Dit is ’n poging om, aan die een kant, die onafhanklikheid van die Openbare Beskermer met, aan die ander kant, die Openbare Beskermer se verantwoordbaarheid aan die wetgewer te balanseer. Hierdie klaarblyklike teenstrydighede het verlede week ’n kritieke stadium bereik toe die Openbare Beskermer die jaarverslag aan die Parlementêre Komitee oor Justisie voorgelê het, soos deur die Grondwet vereis word.

Die Openbare Beskermer se verslag aan die Parlementêre Komitee het, onder andere, bekendgemaak dat haar kantoor 26 642 van 39 817 sake afgehandel het, maar dat die kantoor se laste sy bates oorskry, wat beteken dat dit dus tegnies insolvent is. Amptenare van die regerende party op die Komitee het op hulle beurt beweer dat die Openbare Beskermer se kantoor nie reg funksioneer nie, op ondemokratiese wyse bestuur word en oorbodig is. Dieselfde amptenare het ook tot die gevolgtrekking gekom dat die moraal van personeel laer is weens haar swak leierskap en dat haar personeel aan depressie ly weens haar ysterhand.

Dit het aanleiding gegee tot die verontwaardiging van verskeie politieke partye wat hierdie opmerkings in die Parlement beskou het as ’n doelbewuste poging om die kantoor van die Openbare Beskermer te ondermyn, gegewe die negatiewe bevindings wat sy teen die President gemaak het betreffende die sekuriteitsopgraderings by sy huis met openbare geld, klaarblyklik sonder dat hy daarvan kennis gedra het.

Die Openbare Beskermer se kantoor is gestig kragtens artikel 182 van die Grondwet as ’n instelling wat Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie steun. Die Grondwet ken aan die Openbare Beskermer magte toe om enige optrede in staatsaangeleenthede te ondersoek wat moontlik onbehoorlik kan wees. Die Wet op die Openbare Beskermer, soos waarvoor voorsiening gemaak word in die Grondwet, ken verdere magte en funksies aan die Openbare Beskermer toe. Gevolglik kan die belangrike rol wat dit speel om die behoeftes van en die beskerming van die regte van burgers, buite die partypolitiek en gevestigde belange, nie genoeg beklemtoon word nie. Artikel 181(5) van die Grondwet verklaar dat die Openbare Beskermer aan die Nasionale Vergadering verantwoordelik is en ten minste een keer per jaar verslag moet doen oor aktiwiteite en prestasie. Daar word van die Openbare Beskermer verwag om verslag te doen oor die inwerkingstelling van haar mandaat, asook die besteding van openbare geld. Die Parlement het dan die plig om maatstawwe daar te stel waarvolgens die Openbare Beskermer verantwoordelik gehou word. Artikel 181(3) van die Grondwet lê staatsorgane ook die plig op om die Openbare Beskermer te steun en beskerm en om die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van die Openbare Beskermer te verseker.

Terwyl die ondervraging en opmerkings deur die Parlementslede gedurende die voorlegging as aanvaarbaar beskou kan word in ’n robuuste grondwetlike demokrasie, is dit te betwyfel of die chroniese tekort aan geld wat die Openbare Beskermer se kantoor die hoof moet bied, grondwetlike demokrasie enigsins bevorder. Die Openbare Beskermer is belangrik om die regering tot verantwoording te bring. Die onafhanklikheid van die Openbare Beskermer moet beskerm word ten einde die voortgesette onpartydigheid en geldigheid in die oë van die publiek te verseker.

Die Konstitusionele Hof het in Independent Electoral Commission v Langeberg Municipality verklaar dat selfs indien Hoofstuk 9-instellings (waarvan die Openbare Beskermer een is) staatsorgane is soos in artikel 239 van die Grondwet verskans word, kan hulle nie beskou word as staatsdepartemente waaroor die nasionale uitvoerende gesag beheer het nie. Dieselfde saak het voorts die behoefte aan Hoofstuk 9-instellings wat finansieël onafhanklik is, beklemtoon, aangesien dit hulle sal help om sonder vrees, begunstiging of vooroordeel te funksioneer. Die saak het ook die basiese beginsel bevestig dat Hoofstuk 9-instellings een of ander vorm van finansiële onafhanklikheid moet hê.

In New National Party of South African v Government of The RSA het die Grondwet weer eens die feit beklemtoon dat artikel 181(3) van die Grondwet staatsorgane opdrag gee om met Hoofstuk 9-instellings op só ’n wyse te skakel dat dit nie met die funksionering van Hoofstuk 9-instellings inmeng nie. Gevolglik kan die nakoming van die begrotingsvereistes van die Openbare Beskermer se kantoor een manier wees om die doeltreffende funksionering van die Openbare Beskermer se kantoor te verseker.

Gegewe die feit dat die Nasionale Tesourie in 2009 die Openbare Beskermer se versoek vir ’n volle getal personeel van 500 mense goedgekeur het, en dat die Openbare Beskermer steeds deur slegs 314 mense beman word, wil dit voorkom of daar meriete is in die Openbare Beskermer se versoek vir verhoogde finansiering. Finansiering vir die Openbare Beskermer se kantoor word tans deur die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste toegewys. Dit kan ’n negatiewe uitwerking hê op die vermeende onafhanklikheid van die Openbare Beskermer, aangesien dit die indruk skep dat die Openbare Beskermer aan die uitvoerende gesag verantwoordelik is vir die gebruik van sy finansies. Die twee sake van die Konstitusionele Hof waarna hierbo verwys is, wat nie verklaar dat Hoofstuk 9-instellings hul eie begrotings moet bepaal nie, beteken dat die Parlement, in plaas van die uitvoerende gesag, genoeg finansiering moet verskaf om die funksionering van Hoofstuk 9-instellings te verseker.

In September 2006 het die Nasionale Vergadering ’n veelparty ad hoc komitee aangestel om die Hoofstuk 9-instellings te hersien. Die komitee se verslag het, onder andere, aanbeveel dat die begrotingsproses van Hoofstuk 9-instellings heroorweeg moet word ten einde die onafhanklikheid van Hoofstuk 9-instellings te bevorder. In lig van die bostaande scenario is dit miskien tyd dat die aanbevelings heroorweeg word en in werking gestel word. Die inherente spanning in die Grondwet kan waarskynlik verlig word deur die Hoofstuk 9-instellings se finansieringsmodel te heroorweeg ten einde hul belangrike rolle in ons grondwetlike demokrasie te versterk.

Deur Phephelaphi Dube, Regsbeampte: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Foto: GovernmentZA / Foter / CC BY-ND

Leave a Reply

Your email address will not be published.