van hul inkomste uit indiensneming of bates – met inbegrip van grond – bestee aan die behoeftes van die familie. In Indië wys navorsing daarop dat grondeienaarskap en verblyfreg vir vroue as sekuriteit teen huishoudelike geweld dien. Volgens die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) van die Verenigde Nasies is grondregte vir vroue nodig om die uitsette van plase te verhoog. Gevolglik kan die vermindering van die beperkings wat landelike vroue die hoof moet bied ten opsigte van toegang tot grond en verblyfreg beide plaasopbrengste en die totale landbouproduksie verhoog.
Soveel as 69% vroue in die landelike dele van Suid-Afrika lewe glo in armoede. Daarbenewens word huishoudings met vroue aan die hoof, meer as huishoudings met mans aan die hoof, dikwels deur finansies verhoed om aan die program vir die Herverdeling van Grond vir Landbou-ontwikkeling (LRAD) deel te neem, wat dus meer vroue uitsluit van die voordele van die nasionale grondhervormingsprogram. In September 1999 het die Nasionale Komitee oor Grond (NLC) beraam dat slegs 7 331 van die 50 152 begunstigde huishoudings wat aan programme vir die herverdeling van grond deelgeneem het, huishoudings was waarvan vroue aan die hoof was. In 2000 het die NLC geraam dat huishoudings met vroue aan die hoof slegs 14% van die huishoudings verteenwoordig het aan wie grond deur die LRAD-program oorgedra is. Die faktor wat die meeste aangevoer is as hindernis vir vroue om grond deur middel van die LRAD-program te bekom, is die feit dat die grondverkrygingstoekennings aan lede van huishoudings betaal word. Dit ten spyte van die feit dat toegang tot grond, vir baie vroue, steeds bemiddel word deur en dat hulle afhanklik is van ‘n gade, lewensmaat of familielid.
Die Kommissie oor Geslagsgelykheid het in 2015 ter erkenning van hierdie feite ‘n veldtog bekendgestel getiteld “One Woman, One Hectare of Land”. Die veldtog was gerig op die bevordering van geslagsgelykheid in die program vir grondhervorming. Dit het ten doel gehad om die toekenning van ‘n minimum van een hektaar grond of meer aan die armste vroue in die land, in stedelike, buitestedelike en landelike gebiede te verseker. Sonder veel politieke steun en wil het niks van die veldtog gekom nie.
Stedelike vroue is ook kwesbaar, gegewe dat vroue se toegang tot geskikte behuising in Suid-Afrika ingelig word deur die historiese, maatskaplike en ekonomiese konteks waarbinne vroue toegang tot behuising wil bekom. Wette en praktyke wat voorheen diskriminerend was het vroue se toegang tot behuising en ander sosio-ekonomiese regte beperk. Die Surplus People Project (SPP) het in ‘n landwye studie tot die gevolgtrekking gekom dat ongeag bestaande wetgewende ingrypingsmaatreëls, daar steeds sekere groot gapings is wat die fasilitering van toegang tot behuising vir vroue verseker.
Daar is ‘n behoefte aan ‘n deurdagte analise en debat oor die vraag oor grond. Hierdie analise en debat moet gelei word deur grondwetlike oorwegings wat die nuanses van die eiendomsklousule weerspieël – die plig om eiendomsregte te beskerm teen arbitrêre ontneming, terwyl daar verseker word dat meer Suid-Afrikaners toegang tot grond en ander natuurlike bronne op ‘n gelyke grondslag het. Dit beteken dat kennis geneem moet word van die besonderse kwesbaarheid van Suid-Afrika se vroue, met betrekking tot toegang tot grond en verblyfreg, en met inbergip van sodanige bekommernisse in die voortgesette diskoers.
*Internasionale Vrouedag word jaarliks op 8 Maart gedenk – dit is deur die Verenigde Nasies ingestel ten einde “…te besin oor die vordering wat gemaak is, om ‘n beroep te doen om verandering en om dade van moed en vasberadenheid deur gewone vroue te vier wat ‘n uitsonderlike rol gespeel het in die geskiedenis van hul lande en gemeenskappe.”
Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte