Die regulasies – wat besoekers en sowel as immigrante na Suid-Afrika raak – het betrekking op visumaansoeke om tydelike of permanente verblyf, asook op buitelanders wat sakeondernemings in Suid-Afrika wil vestig. Volgens die Minister van Binnelandse Sake het die regulasies ten doel om Suid-Afrika in ooreenstemming met die res van die wêreld te bring. Hierdie regulasies word egter in omstredenheid gehul, veral as dit vanuit ’n grondwetlike oogpunt oorweeg word.
Die regulasies, gelees saam met die Immigration Act (Wet 13 van 2002) (die Wet), bepaal dat verskeie instellings, met inbegrip van banke, eiendomsagente en private hospitale, moet vasstel of sekere buitelanders wettig in die land is. Indien hul immigrasiestatus onwettig is, is sodanige instellings verplig om die Direkteur-generaal daarvan in kennis te stel. In beginsel skort daar niks met hierdie bepaling nie. Terwyl hierdie verpligte beginsel opgeweeg moet word teen ander professies se plig om sekere inligting te rapporteer (soos dokters wat verplig is om moontlike kindermishandeling te aan te meld), kan hierdie plig om die status van buitelanders te rapporteer ’n uitwerking hê op die reg op toegang tot gesondheidsorg soos verskans in artikel 27 van die Grondwet. Dit herinner ook in ’n mate aan ’n polisiestaat. Desnieteenstaande is dit soms nodig om te onderskei tussen mense en groepe mense ten einde regte toe te ken. Hierdie klassifikasie moet egter ooreenstem met artikel 27(2), wat ’n beroep doen om redelikheid ten opsigte van sodanige onderskeid. In Prinsloo v Van der Linde 1997(6) BCLR 759 (CC) het die Konstitusionele Hof voorts ten opsigte van hierdie onderskeid bepaal: “[it] must not be arbitrary or irrational nor must it manifest a naked preference“. Daar moet ook ’n rasionele verbintenis wees tussen die onderskeidende reg en die regmatige doelwit van die regering wat daardeur verwesenlik moet word. ’n Onderskeidende wet wat versuim om aan die standaard te voldoen, sal ongrondwetlik wees. Die regulasies in hierdie verband voldoen moontlik nie aan die standaard van redelikheid nie en kan dus ongrondwetlik wees.
Die vrees vir uitsetting kan veroorsaak dat onwettige buitelanders wat gesondheidsorg benodig, hospitale en klinieke sal vermy, wat vanselfsprekend gevolge vir hul welstand sal in hou. Alhoewel die regering se kommer dat sodanige nie-burgers ’n finansiële las vir Suid-Afrikaners kan wees, nie ongegrond is nie, kan die moontlike weiering van gesondheidsorg (alhoewel dit ’n onbedoelde gevolg van die regulasie is) wel ongrondwetlik wees.
Die regulasies vereis ook dat mense bewys dat hulle in ’n verhouding met hul buitelandse eggenoot is ten einde vir die buitelandse eggenoot om vir die visum te kwalifiseer. Daarbenewens vereis die regulasies dat ’n buitelander wat met ’n Suid-Afrikaner getroud is, na die land van sy of haar oorsprong moet terug keer om om ’n visum aansoek te doen. Hierdie vereistes raak die reg op gesinslewe. Hierdie reg word nie uitdruklik in die Grondwet genoem nie, maar dit word erken in internasionale verdrae soos die Universele Verklaring van Menseregte en die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte (wat deur Suid-Afrika onderteken en bekragtig is) en wat dus van die regering vereis om aan die bepalings kragtens artikels 231 en 233 van die Grondwet te voldoen.
’n Verdere kommerwekkende aspek van die regulasies – wat die reg op gesinslewe raak – is dat ’n aansoeker wat om ’n visum wil aansoek doen as eggenoot van ’n Suid-Afrikaner, bewyse moet kan lewer dat die verhouding bestaan met uitsluiting van enige ander persoon. Huwelike ingevolge gewoontereg en sekere gelowe kan moontlik poligaam wees. Eggenote wie se huwelike dus per definisie ingevolge die gewoontereg gesluit is, word uitgesluit van hierdie bepaling, aangesien die huwelik beslis nie tot uitsluiting van enige ander persoon gesluit is nie. Met inagneming van die gees, bedoeling en doelwitte van die Handves van Regte, kan hierdie uitsluiting neerkom op ’n onregverdige beperking van regte, wat die beperkings kragtens artikel 36 van die Grondwet kan oorskry.
Die nuwe regulasies het tot gevolg dat mense wat wag vir die Departement van Binnelandse Sake om aansoeke om nuwe visums af te handel, as ongewenste persone verklaar sal word indien hulle die land verlaat. Voordat die regulasies in werking getree het, kon ’n mens die land verlaat en weer binne kom deur ’n afskrif van ’n hangende aansoek te toon ten einde te bewys dat aansoek wel gedoen is om ’n visum te verleng of om ’n status te verander. Hierdie bepaling kan aansoekers in ’n moeilike posisie plaas – met die risiko om moontlik onwettig in Suid-Afrika te wees, of om as “ongewens” verklaar te word wanneer hulle die land verlaat voordat die aansoek afgehandel is.
Daar word aanvaar dat Suid-Afrika die beweging van nie-burgers oor die grense moet bestuur by wyse van wetgewing en regulasies. Suid-Afrika se reg om sodanige beweging te reguleer moet egter in ooreenstemming met beide internasionale reg sowel as die Grondwet geskied. Daarbenewens sou ’n mens verwag dat ’n regering dit so maklik as moontlik sal maak vir vaardige professionele persone om hul vaardighede na Suid-Afrika te bring, gegewe dat ons in ‘n era leef wat deur globale migrasie gekenmerk word. Die regulasies – soos wat dit nou lyk – slaag egter nie die toets van grondwetlikheid nie omdat hulle nie die bostaande grondwetlike waardes, regte en beginsels in ag neem nie, en ook blyk om ’n burokratiese oefening te wees wat in die vorige eeu tuis hoort.
Deur Phephelaphi Dube, Regsbeampte: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: DFID – UK Department for International Development / Foter / CC BY-NC-ND