As gevolg van die onregverdighede van ons verlede, hoofsaaklik gepleeg teen swart Suid- Afrikaners deur ‘n stelsel wat ons samelewing verdeeld, ongelyk en skepties teenoor mekaar gelaat het, is ras steeds ‘n tersaaklike en hoogs emosionele dryfkrag in ons daaglikse lewens. Ons lees bykans daagliks daaroor in feitlik elke koerant. Dit dryf politiek, arbeidsverhoudinge, kwessies oor onderwys en sosiale interaksie. Die lys is eindeloos. En alhoewel ons dit klaarblyklik vermy om oor rassekwessies te praat - behalwe by wyse van politieke retoriek en swetsend op sosiale media - is ras, na byna 20 jaar van demokrasie, steeds die kern van ongelykhede en verdeeldheid.
‘n Onlangse rubriek deur die Sowetankoerant (“React to Racism”, Sowetan, 7 Oktober 2013), het aangevoer dat wit Suid-Afrikaners rassisme op dieselfde wyse moet veroordeel as wat swart Suid-Afrikaners (sonder uitsondering die slagoffers van rassime, aldus die Sowetan) dit doen. Die rubriek het ook aangevoer dat wit Suid-Afrikaners voorvalle van rassisme behoort te veroordeel, aangesien voortgesette versuim om dit te doen, aldus die rubriek, die indruk wek dat hulle rassistiese voorvalle goedpraat, apaties is daaroor of nog nie die waardes van nie-rassigheid wat in ons Grondwet verskans is, ten volle waardeer of aanvaar het nie. Die feit is dat sommige Suid-Afrikaners nog nie die waarde van nie- rassigheid wat in ons Grondwet verskans is, begryp of aanvaar het nie. Dít is beslis nie beperk tot ‘n spesifieke rassegroep nie. Hoe vreemd dit ookal mag klink, rassisme en nie- rassigheid ken nie kleur nie. Slagoffers van rassisme is oor die algemeen nie beperk tot enige spesifieke groep mense nie, en die oortreders verteenwoordig ongelukkig alle skakerings van ons reënboognasie.
Gegewe ons verlede behoort wit Suid-Afrikaners inderdaad, net soos ander Suid-Afrikaners, luidleeks hulle self teen rassisme en enige optrede wat op rassisme neerkom, uitspreek. Die Sowetan se aanname dat alle swart Suid-Afrikaners egter uitgesproke is wanneer daar teen wit, bruin of Indiër Suid-Afrikaners gediskrimineer word, is dalk ‘n bietjie dik vir ‘n daalder. Nietemin, daar is geen plek vir rassisme in ons samelewing nie. Ons almal moet rassisme veroordeel, nie net wanneer ons die slagoffer van sodanige onwaardige en ongrondwetlike optrede is nie, maar ook wanneer en waar ook al dit mag voorkom, en deur wie ook al dit gepleeg mag word. Dit is nie net die geval ten opsigte van openbare veroordelings nie, maar ook die wyse waarop ons in ons onderskeie gemeenskappe handel en wandel. Dít is waar elke Suid-Afrikaner, as ‘n individu, die vermoë het om, ten goede óf tot nadeel, die daaglikse lewens en persepsies van mekaar te beïnvloed. Indien Suid-Afrikaners, ongeag van ras, stilbly oor voorvalle van rassisme en diskriminasie kan dit wel beskou word as apatie, of selfs erger, as stilswyende goedkeuring. Ofskoon wetgewing en beleid ‘n groot rol kan speel by die bereiking van gelykheid, kan dit ook allermins diskriminasie tot gevolg hê. Dit is egter ons individuele optrede - daardie optrede wat ‘n ander persoon se menswaardigheid misken - wat in wese die grootste skade in ‘n samelewing veroorsaak.
Ons moet in besonder daarteen waak om nie in ons pogings om rassisme te veroordeel, rasseverdelings verder aan te hits nie. Dit gebeur heel gereeld by wyse van ondeurdagte opmerkings en aanmerkings in ons onderskeie omgewings, maar ook polities-gemotiveerde uitlatings en stellings deur politici. Wanneer dit gebeur word ras ‘n emosionele skild waaragter werklike en gemene bekommernisse verdoesel word. Die bedreiging van die oppergesag van die reg, die gebrek aan verantwoordbaarheid, deursigtigheid en ‘n responsiewe ingesteldheid in die regering, korrupsie en die versuim om geskikte onderwys- en gesondheidsdienste te lewer as, het allermins weinig met ras uit te waai. Dit is eerder swak beleid en selfs swakker leierskap wat in daardie geval die skuld moet kry.
Menswaardigheid en gelykheid bly egter vir baie van ons steeds bloot woorde wat in die Grondwet geskryf staan en waarop ons min ag slaan in ons daaglikse lewensverloop. Ons sal hiervan moet werkmaak want in ons strewe na gelykheid en nie-rassigheid - en ‘n land waarin elkeen met waardigheid behandel word - moet ons deurgaans bewus wees van, en waak teen, ons subjektiewe aannames, vooroordele en persoonlike beskouinge. Die neerhalende en rassistiese verwysings na mekaar dui eenvoudig op individuele verwysingsraamwerke en beskouinge wat weier om te verander. Onlangse voorbeelde in die nuus sluit onder meer in die optrede van die Laerskool Wilgehof onderwyser, Lenard MacKay, wie se uitlatings teenoor leerlinge onlangs deur die Menseregtekomissie as rassisties en haatspraak verklaar is; ‘n beweerde rassistiese opmerking deur Steyn van Zyl wat hom sy werk by KPMG gekos het; President Zuma se flater-verwysing na “witmense se regstelsel”; en Julius Malema se knaende en herhaalde uitlatings oor wit Suid-Afrikaners wat grens aan aanhitsing van geweld teenoor laasgenoemde, sowel as rassehaat. Die Sowetan se gebruik van die term “white-led organisations” (organisasies wat klaarblyklik deur wit mense gelei word), is moontlik ook ‘n goeie voorbeeld van hoe ons nie in die strik van stereotipering moet trap nie. Hulle verwysing sluit tog immers ook die nasionale departemente van handel en nywerheid en toerisme in, nie waar nie?
Ons gaan sonder twyfel eers die vrugte pluk van ‘n werklike nie-rassige samelewing - ‘n samelewing waarin diskriminasie op grond van ras geen plek het nie - wanneer ons die grondwetlike waardes van, en regte op, menswaardigheid en gelykheid werklik verstaan en dit onderskryf. Ons sal oor ras en nie-rassigheid moet praat ten einde verkeerde aannames en skewe veronderstellings ten opsigte van mekaar reg te stel. Ons moet verkieslik nie hierdie gesprekke aan politici alleen oorlaat nie aangesien die uitlatings van onderskeie politieke partye wat daarop gemik is om ondersteuning by die stembus te kry, soms die wig selfs verder indryf in plaas van ‘n samelewing nader aan mekaar te bring. Hóé ons met mekaar praat is wat deurslaggewend sal wees - verkieslik met wedersydse respek en die oog op versoening en nasiebou. In hierdie verband moet ons moet bewus wees van hoe ons optrede en keuse van woorde - en soms ons stilte - deur ander beskou word. Wanneer ons dit regkry om opreg met mekaar te praat en ons vooropgestelde idees eenkant toe skuif, sal ons dalk verbaas wees om te vind dat die meeste Suid-Afrikaners in ‘n waarlik gelyke samelewing glo en daarna streef. Ons mag wel steeds baie verskille hê, maar een ding het ons sonder twyfel in gemeen: ‘n gemeenskaplike toekoms. Of daardie toekoms ‘n samelewing sal inhou wat verenig of verdeeld is, gaan van elkeen van ons afhang.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: Vermin Inc / Foter.com / CC BY-NC-SA