Die Domestic Violence Act of 1998 (die Wet) is ingestel in reaksie op die kommerwekkende statistieke oor huishoudelike geweld in die land. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se verslag oor Nasionale Misdaadstatistieke is byna 60 000 gevalle van seksuele misdade en 42 596 gevalle van verkragting aangemeld en aangeteken in die tydperk 2015/16. Volgens die Instituut vir Sekerheidstudies word hierdie soort misdaad dikwels nie aangemeld nie, en terwyl daar ‘n merkbare 3.2% afname sedert hierdie tydperk was, kan die afname ook ‘n aanduiding wees van minder mense wat seksuele oortredings aanmeld. Die Wet is beskou as ‘n positiewe stap om geweld teen kwesbare groepe soos vroue en kinders aan te meld, en bied ‘n regsraamwerk vir hul beskerming. Die Wet het ook ten doel om Suid-Afrika se internasionale verpligting te handhaaf om ‘n einde aan geweld teen vroue en kinders te maak.

Dit is ‘n algemene tema wanneer dit kom by hierdie gesprek dat die verandering nie slegs deur vroue teweeg gebring kan word nie. Die samelewing as ‘n geheel moet aktief skakel om vordering moontlik te maak. Terselfdertyd kan die samelewing nie geslagsgebaseerde geweld uitwis sonder die hulp van die Staat nie, en tog is daar ontstellende feite wat die swak inwerkingstelling van die SAPD se mandaat om te beskerm en dien, uitwys.

Die toonaangewende hofsaak in hierdie verband is Carmichele v The Minister for Safety and Security and The Minister of Justice and Constitutional Development. In hierdie saak is die Konstitusionele Hof (die Hof) gevra om oorweging te skenk aan die Staat se grondwetlike plig om die regte van vroue te beskerm. Die applikant het die Ministers gedagvaar vir skade wat gespruit het uit ‘n wrede aanval op haar deur ‘n man wat verhoorafwagtend was en sonder borgtog vrygelaat is. Dit ten spyte van die feit dat hy ‘n geskiedenis gehad het van seksuele geweld en verhoorafwagtend op ‘n klag van verkragting was. Die Hoë Hof en die Appèlhof het beide beslis dat nie die polisie of die vervolging ‘n plig gehad het teenoor haar nie, en nie aanspreeklik gehou kon word vir die skade wat aangegaan is nie. Die Hof het egter bevind dat die Staat verplig is deur beide die Grondwet en internasionale reg om geslagsgebaseerde diskriminasie te voorkom en die vryheid en sekuriteit van vroue te beskerm. Die Hof het die behoefte vir vroue om vry te wees van die bedreiging van seksuele geweld, beklemtoon. Voorts het die Hof bevind dat aanklaers wat daarvoor verantwoordelik is om tersaaklike inligting voor ‘n hof te stel gedurende borgtogaansoeke, regtens aanspreeklik gehou kan word vir die nalatige versuim om daardie plig uit te voer.

Die Noord-Gautengse Hoë Hof het die sentimente van die Carmichele-saak onlangs herhaal en beklemtoon in DW v The Minister of Police and the National Prosecuting Authority. In hierdie saak is die eiser wreed aangeval (gesteek) en verkrag deur ‘n man wat uit was op borgtog van R1 000, ten spyte van verskeie skuldigbevindings – met inbegrip van verkragting. Sy het aangevoer dat die betrokke aanklaers en ondersoekbeamptes versuim het om hul grondwetlike plig uit te voer en die oortreder agter tralies te hou omdat hy duidelik ‘n bedreiging vir die samelewing was. Sy vrylating het tot die aanval op haar gelei. Dit is belangrik om kennis te neem van die eiser se beserings en dat sy aan depressie gely het, asook breintrauma wat haar kognetiewe funksies raak.

‘n Kommerwekkende feit wat duidelik gemaak is in laasgenoemde saak is dat die SAPD nie net gereeld in stryd is met hul grondwetlike mandaat op ‘n manier soortgelyk aan die bogenoemde, maar dat hulle soms die oortreders van gewelddadige misdade teen vroue is wat om een of ander rede hulle in die aanhouding of sorg van polisiebeamptes bevind. Die beslissing maak oorgenoeg verwysings na seksuele en ander fisiese aanrandings in polisie-aanhouding. Dit is ‘n groot rede tot kommer dat daar tye is wanneer vroue in polisie-aanhouding nie as veilig beskou kan word nie.

Nog ‘n omstrede toedrag van sake is dat sake van huishoudelike geweld as gevalle van aanranding aangemeld word. Die SAPD maak nie inligting bekend oor die aantal aanrandings waarby intieme paartjies betrokke is nie, ten spyte van die feit dat daar van hulle vereis word om voorvalle van huishoudelike geweld in ‘n register by polisiekantore aan te teken. In vorige jare is baie polisiekantore uitgewys omdat hulle nie die Wet nakom ten opsigte van die hantering van slagoffers van huishoudelike geweld nie. Die jaarverslag van die SAPD vir 2015/16 wys egter daarop dat al 1140 polisiekantore landwyd slagoffer-vriendelike dienste lewer aan slagoffers van verkragting, seksuele oortredings en huishoudelike geweld/aanranding. Dit is inderdaad ‘n welkome ontwikkeling en is geprys as ‘n belangrike stap in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld.

Die hoë aantal seksuele oortredings wat aangemeld is dui op ‘n behoefte aan bystand aan die betrokke slagoffers. ‘n Verandering in die houding van polisiebeamptes teenoor hierdie slagoffers is onvoldoende. In die Wes-Kaap is daar slegs 13 erkende skuilings vir vroue. Volgens die beskikbare data is hulle nie in staat om al die slagoffers van geslagsgebaseerde geweld by te staan nie. Ten opsigte van proaktiewe stappe het die regering die Thuthuzela-sorgsentrums bekendgestel as deel van die land se strategie teen verkragting. Dit is een-stop-fasiliteite wat ten doel het om sekondêre trauma vir slagoffers te verminder en die koers van skuldigbevindings te verbeter deur die vervolgingsproses te versnel. Al die nodige dienste word op een plek aan slagoffers gebied, van aanmelding en mediese bystand tot berading. Hierdie sentrums is as revolusionêr voorgehou, maar teen die einde van September sal die 39 sentrums na 14 verminder word weens internasionale skenkings wat gesny gaan word.

Wat hulpbronne betref sal ingryping deur die Staat ‘n lang pad gaan om die lot van diegene aan te spreek wat hulself in dieselfde situasie bevind. Met die aanvang van vanjaar se 16 Dae-veldtog is dit belangrik dat aktivisme verder gaan as blote lippediens met betrekking tot die statutêre bepalings ten einde die mees kwesbares in die Suid-Afrikaanse samelewing te beskerm.

Deur Rebecca Sibanda: Regsassistent, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.