Langston Hughes, wat dit in 1951 tydens die burgerregte-beweging in die Verenigde State van Amerika geskryf het, kon net sowel van Suid-Afrika gepraat het, 23 jaar ná demokrasie. Statistiek Suid-Afrika se “Poverty trends in South Africa: An examination of absolute poverty between 2006 and 2015” (Poverty Trends-verslag), wat gister bekendgestel is, is ontnugterende leeswerk.

Die verslag toon dat Suid-Afrika ver van die ideale samelewing is wat deur die Grondwet beoog word. Meer as die helfte van alle Suid-Afrikaners leef in armoede – en hierdie syfer het sedert 2011 gestyg. Een uit elke drie Suid-Afrikaners leef op minder as R797 per maand. Meer vroue as mans word geraak deur armoede. Kinders en bejaardes is die kwesbaarste, terwyl rasse-ongelykhede steeds armoede definieer as hoofsaaklik ‘n swart Afrika-probleem.

Aan die ander kant het die Grondwet in sy aanhef ten doel om “die lewensgehalte van alle burgers te verbeter en die potensiaal van elke persoon te bevry”. Verdere bepalings ter erkenning van hierdie beroep op ‘n verbeterde lewensgehalte vir alle Suid-Afrikaners sluit in waarborge van sosio-ekonomiese regte, asook die reg op toegang tot gesondheidsorg, voedsel, water en maatskaplike sekuriteit. Dit gaan hand-aan-hand met die reg op behoorlike behuising. Met hierdie bepalings probeer die Grondwet verseker dat die waardigheid van alle Suid-Afrikaners altyd ongeskonde is deur ‘n veiligheidsnet daar te stel om diegene wat andersins deur die krake sou val, te vang.

Desnieteenstaande wys die Poverty Trends-verslag dat die veiligheidsnette wat deur die Grondwet gewaarborg word eenvoudig nie werk soos dit moet nie, of dat dit grootliks misluk het. Vir miljoene Suid-Afrikaners is hierdie grondwetlike waarborge maar net so nuttig soos die papier waarop hulle geskryf is. Dit skep die werklike risiko dat die geloofwaardigheid van die Grondwet verswak word, in ‘n tyd wanneer dit belangrik is dat die burgers van die land in die Grondwet van die land glo.

Dit is waar dat sommige van die redes vir die uitslae van die Poverty Trends-verslag, met inbegrip van die trae internasionale ekonomiese groei, nie alleenlik op die regering blameer kan word nie. Kleptokrasie, staatskaping en politieke onstabiliteit het egter gelei tot die die verdieping van armoede wat soos ‘n siekte versprei. Ander redes, insluitende swak opvoedkundige uitkomste, politieke onstabiliteit en grootskaalse korrupsie, kan vierkantig voor die deur van die Suid-Afrikaanse regering gelê word. Die beserings blyk grootliks self toegedien te wees.

Die Grondwet verkoop drome. Dit belowe ‘n beter lewe onder demokrasie. Dit beloof om waardigheid te herstel, saam met ‘n lewe waar die potensiaal van die mens ten volle verwesenlik kan word. Vir die grondwetlike belofte om te werk, moet die regering egter na die tafel kom en sy grondwetlike verpligting nakom om die Handves van Regte te respekteer, te beskerm en te bevorder. ‘n Groot deel van die vervulling van die Grondwet berus by die regering, en sy ernstige mislukkings beteken, vir baie Suid-Afrikaners, dat nog ‘n droom uitgestel is.

Grondwetlike verpligtinge wat van die Staat vereis om maatreëls in te stel om sekere regte vir sy burgers te verwesenlik, is steeds nie nagekom nie. Die nasie kan sy grondwetlike drome net vir so lank uitstel, voordat dit begin sweer. Indien armoede nie verlig word nie en indien drome van maatskaplike ophewing voortdurend ingeperk word – dan sal Suid-Afrika al die bestanddele van ‘n perfekte grondwetlike krisis hê.

Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte

*Eers gepubliseer deur Huffington Post

Leave a Reply

Your email address will not be published.