Die feit dat die aansoek om hersiening ingedien is na so ‘n lang tyd, maak dit onwaarskynlik dat kondonering toegestaan sal word. Daar is onvoldoende openbare belang wat sodanige kondonering regverdig. Indien enige iets, wanneer ‘n mens die toedrag van sake by die Uitsaaier oorweeg, leun openbare belang na Motsoeneng se permanente skeiding van die SAUK.
Desnieteenstaande, indien die Hof kondonering toestaan en die saak deur die SAUK aanhoor, ondersteun die feite nie die saak nie. In Desember 2016 het die Wes-Kaapse Hoë Hof Motsoeneng se aanstelling as Groephoof vir Korporatiewe Aangeleenthede ter syde gestel en aangevoer dat hy nie deur die Uitsaaier in diens geneem kan word nie. Dieselfde Hof het in Februarie 2017 ‘n aansoek deur die SAUK om teen die beslissing in Desember 2016 te appelleer, van die hand gewys, weens die onwaarskynlikheid van sukses. Voorts het die ondersoek na die geskiktheid van die nou ontbinde Raad van die SAUK ‘n striemende verslag uitgereik oor die Uitsaaier se werksaamhede. Motsoeneng en die Minister van Kommunikasie, Faith Muthambi, word beskryf as groot bydraers tot die gemors waarin die SAUK homself bevind. Die Komitee het aanbeveel dat haar optrede by die SAUK deur die Etiekkomitee ondersoek word.
Hierdie aansoek om hersiening is in wese ‘n poging om Motsoeneng weer aan te stel. Deur te bevind dat Moetsoeneng se aanstelling as Groephoof van Korporatiewe Aangeleenthede onwettig was, het die Wes-Kaapse Hoë Hof bevind dat hy nie aangestel moet word nie – hangende die bevindings van ‘n nuwe dissiplinêre ondersoek of ‘n hersiening deur die hof van dele van die Openbare Beskermer se verslag van 2014. Die SAUK is besig met ‘n deurlopende poging om een man se lewensbestaan te beskerm, ten koste van die belastingbetaler en die geloofwaardigheid van die SAUK. Dit volg op die benoeming van lede van ‘n tussentydse raad om die Uitsaaier se finansiële en bestuursprobleme op te los, wat op een of ander manier aan Motsoeneng verbind kan word.
Hierdie poging om ‘n verslag te hersien wat grootliks deur die SAUK ignoreer is, is ‘n vermorsing van belastingbetalers se geld en kan slegs as onnodige litigasie beskryf word. Dit is nie die SAUK se eerste poging om Motsoeneng te verdedig nie. Miskien moet ‘n voorwaarde ingestel word dat indien enige koste wat voortspruit uit litigasie namens individue deur staatsinstellings, deur die vermelde persoon gedra moet word, as afskrikmiddel om nie hofprosesse te misbruik nie.
Enige pogings om onbevoegde en onverantwoordelike leiers in staatsinstellings te behou, kan nie verskoon word in ‘n samelewing wat deur die Heerskappy van die Reg en grondwetlike oppergesag regeer word nie. Die SAUK het moontlik die terrein geword vir die regerende party se klaarblyklike faksies, met onbelemmerde toegang tot die SAUK as oorlogsbuit.
Deur Rebecca Sibanda: Regsassistent, Sentrum vir Grondwetlike Regte