Alhoewel die film se duidelike oordrywings tipies Hollywood is, weerspieël die feit dat water die hoofonderwerp is die belangrikheid daarvan as ‘n daaglikse bron. So belangrik is water dat die Verenigde Nasies 22 Maart aangewys het as Wêreldwaterdag, ‘n dag waarop water gevier word. Voldoende toegang tot water maak ‘n hoër lewensgehalte moontlik by wyse van verbeterde gesondheid en ekonomiese geleenthede.
Die Internasionale Verdrag oor Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte (ICESCR), wat Suid-Afrika onderteken het en onlangs bekragtig het, waarborg die reg op water as noodsaaklike komponent van die reg op ‘n voldoende lewensstandaard. Ander verdrae, soos die Konvensie oor die Regte van die Kind (CRC), sluit ook die reg op toegang tot water in. Die reg op water waarborg die beskikbaarheid van water vir spesifieke doeleindes. Suid-Afrika se Grondwet erken ook die belangrikheid van water, met artikel 27(1)(b) wat bepaal dat elkeen die reg het op toegang tot voldoende voedsel en water. Voorts is die staat verplig om “redelike wetgewende en ander maatreëls [te] tref om binne sy beskikbare middele elk van hierdie regte in toenemende mate te verwesenlik”.
Gevolglik is die Nasionale Waterwet die belangrikste wetgewing wat bepaal hoe Suid-Afrikaners toegang tot water verkry. Dit verleen aan die nasionale regering die verantwoordelikheid vir die billike toekenning en gebruik van die skaars en oneweredige verspreiding van waterbronne aan die nasie. Die Waterwet het ten doel om die volhoubare gebruik van water deur die beskerming van waterbronne tot voordeel van alle watergebruikers te verseker.
Volgens die Nasionale Waterbronstrategie van 2004 is Suid-Afrika geleë in ‘n hoofsaaklik semi-droë deel van die wêreld. Met ‘n gemiddelde reënval van 450 mm per jaar, in teenstelling met die wêreld se gemiddeld van 860 per jaar, is waterbronne skaars en beperk. ‘n Gevolgtrekking wat dikwels deur ekonome en omgewingsbewustes gemaak word is dat die nasie op die rand van ‘n waterkrisis is.
Dit kan aangevoer word dat Suid-Afrika se waterprobleme vererger word deur swak instandhouding van infrastruktuur, die gebrek aan kundigheid en ‘n gebrek aan die politieke wil om bestaande waterstelsels te onderhou. Volgens die Raad vir Wetenskaplike en Industriële Navorsing het sodanige faktore ‘n rol gespeel in die tekort aan water in dorpe soos Ermelo, Delmas en Lichtenburg.
Soos met baie ander sektore, spesifiek elektrisiteit, is daar ‘n verwaarlosing van infrastruktuur. Die Nasionale Waterbronstrategie van 2004 het ook geraam dat infrastruktuurontwikkeling moontlik die beskikbaarheid van water met byna 40% teen 2025 kan verhoog. Dieselfde hulpbronstrategie van 2013 verklaar ook dat in die meeste gevalle waar daar probleme betreffende toegang tot water bestaan, dit weens die swak bestuur van watervoorsiening is, eerder as die gevolg van watertekorte. Dieselfde beleidsdokument verklaar dat 30% tot 40% van water verlore gaan tussen die waterbronne en die eindvebruiker. Dit is weens verskeie faktore, soos foutiewe meterlesings en rekeninge, diefstal en verouderde munisipale infrastruktuur.
Nog ‘n probleem is die besoedeling van waterbronne. Soos in 2012 gesien is in die geval van Carolina, is die watersuiweringsaanleg oorweldig deur die myne in die omgewing. Dit het die watergehalte geraak, wat die inwoners gedwing het om ver afstande af te lê om water elders te gaan haal. In Ventersdorp funksioneer die rioolwerke glo nie, met riool wat in die nedersetting se damme uitloop en die nabye riviere en damme insypel, wat ernstige gevolge vir die gesondheid van die dorp se bevolking inhou. Besoedelde waterbronne is glo ook die oorsaak van diensleweringsbetogings wat dikwels gewelddadig raak. In Mothutlung naby Brits is vier mense dood na gewelddadige betogings weens watertekorte te midde van bewerings van korrupsie en wanadministrasie.
‘n Studie in 2014 deur die Navorsingskommissie oor Water het tot die gevolgtrekking gekom dat mense wat in informele stedelike en landelike dele van die land woon nie oor voldoende en veilige water beskik nie, wat diensleweringsbetogings regoor die land grootliks beïnvloed het. In 2013 was Grahamstad meer as ‘n week sonder water nadat die dorp se verouderde pompaanleg verskeie kere gebreek het en ‘n kragonderbreking ervaar het. Slegs nadat die Kantoor van die President ingegryp het, is die watertoevoer herstel. Die Noordwes-universiteit is in 2013 vir ‘n kort tydperk gedwing om weens ‘n ernstige watertekort te sluit.
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het in 2014 ‘n verslag bekendgestel oor die nasie se watersituasie, nadat dit oorval is met klagtes oor tekorte, onreëlmatige voorsiening en besoedelde water. Die verslag het daarop gewys dat Suid-Afrika se waterinfrastruktuur dringend herstel moes word en dat baie huishoudings nie oor toegang tot water beskik nie, of dat sodanige toegang moeilik was. Die infrastruktuurprobleme is glo die gevolg van swak vakmanskap en ‘n gebrek aan instandhouding.
Dit is waar dat Suid-Afrika se waterbronne beide skaars en beperk is. Dit is ook waar dat baie plaaslike regerings keer op keer versuim het om basiese grondwetlike en wetgewende verpligtinge soos reeds genoem na te kom, wat dus watertekorte vererger het en die reg op toegang tot water ondermyn het. Dit is onnodig. Indien die nasie se waterbronne behoorlik bestuur word, eweredig versprei word en met sorg gebruik word, behoort Suid-Afrika in staat te wees om voldoende water aan al sy burgers te voorsien en om die progressiewe verwesenliking van hierdie belangrike grondwetlike regte te verseker.
*As gevolg van druk van die Wêreldbank en die Internasionale Ontwikkelingsbank het Bolivia sy watervoorsiening geprivatiseer, maar het van plan verander nadat dit baie onpopulêr onder die algemene bevolking was.
Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte
[Foto: unwater.org]