Hierdie dag is in 2007 deur die Verenigde Nasies (VN) se Algemene Vergadering ingestel gebaseer op beginsels soos billikheid, demokrasie, deursigtigheid, insluiting en verantwoordbaarheid. As lidstaat van die VN erken Suid-Afrika in sy Grondwet ook sy plig om maatskaplike geregtig te bevorder en beskerm, met die nasie wat verbind is tot die daarstelling van ’n samelewing gebaseer op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en fundamentele menseregte. Meer onlangs het Suid-Afrika die Internasionale Verdrag met betrekking tot Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte (ICESCR) bekragtig, wat ook die staat verplig om voorsiening te maak vir die aktiewe beskerming en verwesenliking van sosio-ekonomiese regte.
Die Handves van Regte, vervat in die Grondwet, beklemtoon maatskaplike geregtigheid deur die insluiting van sosio-ekonomiese regte, soos toegang tot geskikte behuising, gesondheidsorg en maatskaplike sekerheid. Terwyl hierdie sosio-ekonomiese regte grootliks deur frases soos “om hierdie reg in toenemende mate te verwesenlik” en “binne sy beskikbare middele” gekwalifiseer word, is Suid-Afrika se pogings om maatskaplike geregtigheid vir baie van sy burgers te verwesenlik, kommerwekkend. Dit word geïllustreer deur gereelde betogings deur gemeenskappe, wat grootliks gedryf word deur die regering se versuim om doeltreffende (en in sommige gevalle, enige) dienslewering te verseker. Volgens navorsing deur die Universiteit van Johannesburg se Navorsingseenheid vir Maatskaplike Verandering was daar sedert 2010 ’n toename van 96% met betrekking tot voorvalle van onrus in Suid-Afrika. Hierdie syfer is uiters kommerwekkend. Die meerderheid van hierdie voorvalle word aangevuur deur die frustrasie van die betrokke gemeenskappe – waarvan ’n groot aantal uit werklose jeugdiges bestaan. Die betogings het betrekking op die gebrek aan of swak dienslewering op gebiede soos behuising, water en sanitasie, onderwys, gesondheid en korrupsie.
Die Grondwet skep ’n noodsaaklikheid vir die behaling van gelykheid, asook die beskerming, bevordering en verwesenliking van die regte wat in die Handves van Regte vervat word – wat die verligting van daardie laste wat uit swak dienslewering spruit, insluit. Plaaslike owerhede dra dus by tot die verwesenliking van sosio-ekonomiese regte.
Gevolglik moet die regering, ten einde sy grondwetlike en internasionale verpligtinge na te kom, toepaslik gekwalifiseerde individue in die tersaaklike posisies by die betrokke instellings en staatsdepartemente aanstel. Betogings teen swak dienslewering verbloem te dikwels die onderliggende onvermoë van munisipaliteite om doeltreffend te funksioneer weens ’n tekort aan bekwame personeel, iets wat die Nasionale Beplanningskommissie erken het ’n bedreiging vir die behaling van grondwetlike doelwitte is. Die behoorlike kontrolering van munisipale funksies en besteding moet voorop gestel word ten einde korrupsie te bekamp en om te waarborg dat bronne aan die toepaslike demografie toegewys word. Dít is duidelik in lig van die Ouditeur-generaal se ouditverslag betreffende plaaslike regering vir 2012/2013. Die verslag verklaar dat die gebrek aan nagevolge vir voortgesette oortredings en die versuim om voor die hand liggende tekortkominge aan te pak, tot ’n gebrek aan dienslewering en blatante oortreding van wette en regulasies in baie munisipaliteite gelei het.
’n Gevolg van die onrus wat uit swak dienslewering spruit is dikwels die hardhandige benadering van die SA Polisiediens (SAPD) om hierdie betogings te bekamp of te ontmoedig. Die SAPD is dikwels nie goed toegerus om skares te beheer nie en hul optrede vererger die reeds brose maatskaplike verhoudings tussen gemeenskappe. Statistieke dui op die regering se onvermoë om aandag te skenk aan die regte van gemeenskappe, en ook op die polisiediens se onvermoë om bystand te verleen wanneer gemeenskappe hul grondwetlike reg uitoefen om betooglinies te vorm. Soos ons onlangs gesien het het betogings oor hulpbrontoewysing in Malamulele in Limpopo meer as ses weke geduur. Gedurende hierdie tyd is vyf skole na bewering aan die brand gesteek en die SAPD is gedwing om die dikwels gewelddadige betogings te onderdruk.
Terwyl Suid-Afrikaners oor beperkte bronne mag beskik, tesame met mededingende eise, bly dit ’n feit dat die staat versuim om maatskaplike geregtigheid vir al sy burgers te verseker. Dit is ook waar dat groepe by wie sosio-ekonomiese regte die meeste ontbreek, toeneem, wat aansienlike druk op beskikbare bronne plaas. Dit moenie ’n verskoning wees nie. Die verwesenliking van sosio-ekonomiese regte laat nie toe dat ’n regering eenvoudig ’n gebrek aan hulpbronne as verskoning vir mislukking aanvoer nie. Die VN verplig state tot die ICESCR om aan te dui watter maatreëls ingestel is ten einde nakoming met sy bepalings te verseker. Die uitvoerende gesag moet steeds aan sy kiesers verantwoordelik wees en daarna streef om te verseker dat dit nie sy plig uit die oog verloor om nie net almal in Suid-Afrika te beskerm nie, maar om dit ook op die wyse te doen soos deur die Grondwet voorgeskryf word. Waar dit nie moontlik is nie moet die uitvoerende gesag verseker dat deursigtigheid uitgeoefen word met betrekking tot die verduideliking oor waarom dit betreffende sy grondwetlike en internasionale verpligtinge te kort skiet.
Suid-Afrikaners moet dus op hierdie Wêrelddag vir Maatskaplike Geregtigheid – en elke ander dag van die jaar – ag slaan op die Verenigde Nasies se beroep om “konkrete aktiwiteite” te koördineer wat help om die beginsels wat maatskaplike geregtigheid bevorder, te verseker. Sodoende behoort die uitvoerende gesag verantwoordelik gehou te word vir die verwesenliking van sosio-ekonomiese regte.
Rebecca Sibanda: intern, Sentrum vir Grondwetlike Regte