Uit die staanspoor uit moet ‘n onderskeid getref word tussen die Wet op Vlugtelinge en die Wet op Immigrasie, alhoewel beide die beweging van mense in die Republiek reguleer. Die Wet op Immigrasie reguleer die toegang van buitelanders in die land, terwyl die Wet op Vlugtelinge uitvoering gee aan die internasionale beginsel om toevlug te bied aan vreemdelinge wat van vervolging vlug. Daar is ‘n plig op die gasheerland om hulle nie terug te stuur na lande waar hul lewe of vryheid in gevaar sal wees weens hul ras, geloof, nasionaliteit, lidmaatskap van ‘n sekere maatskaplike groep of hul politieke opinies nie. Suid-Afrika is ‘n ondertekenaar van die Verenigde Nasies se Nasionale Vergadering se Konvensie betreffende die Status van Vlugtelinge van 1951 (die 1951-konvensie), asook die Afrika-unie (AU) se Konvensie wat Spesifieke Aspekte van Vlugtelingprobleme in Afrika Bestuur. Ongelukkig blyk die asielproses, volgens die Departement van Binnelandse Sake, om grootliks deur “ekonomiese migrante” misbruik te word, dit wil sê mense wat hul lande verlaat weens swak ekonomiese omstandighede.

Die asielproses word al vir jare belas met sistemiese korrupsie. ‘n Verslag van 2015 deur Prokureurs vir Menseregte en die Afrika-sentrum vir Migrasie en Samelewing het bevind dat 51% van asielsoekers korrupsie ervaar het terwyl hulle in die ry gestaan het by die Marabastad-vlugtelingkantoor in Pretoria. Dit het gelei tot ‘n aggressiewe ondersoek deur die Departement van Binnelandse Sake, bekend as Operasie Bvisa Masina (gooi die verrotting uit), wat tot die inhegtenisname van 30 amptenare in Desember 2015 gelei het.

In reaksie op die bogenoemde het die Wetsontwerp ten doel om prosedurele maatreëls in te stel om korrupsie te bekamp en maak, onder andere, voorsiening vir bepalings betreffende diskwalifikasie en beëndiging van vlugtelingstatus. Die Wetsontwerp maak ook voorsiening vir die herinstelling van die Staande Komitee (SK). Die SK hersien, onder andere, die besluit van die Vlugtelingstatusbepalingsbeampte (VSBB) om ‘n aansoek om asiel op sekere gronde af te keur; kan besluite deur die VSBB monitor en die omstandighede bepaal ingevolge waarvan ‘n asielsoeker om werk in die land mag aansoek doen. Die vraag is egter steeds of die Wetsontwerp praktiese prosedurele veiligheidsmaatreëls daarstel om korrupsie te bekamp en of dit nie die regte van asielsoekers en vlugtelinge onnodig raak nie. Bowenal moet die Wetsontwerp uitvoering gee aan die reg op menswaardigheid en op regverdige administratiewe optrede soos deur artikel 10 en 33 van die Grondwet onderskeidelik gewaarborg word.

‘n Oorheersende bekommernis van die Wetsontwerp is die gebrek aan toesighouding oor administratiewe besluite en die diskresionêre mag wat aan een individu, dit wil sê die VSBB, toegeken word om die status van ‘n vlugteling te bepaal. Die Wetsontwerp vervang spesifiek die Statusbepalingskomitee (SBK), wat saam met die Wysigingswet van 2008 in werking sou tree, met ‘n VSBB. Hierdie diskresionêre mag van die VSBB word vererger deur die feit dat die Wetsontwerp bykomende gronde daarstel vir die uitsluiting van vlugtelingstatus indien die VSBB “rede het om te glo” dat die asielsoeker enige van die dade gepleeg het wat in die Wetsontwerp genoem word.

Die bykomende gronde vir uitsluiting sluit in ‘n oortreding betreffende ‘n Suid-Afrikaanse reisdokument of permit, asook die versuim deur die asielsoeker om binne vyf dae nadat die land binnegekom is, aansoek te doen om asiel, sonder geldige redes. Hierdie gronde bykomend tot dié waarvoor in artikel 1F van die 1951-konvensie voorsiening gemaak is, wat voorsiening maak vir die weiering van vlugtelingstatus aan individue wat skuldig is aan dade van oorlogsmisdade, misdade teen die mensdom, ernstige nie-politiese misdade, asook dade wat strydig is met die beginsels van die Verenigde Nasies. Die Wetsontwerp is ook stil oor die soort inligting waarop die VSBB gaan steun om sodanige gevolgtrekking te maak.

Die gronde vir die beëindiging van vlugtelingstatus voldoen ook nie aan internasionale standaarde nie en sal tot arbitrêre toepassing lei. Artikel 1C(1) van die 1951-konvensie bepaal byvoorbeeld dat indien “’n persoon weer vrywilliglik die beskerming van die land van sy oorsprong benut”, hy nie meer vir vlugtelingstatus in aanmerking kom nie. Die Wetsontwerp maak voorsiening vir ‘n soortgelyke bepaling, maar sluit die woorde “op enige manier” in, wat nie net die toepassing van hierdie bepaling uitbrei nie, maar ook die feit uit die oog verloor dat ‘n vlugteling die ‘bedoeling’ moet hê om te benut soos in die riglyne van die 1951-konvensie gestipuleer word. In sy huidige vorm kan dit beteken dat wanneer ‘n vlugteling byvoorbeeld by hul land van oorsprong se ambassade aansoek doen om hul geboortesertifikaat, hy/sy geag kan word om weer die beskerming van hul land te benut.

Die funksies van die SK is ook te betwyfel, aangesien dit slegs ‘n besluit van die VSBB hoef te hersien indien ‘n aansoek om asiel verwerp word omdat dit “klaarblyklik ongegrond, beledigend of bedrieglik is”. Dit wil voorkom of daar geen verpligting op die SK is om enige besluit deur die VSBB te monitor of hersien nie. Die gebrek aan onafhanklikheid van die SK word ook bevraagteken aangesien al die toesighoudende werk van die SK deur lede van die Departement van Binnelandse Sake uitgevoer sal word. Die Wetsontwerp versuim dus nie net om genoeg wigte en teenwigte daar te stel betreffende die besluitnemingsmagte van die VSBB nie, maar amptenare van die Departement van Binnelandse Sake sal ook toesig hou oor die VSBB, wat toevallig ook ‘n lid van die Departement van Binnelandse Sake is.

Die maatreëls betreffende voorkoming en integriteit soos in die Wetsontwerp voorgestel is prysenswaardig, maar geen voorsiening word gemaak vir die rapportering van korrupsie nie, wat wys op ‘n ernstige gebrek aan aandag wat hieraan geskenk is.

Laastens maak die Wetsontwerp voorsiening vir ‘n vae “assesseringstoets” wat uitgevoer sal word wanneer ‘n asielaansoeker aansoek doen om ‘n asielvisum, wat die visum is wat deur die VSBB uitgereik word hangende die uitslag van ‘n aansoek om asiel. Die VSBB moet ‘n asielaansoeker se “vermoë…” bepaal om “hom- of haarself, en sy of haar afhanklikes, met die hulp van vriende, vir ‘n tydperk van ten minste vier maande te onderhou.” Indien daar bevind word dat die asielsoeker nie hom- of haarself kan onderhou nie, “mag” hy of sy skuiling en noodsaaklikhede gegun word wat deur die UNHCR voorsien word. Indien die VSBB bepaal dat die asielsoeker byvoorbeeld hom- of haarself kan onderhou vir vier maande, of van basiese skuiling en noodsaaklikhede deur die UNHCR voorsien word, mag die reg om te werk nie op hul visum geëndosseer word nie. Die Wetsontwerp is stil oor wat as “voldoende middele” beskou sal word; hoe lank die bystand van die UNHCR sal wees en wat gebeur indien die tydperk van vier maande verstryk het. Beteken dit dat ‘n herevaluering gedoen sal word, of beteken dit die reg op werk kan dan op sodanige visum geëndosseer word?

Gevolglik is dit belangrik dat die nasie se asielsoekersproses ooreenstem met internasionale standaarde, en uitvoering gee aan die grondliggende waardes van menswaardigheid, gelykheid waarna die Grondwet streef. Die doelwitte van die Wetsontwerp en die bevordering van menseregte kan heeltemal teëgewerk word deur nie te verseker dat prosedurele veiligheidsmaatreëls in werking gestel word om onafhanklike besluitneming en onpartydige hersiening van besluite te verseker nie.

Deur me Christine Botha: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.