Daarbenewens verklaar dit spesifiek in artikel 9 dat daar teen niemand gediskrimineer mag word op grond van, onder andere, gestremdheid nie. Die artikel beskerm ook uitdruklik die regte van gestremde persone deur te bepaal dat die staat enige stappe moet doen wat nodig is “vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is”. Hierdie stappe sluit die instelling van nasionale wetgewing in, asook die monitering van die ontwikkeling van sodanige kwesbare groepe. Dit is noemenswaardig dat die regte van mense met gestremdhede nie noodwendig uitdruklik beskerm word in die grondwette van ander demokratiese nasies nie. Baie jurisdiksies moes wetgewing instel om klousules betreffende nie-diskriminasie te versterk en om daaraan uitvoering te gee.
Suid-Afrika beskik nie oor spesifieke wetgewing oor die regte van mense met gestremdhede nie, maar ‘n mens kan beskerming vir mense met gestremdhede vind in wetgewing soos die Employment Equity Act, asook die Promotion of Equality and Prevention of Unfair Discrimination Act.
In 2010 het die Oop Samelewing-inisiatief vir Suider-Afrika (OSISA), saam met die Open Society Foundation se veldtog betreffende regte vir mense met gestremdhede en die Oop Samelewing-stigting vir Suid-Afrika, navorsing onderneem na regte van mense met gestremdhede in nege Suider-Afrikaanse lande. Die navorsing het bevind dat terwyl die stand van sake wissel van land tot land, mense met gestremdhede oor die algemeen die mees gemarginaliseerde persone in Suider-Afrika is. Ondersoeke dui daarop dat mense met gestremdhede die hoogste koers van armoede, wanvoeding en kindersterftes ervaar in samelewings en ekonomieë wat werklik sukkel. Dit blyk dat in al hierdie lande, mense met gestremdhede nie met die nodige prioriteit deur hul regerings behandel word nie. Daarbenewens word laasgenoemde beskou as ‘n bysaak van ander nasionale departemente aangesien die meeste lande nie oor ‘n toegewyde ministerie of departement beskik wat verantwoordelik is vir die behoeftes van mense met gestremdhede nie.
Kenia, aan die ander kant, beskik oor spesifieke wetgewing wat betrekking het op die regte van mense met gestremdhede – die Persons with Disabilities Act, wat ten doel het om gelyke geleenthede vir persone met gestremdhede daar te stel; om die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede te stig; en vir verbandhoudende doeleindes. Die Wet word tans hersien met die doel om dit in ooreenstemming te bring met Kenia se Grondwet van 2010, die Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede en ander verdrae en konvensies betreffende internasionale menseregte. Dit is waarskynlik ‘n aanduiding van ‘n regering se verbintenis, ten minste in beginsel, om die regte van mense met gestremdhede te beskerm. Australië het die Disability Discrimination Act, wat deur die Australiese Menseregtekommissie (AHRC) ingestel is. Klagtes oor diskriminasie en skending van menseregte kan aan die AHRC gerig word. Die instelling monitor ook die ontwikkelings van mense met gestremdhede en lewer bystand in regsverrigtinge in hierdie verband. Die Verenigde Koninkryk beskerm die regte van mense met gestremdhede by wyse van die Equality Act en die Convention on Disability Rights. Die Gelykheids- en Menseregtekommissie voer soortgelyke pligte uit as sy eweknie in Australië.
Suid-Afrika het pogings aangewend om die regte van mense met gestremdhede aan te pak. Die regering het byvoorbeeld maatreëls betreffende maatskaplike sekerheid ingestel ten einde die uitdagings wat mense met gestremdhede in die land die hoof moet bied, te verlig by wyse van die SA Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SAAMS). Daar is natuurlik sekere voorwaardes waaraan voldoen moet word voordat daar vir ‘n ongeskiktheidstoelaag gekwalifiseer kan word. Die persoon moet bo 18 en ‘n permanente inwoner van Suid-Afrika wees. Toelae is ook aan vlugtelinge beskikbaar. Indien die persoon egter in ‘n staatsinstelling soos ‘n tehuis vir bejaardes of ‘n psigiatriese hospitaal woon, kan daardie persoon nie om die toelaag aansoek doen nie. Alhoewel hierdie pogings prysenswaardig is, is die toelae dikwels nie genoeg om aan die behoeftes van mense met gestremdhede te voldoen nie.
Hierdie pogings om aan die behoeftes van mense met gestremdhede te voldoen is egter onvoldoende. Nie net het die staat versuim om aan die standaarde wat hy self ingestel het te voldoen nie, maar dit het ook versuim om uitvoering te gee aan sy internasionale verpligtinge soos vervat in die Internasionale Handves oor Burger- en Politieke Regte (ICCPR), die Internasionale Handves oor Ekonomiese, Maatskaplike en Kulturele Regte, asook die Handves oor die Regte van Mense met Gestremdhede. Geen omvattende wetgewende raamwerk bestaan om die uitdagings wat mense met gestremdhede die hoof moet bied, te monitor en verlig nie. Dit het aanleiding gegee tot die daarstelling van die Suid-Afrikaanse Alliansie vir Mense met Gestremdhede (SAGA), ‘n liggaam wat bestaan uit die 13 nasionale organisasies wat gestremdheid in Suid-Afrika verteenwoordig, soos Gestremde Persone Suid-Afrika (DPSA). Hierdie liggame het self die inisiatief geneem om mekaar by te staan waar en wanneer hulle kan.
Die gaping wat geskep is deur die gebrek aan wetgewing wat ten doel het om aan die behoeftes van mense met gestremdhede te voldoen het ook daartoe gelei dat verskeie dokumente deur mense met gestremdhede in Suid-Afrika ontwikkel is. Hierdie dokumente gee uitdrukking aan die eise en behoeftes van mense met gestremdhede ten opsigte van gelyke regte en maatreëls om hierdie uitdagings aan te pak. Dokumente soos die Suid-Afrikaanse Handves van Regte vir Mense met Gestremdhede bevestig die regte van mense met gestremdhede in Suid-Afrika wat diskriminasie en marginalisering ervaar. Daar is ander handveste wat op spesifieke gestremdhede betrekking het – hetsy psigologies of intellektueel. Hierdie dokumente kan deur die wetgewer gebruik word wanneer dit uiteindelik wetgewing oorweeg om hierdie groep mense te beskerm.
Diskriminasie kan ook spruit uit wetgewing wat ingestel is om die regte van mense met gestremdhede te beskerm, maar wat ondoeltreffend is en nie toepaslik geadministreer of gemonitor word nie. Dit beteken dat waar daar geen wetgewing bestaan nie, ‘n kultuur van menseregteskendings kan en heel moontlik sal floreer. Selfs indien die staat hierdie regte nie aktief skend nie, is die onvermoë om die regte van mense met gestremdhede te beskerm, bevorder en verwesenlik ook ‘n skending van menseregte en van artikels 7 en 237 van die Grondwet. Die benadering betreffende die beskerming van die regte van mense met gestremdhede in Kenia, Australië en die Verenigde Koninkryk kan as inspirasie dien vir Suid-Afrika. Terwyl die Grondwet erkenning verleen aan die behoefte om weerlose groepe te beskerm, dui die gaping ten opsigte van wetgewing daarop dat die staat baie meer kan doen om die regte van mense met gestremdhede te beskerm en bevorder.
Deur Rebecca Sibanda, Intern: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: dirco.gov.za